Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die hond wat opgelei is om dood te voorkom

Melanie Basson het die skaars, gevaarlike tipe 1-diabetes. Haar windhond Hazel is opgelei om haar te waarsku indien haar bloedsuikervlak te laag sou daal. Só word ’n diabetiese koma en moontlik die dood voorkom, skryf Riette Rust.

Melanie Basson en Hazel die dienshond. Foto: Facebook

Ek ontmoet vandag ’n koningin. Al verskil tussen haar en die Britse monarg is die leiband.

Hazel kom aangetrippel, voete hoog gelig soos ’n skouperd s’n. Sy is statig, vorstelik. Sprekend van selfvertroue. Vandag behoort Tamboerskloof aan haar.

“Mag ek aan haar streel?”

“Nee,” sê Melanie Basson (40) van Vredehoek beslis. Sy is die windhond se eienaar.

Niemand anders mag ook om Hazel “koer” nie.

Vrou en hond maak hulle op die koffiewinkel se stoep tuis. Van naderby sien mens eers die mediese teken en die woorde Do Not Touch op Hazel se lyfband. “As almal aan haar sou streel, kan sy later dink sy is ’n troeteldier, nie ’n werkende hond nie.”

Nie net siggestremde mense span sulke honde in nie, maar ook lyers aan onder meer alzheimersiekte, outisme, epilepsie of depressie. Epilepsielyers word vooraf van ’n aanval gewaarsku en kan betyds hulp kry. Depressielyers word soggens daaraan herinner om op te staan en ook om hul medikasie te neem.

Melanie sprei ’n duvet op die stoep oop. Die koningin kry ’n bak water. Sy kyk op. Die skugterheid sit in haar oë. Maar daar is wysheid ook. Hazel kan immers ’n lewe red. Dis veel meer as wat ’n koninklike kind van net 14 maande kan sê.

Hoewel tipe 1-diabetes gewoonlik in die kinderjare posvat, is Melanie s’n eers in 2017 gediag­noseer. Sedert Hazel se koms, moet sy altyd aan haar eienaar se sy wees. Selfs daar waar sy as bestuurder in sagtewareontwikkeling werk. Ook op die vliegtuig.

Voor die diagnose was Melanie voortdurend moeg. Haar bene het gekramp, sy het pyn in haar sy gehad en erge nagmerries gekry.

Selfs al het sy liters water gedrink, was sy onlesbaar dors.

Die pyn kan psigosomaties wees, het ’n dokter gesê. Nog een het prikkelbare dermsindroom gediagnoseer. Maar Melanie het bly siek voel en is self apteek toe vir ’n bloedsuikertoets. Waar die ideale glukosetelling tussen 4 en 6 millimol per liter bloed is, was hare ’n hoë 27.

“Ek kon dood gewees het!” sê sy, van vooraf geskok. Sy is onmiddellik in die hospitaal opgeneem. “Terugskouend weet ek die pyn is veroorsaak deur my immuunstelsel wat die insulien-produserende selle in my pankreas vernietig het.” Deesdae staan ’n hele span mediese spesialiste haar by.

Kom dit by opleiding, is ras nie belangrik nie. Selfs ’n pavement special met die regte temperament kan geskik wees.

Sedertdien bestuur en beheer sy haar outo-immuunsiekte noukeurig. Kwartaallikse toetse dui aan dat haar bloedsuikervlak binne die normale perke is. “Tog kan dit enige tyd verander.”

Melanie prik sowat tien keer per dag haar vinger om die balans tussen haar glukose- en insulienvlakke te toets.

Soms is Coke of Super-C-tablette nodig om haar bloedsuikervlak te verhoog. Insulien word met inspuitings aangevul. “Ek het nie gedink ek sal myself ooit kan inspuit nie, maar as jou lewe daarvan afhang . . .”

Sy hou haar dieet versigtig dop. Dit sluit beperkte hoeveelhede proteïen, vet en koolhidrate in.

