Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dié keer maak Daan ’n plan met sy voggies

Y

Blouwillem

es, hoes dit?! Of laat ek eerder vra hoe’s dit? Want kyk, as daar nou twee dinge is wat jy amper nooit meer hoor nie, is dit ’n brommer en ’n hoes – want as jy hoes, sit jy sonder vriende sonder wie jy in elk geval reeds vir twee maande sit.

Nou hou jy maar in dese dae teen wil en drank eerder jou asem op soos ’n kampioenkropduif op ’n duiweskou as om vir enigiemand te blaf.

Ja-nee, twee volle maande is ons nou vasgekeer.

Ure, dae, maande kruip soos slakke in skadudrome verby en as ons nie keer nie, is dit hierdie week al winter.

As ek so terugdink daar aan die vroeë dae van die virus, wonder ek baie keer hoe dit nou met die mense in byvoorbeeld Spanje gesteld is. En meer spesifiek wonder ek oor die 86 mense wat middel Februarie in Valencia in ’n bordeel onder kwarantyn geplaas is.

Sou die vasgekeerde klante (of liewers kaalante) nou al broek in die hand teruggegaan het huis toe na die mammies toe, of het hulle besluit om maar veiligheidshalwe eerder net daar in ’n kwaratynkatel in die streelperseel te bly, met of sonder sakgeld?

En ja, ’n mens wonder ook wat in ander lande as noodsaaklike dienste geklassifiseer word.

Nee, dis maskers óp en halsbande af en die hondjies is los en winkelsentrums vol met mammies, pappies en kleingoed met “designer”-maskers.

As ek die afgelope week so om my gekyk het, het dit my al hoe meer begin lyk of onse piepols nou besluit het om maar nie meer vir antie Nikskossies Sanna te wag om ons halsbande los te maak nie.

Nee, dis maskers óp en halsbande af en die hondjies is los en winkelsentrums vol met mammies, pappies en kleingoed met “designer”-maskers oopketelvolstoom op “retail therapy”-ekspedisies.

En my erg geknelde ou volkie koop als wat wettig gekoop mag word met die geld wat hulle die afgelope twee maande nie kon verdien nie en as ek terugklim in my kar en my stuurwiel klaar skoongeskrop het, wonder ek hoekom die parfuumwinkel oop is en die speelgoedwinkel toe, maar dan besef ek die weë van Pa-tel en Ma-tel gaan vir ons duister bly tot hierna, wanneer daar weer lig is.

Wat onse president gisteraand aangekondig het, weet ek nog nie, want ek wag maar altyd tot die volgende dag om te hoor wat ant Nikskossies oornag verander het, maar ek weet net die dag as die drankwinkels weer oopmaak, sal dit rof en onbeskof gaan.

En as hulle verkope alfabeties gaan toelaat, sal hulle mooi na die ID’s moet kyk, want elke tweede ou gaan Aaaalwyn Aaaarendse wees.

Dik Daan se buurman, met wie hy elke dag gemaskerd oor ’n dubbele doringdraad ’n paar woorde wissel, reken die eerste ding wat hy gaan doen as die lawaaivoggies weer mag vloei, is om 12 biere te koop en stormdronk te word. Daarna gaan hy die ander 11 biere in die tuin begrawe, want, soos hy sê, hy wil in die toekoms paraat wees vir enige fase wat die tannie se gevegskamer kan uitdink.

Meer oor:  Blouwillem  |  Maskers  |  Inperking  |  Drank  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.