Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die kalkoen wat Kersfees oorleef

’n Dag voor Kersfees wil ’n mens darem seker ’n skeut goeie nuus in jou Kerskous hê. Maar kom ons kry dit maar van die hart af – hoe pynlik dit ook al vir sommige mag wees.

Die ANC – breuke, bakleiery en beneuktheid – gaan nog lank in die kussings sit en hierdie land van ons regeer. Net politieke dowes en blindes of verdwaasde idealiste sal ontken dat die ANC nie volgende jaar se verkiesing gaan wen nie.

Johann Maarman

Die opposisie wat vergesigte van ’n oorwinning in 2019 sien, maak praatjies vir die vaak. Hulle is soos die melaatses wat wag op die engel om die water te roer sodat hulle in die volgende verkiesing aan die bewind kan kom.

Die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse demokrasie waar verkiesings elke vyf jaar gehou word en dieselfde party klokslag wen, is besig om hom te voltrek. En dit beteken dat opposisie-partye meestal kwyn tot nulle op ’n kontrak.

Die ANC is meer straatwys as al die opposisiepartye saam, want by die stembus kan hy sy mense onder ’n groot kombers met groot slagspreuke mobiliseer, hoewel hy as regeerder lelik kleitrap.

Dié verstrooide party regeer die land. En sal nog baie lank. Sy legitimiteit is dalk onverdiend, maar onbetwis. Hy kan nie weggewens word nie.

Die ANC se wegspring-wekroep – ’n beter lewe vir almal – lewer 24 jaar later die perverse uitkoms van ’n beter lewe vir sommige.

Die ANC onder Nelson Mandela was nog nooit in sy bestaan so ’n magsbehepte organisasie nie, maar op die wagbeurt van Thabo Mbeki en Jacob Zuma het hulle uitgevrete skepsels geword. Dus: Politieke mag het die ANC verander. En hoe groter die mag geword het, hoe arroganter het die ANC geword.

Die ANC in sy huidige formaat onder Cyril Ramaphosa (al is hy allesbehalwe die nuwe Madiba) probeer nou om die brokstukke op te tel, maar dit neuk maar.

Laat ons maar ruiterlik erken: Die ANC se morele kern is in ’n diep winterslaap. Verlam deur gierigheid, eiebelang en die selektiewe toepassing van reëls. ’n Voorbeeld daarvan is Zuma, wat nou in die 74ste plek op ANC-lyste is om as ’n lid van die parlement herontplooi te word.

Maar hier kom die ANC-takke en benoem dié poligamis om weer die parlementsgange te bewandel. Hemele val op ons.

Hier het ons iemand wat die land tot op sy knieë gebring en uitverkoop het aan ’n Indiese familie, wat onseremo­nieel deur die ANC-leierskorps gevra is om te bedank as president van die land en wat ’n regsrekening van meer as R32 miljoen aan ons belastingbetalers wou stuur. Hy is die pous van staatskaping en het ons land onherstelbare skade berokken.

Maar hier kom die ANC-takke en benoem dié poligamis om weer die parlementsgange te bewandel. Hemele val op ons.

Hoe op dees aarde werk die koppe van die ANC-takke? Die feit is: Die oorgrote meerderheid sal weer vir die ANC stem en Zuma hartlik terugverwelkom.

’n Senior kollega wys my die afgelope week daarop dat hoewel haar seun wat by Maties studeer nie kwalifiseer vir gratis hoër onderrig nie omdat haar salaris bo die grenslyn is, is dit die ANC wat dit moontlik gemaak het dat kinders wat binne dié kategorie val nou gratis onderrig kan kry.

Dit was nie die DA of die EFF of die VF Plus wat dit moontlik gemaak het nie, maar die ANC – weliswaar onder groot druk van studente. In kort: Mense vergeet nie wie hul bevryders was nie. Vir hulle bly die ANC – met al sy tekortkominge – die ruiter op die wit perd. En so sal dit bly. En nog lank. Die ANC is dus die kalkoen wat nog baie Kersfeeste gaan oorleef.

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Johann Maarman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.