Ná haar diagnose het Melanie oor dienshonde gelees en vir Lucy Breytenbach van Honey’s Garden for Medical Alert Dogs in Tableview, Kaapstad, genader.

Dis ’n organisasie sonder winsbejag. Mens betaal daarom net vir die hond se opleiding, maar R50 000 was te veel vir Melanie se begroting, sê sy.

’n Jaar later het Lucy haar van ’n moontlike borgskap laat weet. Potensiële kandidate moes ’n e-pos ter motivering skryf. Melanie, wat snags moet opstaan om haar bloedsuiker te toets, skryf toe onder meer: “Die moontlikheid van ’n dienshond vir diabete wat tot ’n groot mate lewenslange onderbroke slaap sal beëindig, verbyster my.”

’n Week later het Hazel ingetrek. Sy kom goed oor die weg met die huiskat en met Melanie se vriend wat kom kuier.

Maar hoe weet Lucy ’n potensiële eienaar is die regte kandidaat?

“Want ek het matching skills,” sê sy laggend. “Op die aansoekvorm moet jy aandui of jy alleen woon, wat jou inkomste is (jy moet geskikte hondekos kan bekostig), jou leefstyl, tipe werk, aktiwiteite en of daar ander diere tuis is. Dit werk byna soos ’n dating site!”

grafika

Melanie se ouers, Coen en Thina Basson, is veel meer gerus oor hul dogter. “Dit roer ons diep dat ’n anonieme skenker vir Hazel in Melanie se lewe ‘inge­seën’ het,” sê Thina.

Hazel en Thina deel op 26 Augustus ’n verjaardag. “Sy het ’n pragtige persoonlikheid en uitbundige aptyt,” sê Thina. Dít terwyl Hazel nes die maer honde van Jacques-Laurent Agasse se Greyhound-skilderye lyk.

Tans het Honey’s Garden sowat 15 dienshonde vir diabete opgelei. Hulle verwelkom borgskappe, “want dié honde kan soveel lewens red. Die behoefte is ontsaglik groot,” sê Lucy.

Kom dit by opleiding, is ras nie belangrik nie. Selfs ’n pavement special met die regte temperament kan geskik wees.

Hazel is deur Sighthound Rescue in Kaapstad gered en daarna vir ’n jaar lank deur Honey’s Garden opgelei.

Dienshonde moet opgelei wíl word om hul eienaar te behaag. Hulle moet met mense kan sosialiseer, ontspanne wees en nie te sensitief vir klank of reuke wees nie. Empatie is ewe belangrik, sê Lucy. Voor uitplasing moet hulle verskeie toetse slaag, soos om in openbare plekke te kan aanpas, nie lastig te wees nie en gehoorsaam te wees.

Hazel en Melanie word steeds opgelei, “want ek is nie ’n professionele hondehanteerder nie,” sê sy. Sy moes leer watter bevele om te gee en die twee moes gemaklik met mekaar raak. “Dit kan ons ses maande neem om as eenheid te funksioneer.”

Melanie het intussen geleer om haar speekselmonsters met ’n wattestokkie te neem en dit dan te vries. Só leer Hazel om spesifieke reuke van ’n te lae bloedsuikervlak te herken.

Sy raak dan net vir ’n oomblik met een poot aan haar eienaar. Saggies. Meestal aan haar been.

Dit is ook moontlik om vir Hazel te leer om hoë bloedsuiker uit te snuffel, sê Lucy. Hoë vlakke is egter nie so lewensbedreigend soos ’n te lae vlak nie. “Wat vir een persoon te hoog is, is ook nie noodwendig vir iemand anders te hoog nie.”

Honde is olfaktories meer ontwikkeld as mense, hulle kan ook aan jou asem of sweet ruik of jou bloedsuikervlak te laag is. Hulle is akkurater as ’n apparaat wat vir dié doel ingespan word.

’n Dier wat ’n mediese diens lewer dra altyd ’n baadjie wat aandui dis ’n “diensdier” met “Moet nie aanraak nie” daarop geskryf.

