Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dié kabinet is ’n goeie begin

Dawie reken daar is baie in pres. Cyril Ramaphosa se kabinets­keuse om oor bemoedig te wees.

In die eerste plek is die verkleining van die kabinet van 36 na 28 ministers ’n positiewe skuif. Onder Jacob Zuma het die kabinet stelselmatig vergroot om sy stelsel van patronaatskap in stand te hou, wat ook uiteindelik die ideale teelaarde was waarin staatskaping kon wortelskiet en gedy.

Dawie

Behalwe vir die verkleining (wat na regte nog meer omvattend kon wees), het Ramaphosa bemoedig met die ywer waarmee hy onkruid uitgetrek het.

Die vertrek van Bathabile Dlamini, ’n geharde Zuma-kornuit, is goeie nuus. Vir te lank al hang die vernietigende bevinding van die konstitusionele hof oor haar kop wat haar persoonlik verantwoordelik hou vir ’n gedeelte van die regskoste in die Sassa-krisis wat sý veroorsaak het.

Die hof het die nasionale vervolgingsgesag boonop gelas om te oorweeg of Dlamini vervolg moet word op ’n klag van meineed nadat sy vir die hof oor haar rol in die Sassa-krisis gelieg het.

In die uitspraak is haar optrede as “roekeloos” en “nalatig” bestempel. In kort, ’n onbevoegde leuenaar wat so lank alleen danksy haar politieke invloed as leier van die ANC-vroueliga oorleef het.

Selfde geld Nomvula Mokonyane, onder wie se wagbeurt as minister van water en sanitasie die land se waterinfrastruktuur ’n versnelde agteruitgang beleef het. Dié roemlose ampstermyn het kwalik gedien as ’n hoë aanbeveling in die verwante portefeulje van om­ge- wingsake, waar sy eweneens drooggemaak het. Om nie te praat van die Bosasa-wolk bo haar kop nie.

Dawie wag met ingehoue asem.

Maar die mense wat Ramaphosa behou het, sê net so baie soos dié vir wie hy die trekpas gegee het.

Eerste op die lys is minister Pravin Gordhan, wat die leisels as minister van staatsondernemings sal hou. Gordhan is een van Ramaphosa se sterkste luitenante teen die kliek van Ace Magashule, wat in wese maar die voortgesette belang van die Zuptas in die ANC en staatsmasjinerie verteenwoordig.

Terwyl ons openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, oënskynlik dié kliek met haar bevinding van onregmatige optrede teen Gordhan in die openbaar wil beskerm, het Ramaphosa hom nie laat afskrik nie. Sy boodskap met Gordhan se aanstelling is dat hy steeds sy volle vertroue in Gordhan stel.

In die rigting van Magashule en die Guptas is dit niks minder nie as ’n oorlogsverklaring wat sê dié stryd sal nog tot die bitter einde gevoer word.

Dit is ook bemoedigend dat Tito Mboweni as minister van finansies aanbly.

Een van die sterkste eienskappe van oudpres. Thabo Mbeki se presidentskap was die wyse waarop hy en Trevor Manuel in dié portefeulje sáám ’n programmatiese plan van aksie kon uitvoer omdat hulle ten nouste saamgewerk het en só ’n sterk leidende sentrum in die kabinet was. Met Mboweni sal Ramaphosa dieselfde kan doen.

Die verrassing in die kabinet is Patricia de Lille, en duidelik ook ’n doring in die DA se vlees, wat nou te kenne gee dat haar aanstelling ’n beloning is vir al die stemme wat sy met Good van die DA af weggeneem het. Dawie is nie oortuig nie, want as dít die geval is, sou die VF Plus drie kabinetsposte gekry het.

Laastens was dit ’n gegewe dat David Mabuza adjunkpresident sou word as sy gesondheid dit toelaat. Hy het hom egter op die laaste nippertjie onttrek aan die parlementêre inhuldiging omdat hy eers sy naam by die ANC-integriteitskomitee wou gaan skoon kry.

Hy is toe ter elfder ure wel as LP ingehuldig, maar tot nou toe is daar nog geen aanduiding vanaf die integriteitskomitee hoe tot die bevinding gekom is dat Mabuza silwerskoon is nie.

Dawie wag met ingehoue asem.

Meer oor:  Kabinet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.