Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die ironie van nuwe name waar staat misluk

Dit blyk die fantasie van beheer deur naamsverandering loop veral sterk waar politici en regeringsamptenare al lank in hul ander take faal, skryf Christi van der Westhuizen.

Die Donkin-gedenkteken in Port Elizabeth. Foto: Getty Images

Wanneer die wind van voor is, en dinge oënskynlik in duie begin stort, hoe lyk dit met ’n rits nuwe plekname? Blykbaar kom die idee om Oos-Kaapse name te verander al ’n klomp jare aan, maar dit val veral tans vreemd op te midde van ’n gekombineerde pandemie en ekonomiese noodsituasie.

Dit laat ’n mens wonder of naamsverandering vir sommiges die gevoel gee dat hulle darem nog oor iets beheer het, al is dit net oor hoe na ’n plek verwys word. Maar nie eens dít is klinkklaar nie, geskat aan Kapenaars wat nog steeds na Gautengers as “Valies” verwys.

Die amptelike voorstel – dit kan blykbaar nog teengestaan word – is dat Port Elizabeth eerder Gqeberha moet wees, en King Williamstown eerder Qonce, terwyl Uitenhage nou Kariega behoort te heet. En die Port Elizabethse lughawe behoort na Khoi-leier Dawid Stuurman vernoem te word.

Dit blyk die fantasie van beheer deur naamsverandering loop veral sterk waar politici en regeringsamptenare al lank in hul ander take faal. Plekke in Suid-Afrika wat veral hernoem word, is dié wat ál meer sukkel. Staatskapasiteit verkrummel in die meer landelike provinsies soos Limpopo, Noordwes en die Oos-Kaap. En opvallend is dit veral dié provinsies wat aan naamsveranderinge onderwerp word.

Ironies, nè. Naamsverandering gaan daaroor om die uitwissing van inheemse mense se geskiedenisse te help korrigeer. Maar net soos die staat ernstig misluk, kry die plaaslike verteenwoordigende struktuur van die staat ’n nuwe naam.

Die swak tydsberekening verskraal die belangrike bydrae wat nuwe name kan maak vanuit die oogpunt van die her-onthou van geskiedenisse wat grootliks onbekend of amper verlore is.

Dit het die onbedoelde effek om postkoloniale korreksies met mislukking te verbind. Die ironie versterk wanneer staatsmislukking veral die swaarste gevolge inhou vir daardie mense wat afhanklik van die staat is. Dit is die einste mense wie se geskiedenis deur die naamsverandering in ere herstel moet word.

Hierdie benadeelde mense se geskiedenis behoort nou beter onthou te word, wat ’n vermenslikende effek behoort te hê. Maar dit gebeur presies in die oomblik waarin die staat hul huidige brandende behoeftes misken op maniere wat verontmenslikend is.

Die Oos-Kaap is sekerlik die skreiendste voorbeeld hiervan in die tyd van die pandemie en ook daarvoor. Die sterftesyfer is die hoogste in dié provinsie, as ’n mens na die Mediese Navorsingsraad se opname van oortollige sterftes kyk. Hierdie opname tel bykomende sterftes in ’n jaar-tot-jaar-vergelyking. Dis die akkuraatste aanduiding van pandemie-verwante sterftes omdat Covid-19-sterftes ondergerapporteer word.

Die oortollige sterftesyfers suggereer dat Covid-19 dikwels nie as doodsoorsaak op die rekord gestel word nie, ook omdat baie Covid-19-siekes in die Oos-Kaap blykbaar by die huis doodgaan, eerder as in hospitale. Die rede hiervoor is die grootskaalse ineenstorting van die staatsgesondheidsektor reeds voordat die pandemie in die provinsie uitgebreek het.

Dit blyk baie Oos-Kapenaars vermy die staatshospitale, waarskynlik weens ’n gebrek aan vertroue in die stelsel. Die vertrouensbreuk word gereeld gestand gedoen, soos die miljarde rande se eise oor mediese wanpraktyke teen die provinsie wys. Dis met die onlangse tweede vlaag van die pandemie wéér gestand gedoen, want basiese behandelingsgeriewe soos beddens en suurstof was nie beskikbaar nie.