Snags is die risiko van ’n koma groot. “Daar is selfs ’n sêding oor tipe 1-diabetes: Dead in Bed, oftewel DIB. Dis hoe gereeld dit gebeur.” Hazel sal daarom leer om vir Melanie wakker te maak. Tans stap die twee snags saam badkamer toe.

Behalwe vir die verkeer in Kloofnek, is dit stil op die stoep.

Openbare plekke is oor die algemeen heel toeganklik vir dienshonde, sê Melanie. Sy en Hazel is wel toegang tot ’n deli en apteek geweier.

“Dit was aaklig. Gelukkig laat die personeel van die apteek waarheen ek gewoonlik gaan, nie net vir Hazel toe nie, hulle is altyd baie bly om haar te sien.”

Omdat windhonde skaarserig en uniek is, lok sy baie reaksie uit. Melanie deel graag inligting. Kennis oor dienshonde is oor die algemeen “maar beperk”.

Hazel blaf nou onophoudelik. “No, Hazel, no! Go to bed,” sê Melanie ferm en wys na die duvet. (Die hond is in Engels opgelei.) “Hazel moet weet ek is haar tropleier.”

Wanneer die hond uiteindelik rustig raak, kry sy ’n klein stukkie biltong of droëwors uit Melanie se handsak. Sy eet ook net fancy hondekos en net haar eienaar mag haar voer.

Vir ontspanning gaan die twee gereeld see toe sodat Hazel op die strand kan hardloop. Twee keer per dag word sy na ’n groot park geneem waar sy met ander honde kan speel.

Melanie sing graag vir Hazel wat dan styf teen haar kom lê. Met haar jazz-blues-folk-styl het sy immers al 50 000 likes op die musiekstroomdiens Joox gekry. Selfs uit die Ooste. Sy wil volgende jaar vir The Voice inskryf. “Hazel sal dan saam met my op TV wees.”

Melanie sê sy is besonder lief vir haar statige hond. “Ek glo trouens ons is vir mekaar bedoel. Een queen pas mos by ’n ander een!” sê sy en lag.

  • November is diabetesbewusmakingsmaand.
  • Rust is ’n vryskutskrywer.
Twee hooftipes diabetes

Tipe 1

Dis ’n outo-immuunsiekte wat gewoonlik in die kinderjare verskyn. Die liggaam vervaardig te min insulien, of glad nie. Dis onbekend waarom tipe 1-diabetes voorkom; dit word nie van ouer na kind oorgedra nie. Dis ook ongeneeslik.

Tipe 1-diabetes kan langtermynskade veroorsaak aan veral die oë, niere en hart. Die are kan verhard en tot ’n hartaanval en/of beroerte aanleiding gee.

Behandeling en noukeurige monitering is noodsaaklik. So nie, is ’n diabetiese koma en die dood ’n groot moontlikheid.

’n Gesonde leefstyl en aanvullende insulien dien as behandeling.

Tipe 2

Die liggaam vorm nie insulien nie, of gebruik dit nie op die regte manier nie. Medici praat van insulienweerstandigheid.

Tipe 2-diabetes kom meestal onder volwassenes voor. Een uit elke vier weet nie eens hulle het dit nie. Daar is nie simptome nie, of dit ontwikkel geleidelik.

’n Kombinasie van faktore kan ’n rol speel, waaronder gene, oorgewig of vetsug, en metaboliese sindroom (hoë bloedsuiker, hoë bloeddruk, te veel vet om die middellyf en hoë cholesterol).

Tipe 2-diabetes kan voorkom of genees word deur gesonde leefstylgewoontes.

Indien gewigsverlies, gereelde oefening en ’n lae vet/hoëveseldieet nie die gewenste effek het nie, word medikasie (daar is verskeie middels) en soms insulienaanvullings ingespan.

  • Bykomende bronne: iol.co.za; webmed.com; healthline.com; mayoclinic.org en Netwerk24.

    Meer oor:  Hond  |  Diabetes
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.