Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dana Snyman: Die jaar toe ons weer begin glo het in iets beter

Dit was die jaar toe ons so vermoeid en belas was, en al hoe meer wanhopig geraak het.

Die jaar toe alles soos Openbaring in die Bybel begin voel het. Die jaar toe Doris Day en Piet Botha dood is; en my pa en ma steeds dood was. Die jaar toe ons nuwe president nie alles kon doen wat ons wou hê hy moet doen nie: Laat smyt die korruptes en staatskapers in die tronk. Dank die lakses en luies af.

Die skrywer Dana Snyman.Foto: DENVOR DE WEE

Die jaar toe die moordenaars steeds gemoor en die verkragters steeds verkrag het. Die jaar toe byna nie een trein meer betyds geloop het nie en daar weer beurtkrag en droë krane was.

Die jaar toe party van dié wat vir ekonomiese vryheid vir die armes veg, hulle steeds vergryp het aan Breitling-polshorlosies, Johnnie Walker Black-whisky en hul eie grimmigheid.

Die jaar toe daar ’n waglys vir die nuwe BMW X7 was, en een uit elke agt mense in die land saans honger gaan slaap het, toe byna 30 000 werknemers van die staat meer as R1 miljoen per jaar verdien het, en hoeveel miljoen mense werkloos was.

Die jaar toe nóg mense Nieu-Seeland toe geëmigreer het, nóg Kanada toe, nóg na Steyn City in Gauteng. Die jaar toe sommige weer in 1975 se wit droom wou woon, kompleet met die oranje-blanje-blou wat wapper en “Die Stem” wat gesing word. Die jaar toe vele boikotters weer by die Spur begin eet het, maar hul dekodeerders laat afskakel en hul DStv-skottels van hul dakke geruk het om uiting te gee aan hul gevoel van misplaastheid in die land.

Die jaar toe baie steeds nie genoeg vertroue in hul eie gebede gehad het nie en weer opgetrek het na ’n byeenkoms van die prediker met die cowboyhoed wat maar weer ’n mondvol moeë woorde gehad het, en toe weer per helikopter weg is, en alles maar weer was soos dit is.

Die jaar toe ’n gewone NG predikant die mense van Coligny, waar groot spanning tussen wit en swart inwoners geheers het, bymekaar­gebring en hulle saam begin het om die slaggate in die dorp se strate toe te gooi en heel te maak wat stukkend is. Die jaar toe ’n gewone petroljoggie van Macassar ’n held geword het toe hy R100 vir ’n gewone meisie van Gordonsbaai gegee het om petrol in haar motor te gooi.

Die jaar toe derduisende gewone mense by ’n Facebook-groep aangesluit en mekaar begin vertel het van die goeie dinge wat ander vir hulle doen en hoekom hulle in Suid-Afrika wil bly woon. Die jaar toe die gewone weer ongewoon en mooi begin word het.

Die jaar toe, o, laat skakel weer daardie dekodeerder aan, die Springbokke die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan gewen het, en party van ons ’n bietjie minder soos setlaars in die land gevoel het, toe ou vrese vir ander besweer is, en sterwende woorde weer nuwe asem gekry het: Saamstaan. Samesyn. Welwillendheid.

Die jaar toe alles in die land nog dieselfde was, maar ons anders na mekaar begin kyk het. Die jaar toe ons weer begin glo het in iets beters vir almal in die land.

Meer oor:  Dana Snyman  |  Menings  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.