Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dié Kaapse klip nie ’n steen des aanstoots

Die skielike verdwyning van ’n bekende landmerk in Bellville het Willem Fransman jr. laat wonder oor monumente en wat dit vir ’n dorp of stad kan beteken.

Willem Fransman jr.

Die klip is weg . . .!

Wit-weg (soos hulle op die Kaapse Vlakte sê as iets net spoorloos verdwyn het.)

Ek loop onlangs in Voortrekkerweg, Bellville, op pad na die bank. Op die kruising van Voortrekker- en Durbanweg tref dit my soos ’n skoot koue water in die gesig.

Die bekende Twaalfmylklip, ’n historiese baken in Bellville, is weg. Daar waar die eens baie gewilde baken was, is die grond omgedolwe. ’n Gapende wond met geen kennisgewing wat aan die publiek ’n verduideliking bied nie.

Niks.

En omdat Bellville deesdae as Klein Somalië bekend staan, het baie onedele gedagtes deur my kop geskiet.

Die Suid-Afrikaanse Raad op Historiese Gedenkwaardighede het sy kenteken op die klip aangebring en die koperplaat is ook in ’n stadium gesteel.

Daar was selfs ’n tyd toe iemand advertensies vir aborsies op die klip aangebring het.

So, dié historiese klip is al aan baie “mishandeling” onderwerp.

Die Twaalfmylklip (Die Romeinse syfer Xll is op die klip uitgebeitel) kan ten beste beskryf word as ’n naaldagtige monument van graniet- of blouklip met ’n driehoekige punt. Dit is omtrent so hoog soos van ’n volgroeide man se voet tot by sy knie.

Die lamp langsaan was oorspronklik ’n ou Victoriaanse agthoekige potysterpaal met ’n viersydige lantern daarop gemonteer. Gas en olie is aanvanklik gebruik om dit te laat brand en later elektrisiteit.

Die lamp is baie strategies geplaas, sowat ’n meter agter die klip, sodat naderende ossewa-drywers dit ook in die donker kon raaksien. Die monument bestaan dus uit die klip én die lamppaal.

Dit is aangebring om veral reisigers of boere wat vanaf die binneland na Kaapstad gereis het ’n aanduiding te gee van watter afstand nog afgelê moet word. Vanaf die monument tot in die Kaap was die afstand presies 12 myl.

Name verander, maar die klip bly staan

Bellville se Twaalfmylklip en lamppaal.

Die gebied wat vandag as Bellville bekend staan, was vroeër jare ’n uitspanplek vir ossewaens op pad na Kaapstad om vars voorraad aan die verbygaande skepe te lewer. In daardie tyd was die dorp as Hardekraaltjie bekend.

Later is Hardekraaltjie herdoop na Twaalfmylpos (dit sou dui op die feit dat dáár waar die Twaalfmylpos staan, die presiese afstand na Kaapstad 12 myl, of 20 km, is).

Op 18 November 1861 is die naam Twaalfmylpos na Belleville verander, ter ere van Charles Davidson Bell wat van 1848 tot 1872 landmeter-generaal aan die Kaap was. Dis dieselfde Bell wat ook vir die ontwerp van die eerste driehoekige Kaapse posseëls verantwoordelik was.

Op 13 Februarie 1862 is ’n spoorlyn van Kaapstad na Belleville in gebruik geneem om die vervoer van goedere makliker te maak.

Omdat die pad van Durbanville so sanderig was, is ’n spoorlyn ook van Belleville na Durbanville aangelê.

In 1886 ondergaan Belleville wéér ’n naamsverandering na D’Urbanweg, net omdat die spoorlyn by D’Urbanweg ge-eindig het.

In November 1904 ondergaan die dorp nog ’n naamsverandering en sou hy voortaan as Bellville bekend staan.

Die Twaalfmylklip is ook verewig op die Bellville dorpswapen met 12 horisontale swart bane daarop.

En glo my, die mense by ’n biblioteek weet van alles.

En nou is hierdie besonderse stukkie geskiedenis net weg! (Of so het ek gereken.)

Terug op kantoor bel ek eers Bellville se stadsbiblioteek. Dáár het ek immers vriende wat my met die regte mense in kontak kan bring.

En glo my, die mense by ’n biblioteek weet van alles. En hulle is gekoppel (nog ’n Vlakte-uitdrukking!)

Die dame by die biblioteek bring my in kontak met die mense van Erfenis-departement.

Ek verduidelik my ontevredenheid met die verdwyning van die monument en die lamppaal sonder enige kennisgewing om dit te verklaar.

Die klip is nie weg nie . . .

My vriendin by die biblioteek verskaf die nommer van die verantwoordelike mense by die kantoor van Wes-Kaapse regering se departement van openbare werke.

Uiteindelik maak ek telefonies met me. Vanessa Scholtz, gemoeid met media-van Kaapstad-metro, kontak. Ek verduidelik my ongemak en verontwaardiging omtrent die verlore monumente.

Nee, word ek gerusgestel. Dis glad nie soos ek dink nie. Ek moet weet dat my besorgdheid oor die monument en lamppaal opreg waardeer word. Hulle is eintlik bly dat ’n lid van die publiek dit opgemerk het. Met die een kompliment ná die ander word ek vir my besorgdheid beloon.

En toe sê sy: “Ons het nie eintlik gereken dat die publiek die verwydering van die monument sou oplet nie.”

Tog is dit gebiedend noodsaaklik dat inwoners sal weet watter monumente in hul omgewing waarde tot die dorp- of stadsgeskiedenis toevoeg en ook toeriste-aantreklikhede kan wees.

n Rukkie later stuur sy my ’n persvrystelling per e-pos rakende my navrae:

“Albei monumente, die steen en die lamppaal, is in veilige bewaring. Dit is verwyder vir die duur van die opgradering van die sypaadjies van Voortrekkerweg, Bellville. Die monumente sal op hul regmatige plekke teruggeplaas word, sodra die werk voltooi is.”

So, tot betreklik onlangs was die Twaalfmylklip, op die hoek van Voortrekker-en Durbanweg, ’n stille getuie van die rondval in name wat hierdie gewilde dorp ondergaan het.

Waar dié historiese Twaalfmylklip in die 19de eeu ’n baken was wat die uitspanplek vir togryers langs die pad tussen Kaapstad en Bellville aangedui het, word die klip vandag deur die groot sakesentrums langs Voortrekkerweg verdwerg.

Tog is dit gebiedend noodsaaklik dat inwoners sal weet watter monumente in hul omgewing waarde tot die dorp- of stadsgeskiedenis toevoeg en ook toeriste-aantreklikhede kan wees.

Bellville se Twaalfmylklip moet so gou moontlik weer op sy plek staan, want in my boek is daar geen donker geskiedenis aan hierdie nasionale monument gekoppel nie. Om die waarheid te sê, dit is glad nie ’n steen des aanstoots nie!

En as jy my nie wil glo nie: “Come to Bellville and CY!”

* Bronne: Peter E. Raper: New Dictionary of South African Place Names; Independent Newspapers Archives; C. J. Scheepers Strydom: Bellville: Wordingsjare van ’n Stad – Growth of a City (1981).

* Fransman is ’n skrywer en vryskut-joernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Willem Fransman  |  Bellville
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.