Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dié Italiaanse populiste laat EU asem ophou
Leopold Scholtz

In die Europese Unie (EU) dreig ’n nuwe donderwolk aan die horison. Dit is die nuwe Italiaanse regeringskoalisie wat vandeesweek gesmee is.

Die partye in die regering is die Movimento Cinque Stelle (Vyfsterrebeweging, of M5S) en die Lega Nord (Noordelike Bond), wie se oortuigings die EU-hoofkwartier in Brussel by wyse van spreke op sy fondamente laat bewe.

Albei is populistiese partye, maar hul politieke oortuigings verskil aansienlik. Die M5S is, kortpad gevat, téén byna alles onder die son, maar dis moeilik om vas te stel waarvan hy ten gunste is. Hy weet nie mooi of hy links of regs van die politieke spektrum is nie. Die Lega Nord, daarenteen, is onbeskaamd regs, byna ekstreem regs.

In die verkiesing het M5S 33% van die stemme getrek en die Lega Nord 17%. Omdat die twee mekaar nie vertrou nie, het hulle ’n neutrale tegnokraat – ’n hoogleraar in die regte, die polities onervare Paolo Gentiloni – as premier aangewys.

Die twee partye het vandeesweek ’n regeer-akkoord bereik, waarvan verskeie aspekte kommer in talle EU-hoofstede wek.

Tog, die spook van Brexit dwaal steeds rond in die Europese wandelgange.

Die belangrikste is dat hulle ’n referendum oor Italië se voortgesette deelname aan die euro as gemeenskaplike geldeenheid wil hou.

Luidens ’n peiling verlede jaar oor die saak was byna tweederdes van die Italianers toe, ondanks bedenkinge, ten gunste van die euro, en die kanse lyk dus nie groot dat die teenstanders die pyp gaan rook nie.

Tog, die spook van Brexit dwaal steeds rond in die Europese wandelgange, en ’n mens kan seker wees dat ’n aantal EU-leiers nie te gerus oor die Italiaanse plan gaan slaap nie.

Nog ’n aspek van die regeer-akkoord is dat die partye – tipies populisties – hulle nie aan EU-reëls oor finansiële dissipline wil steur nie en geld soos confetti op ’n troue wil uitstrooi.

Onder meer wil hulle ’n basiese inkomste van R780 per maand aan alle werksoekers gee. Bowendien word die aftree-ouderdom, wat in 2011 weens die gemiddelde veroudering van die bevolking tot 67 verhoog is, weer 65 maak. En – soos die ANC met die bankrot SAL maak – wil die koalisie die steierende Alitalia met steun van miljarde orent hou.

Carlo Cottarelli, ’n Italiaanse ekonoom wat jare lank ’n hoë amptenaar by die Internasionale Monetêre Fonds was, het bereken dat die planne van die nuwe koalisie jaarliks tussen109 miljard en 125 miljard ekstra sal kos.

Dit beteken dat die huidige Italiaanse staat­skuld van 130% van sy bruto binnelandse produk vinnig verder sal groei.

Dis ’n tydbom onder die Europese ekonomiese gebou. Dis erger as die Griekse krisis van ’n paar jaar gelede toe die EU by wyse van spreke 2 mm van ’n afgrond omgedraai het.

Maar nou ja, dis wat jy kry as jy ’n populistiese regering aan die bewind bring.

Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Populiste  |  Italiaanse Regering  |  Eu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.