Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die Kersfees wat amper nie was nie

Die materiële sy van verlede jaar se Kersfees het by hom verbygegaan, maar hy het die kernboodskap van Kersfees mildelik ervaar, skryf Malcolm de Roubaix.

Malcolm de Roubaix skryf dat hy verlede jaar in die hospitaal die kernboodskap van Kersfees ervaar het. Foto: Jaco Marais

Soos baie ander mense het ek ’n broertjie dood aan die kaping van Kersfees, ons belangrikste godsdienstige fees, vir kommersiële belange en materiële gewin.

Ons samelewing word toenemend geprogrammeer om laasgenoemde te dien, en van die gees en betekenis van Kersfees bly weinig oor.

Genadiglik is ek dit alles die afgelope Kersfees – 2019 – gespaar; nie omdat ek by die Suidpool, op die maan of in een van ons diepste myne versteek was nie. Allermins; ek was skaars tien minute se ry van my huis in die intensiewe sorgeenheid (ISE) van een van ons plaaslike hospitale ná ’n nood-hartomleidingsoperasie.

Ek het reeds etlike maande nie “reg” gevoel nie. Geen spesifieke simptome of tekens nie, net moegheid. Bygesê, ek is ’n drawwer wat al langer as 45 jaar liters sweet op die paaie agtergelaat het.

Die laaste paar maande kon ek nie draf nie, omdat ek kraakbeen in ’n knie beseer het, dalk ook maar goed . . . Boonop het ek rondom dieselfde tyd gordelroos van die gesig ontwikkel, gelukkig vroeg gediagnoseer en doeltreffend behandel.

Ek het my moegheid aan die nadraai hiervan gewyt, en Theo, my goeie vriend en internis, het saamgestem, maar tog voorgestel dat ek ’n kardioloog konsulteer. Maar eers het ek vakansie gaan hou in die hoop dat my moegheid ’n simptoom was van geestelike uitputting waaraan, volgens navorsing, die meeste Kaapse dokters ly, maar dit het weinig verskil gemaak.

Dus, op 9 Desember het ek op ’n stoel voor my kardioloog, Clive, gesit. ’n Inspanning-EKG om die hart onder druk te plaas ten einde ontoereikendheid in bloedvloei uit te lok het presies dít aangetoon: ek het sedert 15 jaar tevore ’n stent in een van die hooftakke van die linker koronêre arterie (met ’n roetine assuransie-ondersoek gediagnoseer).

'n Hartvatomleidingsoperasie, daarenteen, is duur en ingrypend met ’n weke- tot maandelange rehabilitasie.

Nou was die ontoereikendheid, volgens die EKG, egter in die regter koronêre arterie.

Die volgende stap was ’n koronêre angiogram. ’n Kateter word deur ’n arterie (deesdae meestal een van die polsarteries) tot in die aorta geryg en die hart se bloedvate met radio-ondeursigtige kleurstof gebeeld.

Die hoop is altyd dat enige vernouings met ’n mini-ballon gedilateer en met ’n stent gestut kan word en benewens antistol geen verdere behandeling nodig sal wees nie. Benewens koste besparing, is dit ’n byna alledaagse buitepasiënt-prosedure. ’n Hartvatomleidingsoperasie, daarenteen, is duur en ingrypend met ’n weke- tot maandelange rehabilitasie.

Geen ander keuse as Kersfees in die hospitaal nie

Maar die gode was my nie goedgesind nie. Nie alleen was die regter koronêre arterie reg by sy oorsprong meer as 90% geblokkeer nie; ook die linker op ’n lastige plek – reg by sy vertakking, met meer as 80%.

Elkeen van die letsels was lewensbedreigend, maar geeneen kon gestent word nie. Clive het my ingelig dat die enigste moontlike behandeling ’n hartvat-omleiding was, taamlik gou daarby.

Carl se voorstel was dat die operasie dringend, reeds die volgende dag, uitgevoer word.

Het ’n mens ’n keuse? Nie werklik nie. Kort daarna het die hartchirurg, Carl, met sy twee vennote kom gesels en die proses en prosedure verduidelik, en toe hulle vra of ek wil hê hulle moet voortgaan met die operasie, had ek net een vraag: “Is julle resultate so goed soos enigeen anders?”

Die antwoord was “Ja”, en so ook my antwoord. Carl se voorstel was dat die operasie dringend, reeds die volgende dag, uitgevoer word.

Malcolm de Roubaix se boek, ‘Hoop, heling & harmonie’, het vanjaar verskyn. Foto: Jaco Marais

Ek wil nie oor die voorbereiding, die operasie self en my verblyf in die ISE skryf nie. Daar is niks werklik unieks daaromtrent nie; data van 2017 toon dat ongeveer 10 000 sulke prosedures jaarliks deur Suid-Afrika se 103 geregistreerde hartchirurge uitgevoer is (teenoor 700 000 jaarliks in die VSA!)

Genadiglik was daar met al die voorbereiding geen tyd om te tob nie. Wat ek eerder wil deel, is hoe ek deur die personeel behandel is.

Daar’s ’n ou uitdrukking – ook ’n boek – wat voorhou dat die vis van die kop afwaarts vrot. As dit waar is, dan is die teenoorgestelde seker ook waar: dat goeie leierskap en voorbeelde die kultuur in ’n organisasie versterk en uitbou, en die hele vis, by wyse van spreke, gesond hou.

... ek is met veel meer as respek behandel.

