Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die hoofakteurs word byspelers
Johann Maarman

Een van my oudredakteurs laat weet ná die soveelste droefnis wat die Covid-19-pandemie meegebring het dat hy tydens die eerste vlaag min mense geken wat aan Covid gesterf het. Nou, met die tweede vlaag, slaan die droefheid na aan hom. Meer mense wat hy ken, het nou weens Covid gesterf.

Ons albei is bewus van die oudkollega wat binne die bestek van ’n week dubbeld geslaan is. Eers sterf sy vrou. Toe sy dogter. Albei aan Covid. My oudkollega is tam en in ’n kort sin laat weet hy hartseer: “Ek het nou twee van my mense verloor.”

’n Ander kollega moes ook haar man groet. Twee dae later sterf haar skoonmoeder en weer kom haal die koetsier (Breyten Breytenbach se woord) iemand na aan haar.

In my tuisdorp sterf ’n vriend se seun. Twee dae later groet hy ook hierdie aardse wêreld. Voor ’n mens nog met sy vrou kon simpatiseer oor haar man en seun se dood, sterf sy ook vier dae later. Driedubbele tragedie. Dit ruk die hart uit ’n gemeenskap uit.

Een van my vriendinne – ’n skrander skooljuffrou – het ook twee dae gelede die stryd teen Covid verloor nadat sy drie weke in die hoësorgeenheid was van ’n hospitaal. Vroeër in die maand het sy nog ’n hartroerende inskrywing op sosiale media gedoen dat mense waaksaam moet wees teen die koronavirus.

Nader aan die huis het ek self die koue hand van die dood ervaar toe my sonneblom-kind enkele minute voor ons die Nuwejaar sou inloop en vier, sterf aan Covid. In wese was sy nie my bloed en vlees nie, maar dit was die kind wat haar gemaklik tuis gemaak het in my bed en aangedring het dat sy aan my kant van die bed slaap. Sy het in ’n stoel gesterf terwyl die nooddiens-werkers besig was om hul beskermende klere buite die huis aan te trek. Helaas, was dit te laat.

Tussen deur al die hartseer en pyn staan jy van die kantlyn af en kyk hoe politici se hare orent staan vir mekaar oor die hantering van die koronavirus-pandemie.

Ons kon darem haar gunstelingblomme – sonneblomme – op haar graf sit nadat haar kis ter aarde bestel is. Ons het altyd geweet sy was ’n sprankelende kind, maar die enorme aantal lewens wat sy aangeraak het, het mens aangegryp.

Gister het Suid-Afrika ook afskeid geneem van Jackson Mthembu, minister in die presidensie. Iemand wat in die voorste linie geveg het teen Jacob Zuma en sy kohorte.

Tussen deur al die hartseer en pyn staan jy van die kantlyn af en kyk hoe politici se hare orent staan vir mekaar oor die hantering van die koronavirus-pandemie.

Dit is asof politici hierdie pandemie gebruik om vir mekaar te wys wie se pinkie die dikste is en wie kan vir wie ’n das omsit met allerhande slimmighede. Dit is ’n geveg wie die entstof moet aankoop en versprei. Wat maak dit saak? Hoekom moet daar ’n beheervraat wees? Hoekom moet alles wat die regering ook probeer doen om die pandemie te beveg, met soveel agterdog bejeën word? Waar is die gemeenskaplike doelwit en eindpunt? Waar is die kohesie tussen die politieke partye om hierdie pandemie saam-saam hok te slaan?

Natuurlik laat die regering se entstof-planne veel te wense oor, maar is dit nodig om mekaar se ore van die kop af te skree?

Tussen al die politieke gerumoer is daar gesinne, families wat deur erge trauma gaan, maar dit lyk asof ons net byspelers is in hierdie toneel. Hele gesinne is uitgewis, kinders is wees gelaat en families het soveel verdriet.

Hoe sou ek nie wens dat die entstof al hier in Suid-Afrika was nie. My sonneblom-kind kon dalk nog geleef het as ons net betyds hierdie entstof kon verkry. Dit behoort ons eerste prioriteit te wees. Nie wie op strande behoort te wees of nie.

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Johann Maarman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.