Te midde van dié werklikheid kan ’n mens die wrang reaksie op die naamsveranderings verstaan. Wanbesteding en korrupsie is ’n massiewe probleem in die Oos-Kaap, soos ook weer met die pandemie gewys, so die geldelike implikasies is deel van die kommer.

Swak tydsberekening van veranderinge

Die nuwe naam vir die lughawe in Port Elizabeth is deur die Khoi-gemeenskap van die Oos-Kaap voorgestel. Foto: Verskaf

Die swak tydsberekening verskraal die belangrike bydrae wat nuwe name kan maak vanuit die oogpunt van die her-onthou van geskiedenisse wat grootliks onbekend of amper verlore is. Veral die hernoeming van die lughawe na Stuurman is ’n nodige herstel.

Om Stuurman te onthou, dien as ’n herinnering aan die moed en deursettingsvermoë van die Khoi in die aangesig van koloniale oorheersing tydens die eerste helfte van die 19de eeu. Stuurman se verhaal illustreer hoe verwoestend kolonialisme op individue se lewens ingewerk het, ook as hulle dit probeer teenstaan het.

Hy is na Robbeneiland gestuur, vanwaar hy een van die min was wat ontsnap het. Maar hy is weer gevang en na Australië gestuur, waar hy in bannelingskap in die vreemde dood is.

Só het Stuurman in die vergetelheid verdwyn.

Huldig hulle en hul voorsate met naamsverandering, maar doen dit veral met ’n staat wat omgee, wat broodnodige dienste soos gesondheid behoorlik verskaf.

Die persoon waarna Port Elizabeth vernoem is, het die teenoorgestelde behandeling gekry omdat sy ’n imperiale Brit was. Die obskure Elizabeth Donkin is jonk dood in Indië, en haar voete het nooit eens aan Oos-Kaapse bodem geraak nie.

Maar haar man, Rufane Donkin, wat as Britse goewerneur in die Kaap waargeneem het, was vasbeslote dat haar naam verewig moet word. Die klein setlaar-nedersetting aan die Baakensrivier is rondom 1820 na haar vernoem. Donkin is terug Brittanje toe, waar hy later selfdood gepleeg het en in obskuriteit verval het, maar sy vrou se naam het vir twee eeue aan die ooskus van Suid-Afrika bly staan.

Die naam Uitenhage het ’n soortgelyke, amper onnoemenswaardige oorsprong. Dit was ’n deel van die familienaam van Jacob de Mist, wie se dogter as Augusta Uitenhage de Mist bekendgestaan het. De Mist was die kommissaris-generaal van die kortgeknipte Nederlandse herbesetting van die Kaapkolonie tussen 1803 tot 1806, onder die vaandel van die Bataviaanse Republiek.

Christi van der Westhuizen

Gqeberha is die Xhosa-woord vir die genoemde Baakensrivier wat steeds deur die middel van die stad vloei. Maar dit is veral as die naam van Walmer-township bekend, met die effens anderse spelling “Gqebera”. Gqebera het as ’n informele nedersetting in die 1920’s begin, gevorm deur mense wat werk in die naburige welgestelde dele van Walmer gesoek het.

Gedurende apartheid is die inwoners met gedwonge verskuiwing gedreig, maar Gqebera is vandag steeds daar. Hulle is die mense wat vir generasies op die periferie oorleef – die einste mense wie se geskiedenis van ’n moedige stryd om bestaan onder uiters moeilike omstandighede gehuldig moet word.

Huldig hulle en hul voorsate met naamsverandering, maar doen dit veral met ’n staat wat omgee, wat broodnodige dienste soos gesondheid behoorlik verskaf – ’n staat wat omstandighede help skep waarin mense nie net oorleef nie, maar met waardigheid lééf.

• Van der Westhuizen is ’n medeprofessor by die sentrum vir die bevordering van nierassigheid en demokrasie aan die Nelson Mandela-Universiteit. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.