Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die katastrofe is hier – kom ons berig só daaroor
Tony Weaver

Taal is ’n koddige ding. Taalkundiges, joernaliste, redakteurs en skrywers kwel hulle oor woorde en hoe dit die betekenis van ’n frase, ’n sin, artikel of boek kan verander, of nie verander nie.

As jong joernalis is ek vir twee jaar na Namibië gestuur met die allemintige titel van “burohoof” vir onder meer die Cape Times, Sunday Times en Daily Dispatch.

Burohoof was ’n baie deftige titel – ek was die enigste verslaggewer en ook die fotograaf. Maar dit het goed geklink, en het ook beteken dat my salaris van ’n skamele R350 per maand, opgeskiet het na meer as R1 000, plus ’n “buitelandse toelaag” van R300 per maand.

Die term “buitelandse toelaag” was belangrik. Dit het beteken die maatskappy het Namibië as ’n buitelandse moondheid erken, soos wat die Verenigde Nasies (VN) se resolusie 2145 (XXI) van 1966 bepaal het, en nie bloot as ’n mandaatgebied of ’n provinsie van Suid-Afrika met die naam Suidwes-Afrika nie.

Sulke klein woordskuiwe is dikwels die grondslag waarop klein gevegte gewen of verloor word.

Nogtans het die maatskappy se stylvoorskrifte bly bepaal dat die term “SWA/Namibië” gebruik moet word en nie net Namibië nie. Met my eerste verslag uit Windhoek het ek eensydig drie taalveranderinge aangebring: Ek het die land net “Namibië” genoem, die wetlik onakkurate term “grensoorlog” verruil vir “Namibiese bosoorlog”, en Swapo-vegters met die meer neutrale “guerrillas” of “insypelaars” beskryf eerder as die ideologies gelaaide “terroriste”.

Van die koerante het my terminologie aanvaar, maar ander redakteurs het begin voorspraak maak dat ek afgedank moet word, veral nadat ek die medestigter van Swapo, Andimba Toivo Ya Toivo, “die Nelson Mandela van Namibië” genoem het.

Sulke klein woordskuiwe is dikwels die grondslag waarop klein gevegte gewen of verloor word.

Die meeste media-instellings het hulle eie stylgidse, wat op dié van ’n handvol internasionale uitgewers se gidse steun, waaronder The Times en The Guardian. Drie weke gelede het The Guardian radikale veranderings in sy stylgids aangekondig.

Van nou af sal hulle na “aardverhitting” en nie na “aardverwarming” verwys nie; in die plek van ’n woord soos “klimaatverandering” sal terme soos “klimaatnoodtoestand”, “-krisis” of “-ineenstorting” gebruik word. En “klimaatwetenskap-ontkenners” neem die plek van “klimaatskeptici” in.

Die hoofredakteur van The Guardian, Katharine Viner, het gesê die frase “klimaatverandering” klink byvoorbeeld passief en besadig, terwyl wetenskaplikes nou van ’n “katastrofe vir die mensdom” praat.

’n Onlangse opname deur die Amerikaanse moniteringsgroep Media Matters het bevind dat die groot Amerikaanse TV-netwerke baie meer tyd aan die geboorte van die koninklike baba Archie bestee het as die tyd wat hulle aan ’n belangrike verslag van die VN afgestaan het waarin genoem word dat ’n miljoen spesies gevaar loop om uit te sterf. ABC News het in een week meer dekking aan Archie verleen as wat hulle in die ganse 2018 aan die klimaatkrisis bestee het.

Welkom by die Brave New World van verslaggewing oor klimaatwetenskap. Die katastrofe is hier en ons moet as sodanig daaroor verslag doen. Dit moet ’n daaglikse deel van ons belangrike nuusdekking en ons daaglikse gesprekke word en moet nie opsy geskuif word vir onbenullighede nie.

Meer oor:  Tony Weaver  |  Media  |  Taal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.