Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die honger na grond kom ’n lang pad

Die honger na grond om van Zwelihle ’n gelukkiger plek vir al sy inwoners te maak, het in 30 jaar nie afgeneem nie, maar toegeneem, skryf MC Botha.

MC Botha

Nelson Mandela was 36 jaar oud en nog ’n vry man (hoewel hy al getroud was) toe hy in September 1955 Zwelihle by Hermanus besoek het as deel van ’n ANC-veldtog om steun vir dié party te werf. Sy besoek moes vrugte afgewerp het, want in landwye optogte daarna om teen die gehate dompasstelsel te betoog, het inwoners van Zwelihle hul deel bygedra deur en masse na die landdroskantoor op Hermanus op te ruk.

Die wit dorpenaars sou dié protesoptrede ongetwyfeld met net soveel onbetrokkenheid gade geslaan het as meer as ’n halfeeu later se gereelde opmarse na die dorp.

In teenstelling met die eerste optog wat vreedsaam was, is vandag se opstande meestal gewelddadig: die polisie word met petrolbomme bestook en voertuie word aan die brand gesteek, soos dit landwyd mode geword het.

Om te baklei vir meer grond en beter behuising is duidelik ’n ernstiger saak as wat dit vir jou voorsate was om verontwaardig te raak omdat hulle ’n pas oral moes ronddra net omdat hulle swart was.

Afrika is nie vir sissies nie.

’n ‘Wit’ permit

Ek was maar een jaar oud ten tye van Mandela se besoek aan Zwelihle, maar hy was al veilig op Robbeneiland weggesluit toe ek in die hoogbloei van apartheid dit durf waag het om my jong bleek voetjies in Zwelihle te sit. En amper het ek self in die tjoekie beland!

Soos swartes destyds ’n pas moes dra om wettig in wit gebiede te wees, moes wittes ’n permit hê voordat hulle in Zwelihle kon ingaan.

Zwelihle het toe – in die mid-1970’s – onder bestuur gestaan van die Suidwes-Kaapse Bantoe-administrasieraad, wie se kantore in Stilstraat net langs die township was. Soos swartes destyds ’n pas moes dra om wettig in wit gebiede te wees, moes wittes ’n permit hê voordat hulle in Zwelihle kon ingaan. Daar was inderdaad ’n hek by die toegangspunt na Zwelihle met ’n enorme kennisgewingbord wat wittes waarsku dat hulle die gebied onwettig betree indien hulle nie vooraf toestemming kry nie. Die redenasie was dat geen blanke met gesonde verstand in elk geval daar sal wil in nie.

Al wat ek daar binne wou gaan kry, was die uitslae van die afgelope Sondag se sokkerwedstryde vir daardie week se Hermanus Times. Maar die spioene het my van hul skuiling in Stilstraat dopgehou en geweet ek het nie ’n permit nie (’n mens moes eers daar stilhou om een te kry), en hulle het net gewag totdat ek die township uit is voordat hulle in hul vangwaentjie aangejaag gekom het om my in hegtenis te neem.

Die uitsig oor die seefront by Schulphoek.Vir mense met geld is dié grond baie werd – ’n leë erf hier sou lag-lag vir miljoene van die hand gesit kon word.Foto: MC Botha

Armes wil binneland toe kyk

Mettertyd is instromingsbeheer afgeskaf en Zwelihle het uit sy nate begin bars. Teen die mid-1980’s het die township gegrens aan die Walkerbaai Vliegklub, ’n toerismetrekpleister waarvan die aanloopbaan pas aansienlik verbeter en vergroot is. Selfs Flossies kon nou kom land en opstyg. In ’n vlaag brandstigtings is die klubhuis, loods en ’n paar vliegtuie egter weldra verwoes, sodat die immer groeiende getal dakloses hul sink- en plastiekstrukture op die vliegveld kon gaan oprig.

Die plaaslike owerheid kon maar net magteloos toekyk, want daar was toe geen Rooimiere op wie se knoppies jy kon gaan druk nie.

Vir mense met geld is dié grond baie werd – ’n leë erf hier sou lag-lag vir miljoene van die hand gesit kon word, maar grondhongeres het die rykes voorgespring.

Daardie honger na grond om van Zwelihle ’n gelukkiger plek vir al sy inwoners te maak, het in 30 jaar nie afgeneem nie, maar toegeneem. Nuwe sinkhuisies gaan daagliks op en erwe is al afgepen tot teenaan die kuslyn op die omstrede stuk grond net bekend as Schulphoek – ’n naam te danke aan die gehate eerste Hollandse nedersetters.

Vir mense met geld is dié grond baie werd – ’n leë erf hier sou lag-lag vir miljoene van die hand gesit kon word, maar grondhongeres het die rykes voorgespring. Ironies front nie een van die enkele huisies wat tans teen die see staan, seewaarts nie. Die armes wil binneland toe kyk.

Helaas het die destydse posmeester-generaal, Louis Rive – wat as “verlig” beskou is – een Desember in die vorige eeu tydens sy optrede as gasspreker by die algemene jaarvergadering van die Walkerbaai Hengel- en Bewaringsvereniging, lede gewaarsku dat hulle moet waak daarteen “dat ’n tweede Soweto op jul agterstoep tot stand kom”.

Niemand het hom ernstig opgeneem nie.

*Hierdie rubriek het vantevore in die Hermanus Times verskyn. Die opinies in dié rubriek is dié van die skrywer en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Mc Botha  |  Grond  |  Zwelihle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.