Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die heeltydse afbrekers het geen bouplan

Things fall apart, the center cannot hold.

More anarchy is loosed upon the world,

The blood-dimmed tide is loosed, and everywhere

The ceremony of innocents is drowned.

The best lack all conviction, while the worst are full of pas­sionate intensity.”

Barnard Beukman

Dié uittreksel uit William Butler Yeats se gedig “The Second Coming” is in 1919 so tussen allerlei groot oorloë deur geskryf.

Maar bekyk ’n mens vandag die wêreldtoneel, selfs ons eie verkiesingsveldtog, en les bes die poging om popsterre se borgvetes ’n debat oor Afrikaans te maak, is dit steeds baie geldig.

Selfs die antieke Griekse filosowe en ou Franse filosowe het oor die noodsaak van die instandhouding van ’n soort gelykmatige middelgrond gedink. Dít om ’n polarisering na die ekstreme pole te voorkom. Sommige van hulle het hul idees van die balans en skeiding van magte in demokratiese strukture met dié motief ontwikkel.

Miskien is dit juis omdat die middelgrond volgens sommige ontleders ’n deurmekaar, onoortuigende en futlose omgewing geword het dat daar so na die kante getrek word. En as grondwetlike strukture openlik deur leiers ondermyn en van geloofwaardigheid ontneem word.

Dit is mense se reg om hulself volgens oortuiging te posisioneer. En om gemakliker in duidelik belynde beginsels en standpunte te voel. Die probleem is wel die amper varklike onverdraagsaamheid wat daarmee gepaardgaan. As jy nie met my saamstem nie, verskree en beledig ek jou onmiddellik.

Want oor een ding het links en regs konsensus – jy kan net een van hulle wees en hulle het mekaar o, tog so nodig om hulself te definieer. Daar is net geen wil om eens te luister of alternatiewe in enige vorm van ’n sinvolle debat te oorweeg nie.

Die kampe is ook nie altyd links of regs nie – jy kan byvoorbeeld net vir of teen Brexit wees. Die stomme Theresa May word soos ’n haas deur Engelse jaghonde uitmekaargeskeur oor enige ander uitweg. En die onmiddellike reaksie op Joe Biden se kandidatuur vir die Withuis is dat hy te sentristies vir die al hoe linkser Demokrate is.

Die uitstekende ontleding van Ivor Price, een van Afrikaans se voorste woordsmede, in sy onlangse rubriek is nog ’n voorbeeld. Hy meen die Ghoema-debakel gaan nie eintlik oor Afrikaans nie, maar oor een ou wat homself in ’n hoek vasgeverf het. (Gee Steve dit gelyk, hy het aanvaarbaar met Ivor daaroor in debat getree.) Maar baie van die meegaande vlooie het anders gespring: Hulle wil Afrikaans deur belediging in stand hou. Inderdaad hoef nie almal dit met Ivor eens te wees nie, maar hoe?

Nou praat ons nog nie eens oor die EFF en BLF nie. Enige persoon wat komplekse werklikhede met realisme probeer pak, word ’n teiken. Soos Cyril Ramaphosa, sommer vanuit die ANC? En deesdae ook die DA?

Volgens Aristoteles is moed ’n deug, maar in oormaat roekeloos en in onversetlikheid lafhartig. Dis die probleem: Die heeltydse afbrekers het geen bouplan nie.

  • Beukman is redakteur van Beeld
Meer oor:  Barnard Beukman  |  Wêreld  |  Rubriek  |  Mening  |  Brexit  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.