Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die kerk mág nie skeur nie
Grafika: HANLIE MALAN

Daar is ’n magdom redes hoekom die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) nie mag skeur nie, skryf Nelus Niemandt na aanleiding van die verwikkelinge in die Goudland-sinode.

Die Brexit-gees is nou ook in die NGK vaardig en die Goudland-sinode het verlede week selfs ’n mosie om die NGK te laat skeur in die doodsnikke van sy sitting uitgestel.

Daar is gemeentes wat dreig om die NGK-verband te verlaat. Daar is ’n magdom redes hoekom die NGK nie mag skeur nie.

Eenheid is geweldig belangrik

Die eenheid van die kerk is een van die belangrikste temas in die teologie. Dit word gebou op die gedagte van die eenheid van die drie-enige God en dat die Vader, Seun en Heilige Gees één God is wat in ’n ewige verhouding van innige liefde en diensbaarheid is.

Die kerk moet iets van daardie eenheid en diensbaarheid uitbeeld. Daarom word daar in die Nuwe Testament beroepe gedoen om eenheid na te streef, al het daar baie verskille bestaan tussen die eerste Christelike gemeentes. Kerkleiers, soos Paulus, doen gereeld beroepe op hulle om eenheid na te streef en die skrywers van die Evangelies het belangrike verhale opgeteken oor die belang van eenheid.

Die eenheid van die kerk is gebou op eenheid in Christus. Die eenheid van God en die Bybelse beroepe tot eenheid is reeds genoeg redes om enige skeurmaker te oortuig om versigtig te wees oor praatjies wat kerkskeuring aanmoedig.

Lidmate verskil nie oor belang van Bybel

Daar word gereeld in die gesprekke oor wegbreek gepraat oor die belang van die Bybel. Beroepe word op mense gedoen om getrou te wees aan die Bybel en die Bybel ernstig op te neem.

Ek is van mening dat die meeste lidmate van die NGK baie ernstig is oor die Bybel. Derduisende woon Sondae eredienste by en duisende behoort aan Bybelstudiegroepe of woon Bybelskole by. Daar kan gerus aanvaar word dat omtrent almal baie ernstig is oor die gesag van die Bybel. Wat wel gebeur, is dat aktuele sake en veranderende tye tot gevolg het dat lidmate van dieselfde kerk sekere Bybeldele anders verstaan as ander lidmate – in die laaste tyd veral oor selfdegeslagverhoudings.

’n Mens moet versigtig wees om nie jou betrokke siening van ’n Bybeldeel as die enigste ernstige siening van die Bybel te hanteer nie. My indruk is dat almal wat deelneem aan die debatte baie ernstig is oor die Bybel en die impak van die Bybel op die kerk se lewe.

Die gevaar is wanneer mense net hul eie siening as die regte een voorhou. Dit help om te onthou dat Christene oor baie sake verskil – grootdoop en kinderdoop, spreek in tale, die uitverkiesing, die ampte en nog omtrent 100 ander sake. Dit verhinder Christene wel nie om eenheid na te streef nie. Die algemene sinode het vanjaar juis gepleit dat lidmate nederig en met re­spek na mekaar luister.

Breekspul word nie maklik herstel

Die NGK probeer nou al hoe lank om die eenheid met die Verenigende Gereformeerde Kerk, die Re-formed Church in Africa en die NGK in Afrika te herstel. Daar is al eindelose vergaderings tussen die NGK, die Hervormde Kerk en die Gereformeerde Kerke gehou om die breekspul tussen hulle reg te stel. Die kans dat die Afrikaanse Protestantse Kerk, wat van die NGK geskeur het weens die NGK se verwerping van apartheid, weer deel van die NGK sal word, is omtrent nul.

Kerkskeuring word gou deel van die wegbrekers se DNS en dit word van geslag tot geslag oorgedra. Wanneer iemand nou skeur, gaan dié sonde van geslag tot geslag oorgedra word.

