Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die jeug moet ons bekommer

Op 16 Junie het ons Jeugdag gevier en die belang van die 1976-studenteprotes onder die loep geneem. Dié protes was belangrik omdat dit ’n hele generasie van jong mense voorberei het vir leierskap na transisie. Dieselfde leiers faal nou die jeug.

Ons het rede tot kommer oor die jeug. Sowat 18,5% van die bevolking is onder 19 jaar; 66% is onder 35. Volgens die bevindings van ’n Ipsos-menings­opname wat net voor Jeugdag bekend gemaak is – met ’n proefgroep van 3 598 volwassenes van wie 866 (24%) jonger as 25 jaar is – werk slegs 20% van die groep tussen 15 en 24 jaar voltyds of deeltyds, terwyl 41% werkloos is, en 1% opgegee het om werk te soek (die res is in tersiêre instellings betrokke).

In die groep 19 tot 24 jaar het slegs 2% grade. Volgens die United Nations Population Fund is 2 miljoen in die groep 19 tot 24 jaar nie in ’n werk of onderwysinstelling betrokke nie.

Die Ipsos-opname dui ook aan 45% van 15- tot 17-jariges en 34% van 18- tot 24-jariges dink Suid-Afrika se ekonomie gaan nie herstel nie, en ongeveer 66% van die jeug onder 25 jaar dink Suid-Afrika is polities op die verkeerde pad. Ongeveer 60% van dieselfde groep dink die regering doen nie genoeg om mense met vaardighede in die land te hou nie.

Die studenteprotes van die afgelope twee jaar het bygedra om te wys net hoe uit voeling die ANC-regering met die jeug is. Die grootste probleem van die ANC is dat hy sy eie jeugliga as die norm sien. Die jeugliga vorm deel van die Zuma-faksie se patronaatnetwerke en is lofprysers van Zuma. Die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap is deel van dié netwerke wat duisende rande verkwis.

Nog een van die ANC se probleme is die feit dat die belang van formele onderrig misken word.

Op 16 Junie het Zuma by jeugsaamtrekke gepraat, waar hy ook soms uitgejou is. Op een van hierdie platforms het hy oor onderwys gepraat. Hy het homself as ’n voorbeeld voorgehou van iemand wat geen onderwys gehad het nie, maar homself opgevoed het!

Nog een van die ANC se probleme is die feit dat die belang van formele onderrig misken word. Die anti-intellektuele klimaat wat in die ANC heers, spruit uit ’n minagting vir onderwys. Ongelukkig kan iemand wat nie so ’n onderrig het nie, nie die waarde daarvan verstaan nie.

’n Onderwyskrisis op primêre en sekondêre vlak veroorsaak dat Suid-Afrika een van die swakste onderwys­stelsels in Afrika het.

Navorsing deur kollegas van die Stellenbosch Universiteit se eenheid vir sosiaal-ekonomiese beleid het gewys dat onderwys in ses van die nege provinsies deur die onderwysvakbond Sadou gekaap is. In hierdie provinsies beheer die provinsiale regerings nie meer die onderwys nie, maar die vakbond, wat vyandig is teenoor die toepas van nasionale beleid wat betref maatstawwe om onderwysers verantwoordbaar te hou.

Sadou weier om enige intervensies toe te pas soos toetse vir bekwaamheid, periodieke evaluering van onderwysers, prestasiekontrakte vir skoolhoofde, ’n biometriese inklokstelsel om onderwysers se teenwoordigheid te bepaal, betaling wat aan prestasie gekoppel is, om onderwys ’n essensiële diens te maak (dan kan vakbonde nie hul lede verplig om te staak nie), en die aanstel van inspekteurs om onderwysers te monitor.

In baie skole is minder as die helfte van die kurrikulum teen die einde van die jaar gedek. Slegs 32% van wiskunde-onderwysers het die wenslike vlak van kennis vir die gr. 6-kurrikulum. In baie skole is kinders teen gr. 9 steeds ongeletterd.

Dit is die regering se miskenning van die belang van onderwys wat die toekoms van jongmense versmaai en tot ’n jeugrevolusie sal lei.

Meer oor:  Politiek  |  Jeugdag  |  Jeug
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.