Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die horlosie met ’n hart en kloppende kussings

Die inperking het grense gebring, maar ook grense verskuif. In dié nuwe tyd waar jy aan niemand mag raak nie, is daar wel maniere hoe jy die afstand kan oorbrug, skryf Erla-Mari Diedericks.

Erla-Mari Diedericks

Dis ironies. Jy mag nie aan mense raak nie sodat jy nie siek word nie. Geen drukkies, geen handdrukke (nie dat ek dit mis nie) en geen gesoenery nie.

Maar . . . mense word juis siek as hulle nie genoeg aanraking kry nie – en dit is wetenskaplik bewys.

Sonder om te tegnies te raak, word aanraking opgetel deur jou senupunte wat weer goedvoelhormone vrystel. Aanraking kan help om stres te verminder en ons almal weet tog – ’n hand wat joune vashou, kan kalmerend wees, ’n drukkie kan die trane laat opdroog, ’n soentjie op ’n stukkende knie kan wondere verrig.

Maar nou mag ons nie vat nie, nie raak nie, nie soen nie, nie druk nie. Vir die eerste keer gee ek en my ma nie vir mekaar drukkies nie.

Mense wat alleen is, soos ek, kan jou vertel dat jy allerhande truuks doen om aanraking en drukkies te kry. Soos om jou kind van agter te bekruip en hom te druk. My katte was nog nooit so baie gedruk en stukkend gesoen soos nou nie. Dik gevry, noem ons Afrikaners dit.

Ek is nie heeltemal seker of my katte mal is oor al hierdie soentjies en drukkies nie, maar ek gee nie om nie. My lyf het dit nodig.

Die afgelope tyd kan ek voel ek raak vreemd. Hou die katte die hele tyd vas. Kry verskriklike nagmerries. Angs. Wil vir ure in die bad lê. Dis alles teken van velhonger. En ek kruip net al hoe meer weg vir mense. Nog ’n simptoom.

Daar is ’n hele paar produkte op die mark wat ’n antwoord bied vir die behoefte aan afstandaanraking.

Dis nie net ek wat hiermee sukkel nie. Die inperking is wêreldwyd en die hongerte kom sit onder elkeen van ons se vel.

Aanraking hoef egter nie vel tot vel te wees nie. En dis waar tegnologie inkom. Daar is ’n hele paar produkte op die mark wat ’n antwoord bied vir die behoefte aan afstandaanraking. En voordat jy jou neus daarvoor optrek, onthou nie almal het die luukse om saam met hul geliefdes te woon of te wees nie.

Dié produkte is aanvanklik ontwerp vir langafstandverhoudings, maar nou met Covid-19 wat tussen ons rondsluip, is afstand iets wat almal aan hul lyf voel.

Hier is ’n paar van die bestes:

* Die liefdeslamp

Die liefdeslamp kom in verskillende vorme en grotes en bestaan al ’n hele ruk. Basies werk die lampe – wat in ’n stel van twee gekoop word – via Bluetooth en word die twee lampe met mekaar verbind.

Dis hoe dit werk: Wanneer jy die ander persoon wil laat weet dat jy aan hom of haar dink, skakel jy jou lampie aan. Dit sal dan onmiddellik in die ander persoon se huis aanskakel – al is julle vastelande van mekaar verwyder.

* Die armband wat jou aanraak

Bond Touch is een van die handelsmerke daarbuite, maar basies werk al dié armbande dieselfde: Jy en jou geliefde dra elk ’n armband wat via Bluetooth verbind is. As jy jou geliefde wil aanraak, druk jy ’n knoppie en die armband stimuleer dieselfde drukking en gevoel as ’n hand op jou arm wat jou ’n drukkie gee.

* Die horlosie met ’n hart

Apple Watch het ’n funksie waar jy jou hartklop vir iemand kan stuur. Dit werk ongelukkig net as julle albei ’n Apple Watch het.

Basies hou jy twee vingers op die skerm, wat dan jou hartklop optel en dit – in die vorm van ’n rooi, polsende hart – aan die ander persoon stuur. Nie net kan jou geliefde die kloppende hart sien nie, maar ook die vibrasies voel.

* Die kloppende kussing

Die sogenaamde Heartbeat Speaker vat die konsep van ’n hart wat custard klop vir ’n geliefde nog ’n stappie verder. Basies plaas jy ’n klein luidsprekertjie (wat met jou foon verbind is) onder jou kussing en ’n spesiale armband om jou pols.

Dit tel dan jou hartklop op en stuur die kloppende klankbaan via jou foon na die geliefde. So kan jy rustig gaan slaap met jou geliefde se hart al kloppende in jou ore.

’n Ring vol romanse

Die HB-ring werk baie soos die Apple Watch en stuur die vibrasie van jou hartklop na die ander persoon wat die ring se maat dra.

Jy kan natuurlik ook ’n hartklop in die stelsel bêre en – hartseer, maar waar – na ’n geliefde se hartklop luister lank nadat hulle nie meer met jou is nie.

’n Soen-SMS

In hierdie dae waar sopperige soene en soentjies blaas iets van die verlede is, kan mense altyd die Soen-SMS, oftewel die Kissinger probeer.

Dit bestaan basies uit ’n silikoonbasis wat jy op jou lippe druk as jy die persoon met wie jy op die foon praat, wil soen. Die vibrasies en drukking word deur sensors opgetel en so kan jy dit voel.

Nie een van hierdie dinge is natuurlik ’n plaasvervanger vir vel nie.

Maar tog . . .

Agter aanraking sit emosie. Liefde. Omgee. Emosies wat ’n mens kan aanvoel, selfs al is jy 1 m of duisende kilometer van iemand af.

Want emosies ken geen perke nie.

* Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.