Skeuring verswak NGK se vermoë om te help

Ds. Nico van Rensburg van die Goudland-sinode waarsku dat enige skeuring ’n geweldige impak sal hê op die vermoë van NG gemeentes om hulp te verleen en voort te gaan met uitgebreide maatskaplike dienste. Kerkskeuring gaan die maatskaplike samehorigheid in baie plattelandse dorpe heeltemal vernietig en ’n uiters negatiewe impak hê. Die dominees wat so graag in die skeuring-koor sing moet dalk vir ’n oomblik nadink oor die gevolge vir die weerloses in hul gemeenskappe.

Kerkskeuring verklaar die res van die NGK tot mense wat dwaal en saam met wie ’n mens nie Nagmaal behoort te vier nie.

Kerkskeuring het geweldige implikasies. Indien Goudland die NGK verlaat, keer hulle al die ander NG gemeentes in die land die rug toe. ’n Besluit om die kerkverband te verlaat, beteken byvoorbeeld dat ’n gemeente nie lidmate wat na ’n ander sinodale gebied verhuis met vrymoedigheid kan aanraai om by ’n NG gemeente daar in te skakel nie. Dit beteken ook dat so ’n sinode wat wegbreek ernstig sal moet nadink oor hoe hulle voortaan Nagmaal saam met dié wat “agterbly”, gaan vier.

Dan praat ’n mens nie eens van teologiese opleiding, beroepbaarheid van predikante en sulke reëlings nie. Of gaan Goudland, wanneer hulle klaar geskeur het, ’n lys vereistes hê wat NG leraars moet onderskryf voordat hulle beroep mag word na gemeentes in die sinode? En wat gebeur met die lidmate wat lewenslank NG lidmate is en sterk voel hulle wil deel bly van die groter kerkverband? Word hulle gedwing om die kerk teen hul wil te verlaat?

Pasop vir verkeerde inligting

Die Brexit-storie in Brittanje het gewys hoeveel vals nuus en verkeerde feite rondvlieg en misbruik word om ’n breekspul aan te vuur. Dit is nie juis anders met kerkskeuring nie.

Iemand skryf op Facebook: “Die algemene sinode se besluit dien net een kant van die kerk – so much vir eenheid. Die besluit van jou kerkraad sal jou nie vrywaar van die besluit van die algemene sinode nie.”

Die algemene sinode het vanjaar duidelik besluit: “Die algemene sinode wil graag die ruimte bevestig wat vir almal geskep word om volgens hul oortuiging op te tree.”

Sommige kerkleiers jaag lidmate die skrik op die lyf deur te dreig met ’n finan­siële ineenstorting en koppel dit direk aan die algemene sinode se besluit oor selfdegeslagverhoudings. Dit te midde van een van die land se ernstiger ekonomiese krisisse en ’n knellende droogte!

Daar is ’n ring wat beweer die algemene sinode laat pedofiele nou toe om leraars van die kerk te word – dit terwyl die algemene sinode vanjaar streng reëls oor gedrag aanvaar het. Kerkskeuring is so ’n ernstige saak dat alles moontlik gedoen moet word om goed na mekaar te luister en nog beter na die Bybel te luister. Ons land en ons mense kan nie nou energie mors op kerkskeuring nie.

Suid-Afrika staan voor geweldige uitdagings. Baie gemeenskappe is uiters broos en kwesbaar. Enige vorm van verdeeldheid is sleg. Ek kan op geen manier verstaan dat ’n stukkende en verdeelde NGK die land en gemeenskappe beter sal dien nie. Dit gaan die kerk uitermate verswak en die gemeenskappe waaruit die lidmate kom op geen manier help indien die skeurmakers in Goudland en ander plekke hul sin kry nie. Splintergroepe moet ook onthou dat hulle sukkel om ekumeniese bande te bou – ’n skeuring verswak en verdoof die profetiese stem van die kerk.

Daar is nie genoeg redes om die NGK te laat skeur nie. Ons stem saam oor die kerk se belydenis, oor die wese van die kerk, ons deel ’n ryk geskiedenis. Dit alles weeg swaarder as ’n skeuring oor ’n etiese saak.

  • Niemandt is professor in sendingwetenskap aan die fakulteit teologie en religie van die Universiteit van Pretoria. Hy was moderator van die algemene sinode van 2011 tot 2013.
Meer oor:  Ng Kerk  |  Ngk  |  Sinode
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.