Ek wil veral fokus op die verpleegkundiges, mans en vroue, die vriendelike vroue wat die oggendtee gebring het, die mans wat die kos gebring het, die verpleegsters wat my gewas het, die skoonmakers – elkeen het my met die grootste agting behandel en my werklik spesiaal laat voel.

Ek mag byvoeg dat ek dalk van my kant bygedra het deur altyd, waar moontlik, ’n gesprekkie aan te knoop, uit te vra oor hul lewens, waar hulle woon, hul kinders en kleinkinders. Ons het inderdaad almal vriende geword.

Maar ek is met veel meer as respek behandel. Ter illustrasie wil ek van vier voorvalle vertel.

’n Engel waak oor my

Die eerste was die eerste of tweede nag ná die operasie toe my hartritme op ’n bose, onreëlmatige galop gegaan het (die tegniese term hiervoor is ’n vinnige atriale fladder). My liggaam het geruk asof ek ligte konvulsies kry. Ek was buite myself van irrasionele angs.

Die hoofsuster aan diens, ’n ouer vrou, het my verseker dat ek reeds die korrekte behandeling ontvang, dat dit nie ongewoon is nie, dat hulle dit wel onder beheer sou kry, en dat ek pasaangeër-elektrodes het waarmee, sou dinge regtig verkeerd gaan, my hartritme beheer kon word.

Ek het regtig die gevoel gekry van ’n engel wat oor my waak.

Ek het geweier om dit te aanvaar, en gesê ek dring daarop aan dat hulle my dokter skakel. Die suster het toe vir Jacques, die hartchirurg aan diens, geskakel en die mobiele foon na my gebring. Jacques se stemtoon was rustig, hy het weer als mooi verduidelik, en gevra – let wel, nie beveel nie – of ek dit sou oorweeg om nog ’n dosis van die kalmeermiddel waarop ek reeds was te neem sodat ek kon rus.

Sy stemtoon was só rustig en oortuigend dat ek ingestem het, die middel geneem en mettertyd ingesluimer het. Ek onthou dat ek etlike kere wakker geword het, en elke keer was die suster binne sig, ek dink sy het selfs my hand kom vashou.

Ek het regtig die gevoel gekry van ’n engel wat oor my waak. Toe ek eindelik so vyfuur ontwaak was my pols rustig met ’n reëlmatige normale ritme.

Ek verstaan hulle het wel die pasaangeër in die nag nodig gehad. Ek weet my angs was irrasioneel, maar dis wat gebeur het.

Irrasionale vrese

Die tweede voorval het ook met vrees te doen – vrees dat ek sal val. Een van die heerlikste gebeurtenisse in die ISE (“heerlik” is hier ’n relatiewe begrip!) is die volle was vroegoggend.

Malcolm de Roubaix in sy studeerkamer. Foto: Jaco Marais

Jy word op jou sy gedraai, gesig na die kant van die bed, en ’n verpleegster hou jou stewig vas terwyl ’n ander jou rug was, die gebruikte beddegoed tot teen jou rol, en vars beddegoed uitrol. Dan word jy anderkant toe gedraai en die proses word herhaal.

Maar terwyl jy op jou sy op die rand van die bed lê, voel dit of jy enige oomblik sal val, hoewel jy stewig vasgehou word, weer ’n heeltemal irrasionele vrees.

Ek het my heftig teëgesit, en die swart verpleegster wat my vasgehou het sê met die soetste stemmetjie: “Doc, I won’t let you fall . . . I’ve got you.”

Ek het my onmiddellik aan haar oorgegee en ontspan. Sy hét my gehad . . .

Die derde voorval was die derde nag toe my liggaam begin het om van die groot hoeveelhede vog wat ek binneaars moes ontvang, uit te skei. Ek het seker vier of vyf bottels gebruik, maar iewers moes daar ’n glipsie gekom het – dalk het ek deur die waas gedink ek het ’n bottel, dalk was hy oorvol, dalk het ek hom skeef gehou, ek weet nie.

Waarvan ek wel bewus geword het was dat ek in ’n dam lê. My verleentheid was groot en my verskoning opreg. Die suster se reaksie: “Toemaar, ongelukke gebeur; ons was jou sommer nou, dan is dit klaar en jy kan lekker verder slaap!” salig; en ek hét lekker voortgeslaap.

‘Nie as jy dit doen met liefde nie’

Die laaste voorval illustreer dalk ten beste wat ek probeer vertel. Dit was nadat ek uiteindelik daarin kon slaag om op die kommode my ingewande te ledig. Maar nou moes ek skoongemaak en gewas word.

’n Swart verpleegster hou my regop, my arms om haar nek en skouers, my kop teen haar aangeleun. Ek staan soos ’n stout seuntjie effe wydsbeen terwyl die ander verpleegster my agterstewe was.

“Jammer om julle dit aan te doen . . . ”

“You don’t have to be sorry, Doc, its my job,” kom die antwoord.

“But it's still not nice.”

En daarop die uitklophou: “Not if you do it with love.”

Ek was heeltemal oorweldig deur die emosie van die oomblik. ’n Liefdestaak.

Hierdie voorvalle illustreer my verblyf in die ISE. Alle interaksies tussen my en die personeel was van dieselfde aard.

Verpleegsters, of dan minstens dié wat ek hier leer ken het, is super-mense wat benewens hul vanselfsprekende professionele bekwaamhede iets besonders uitleef.

So wat het ek tydens my verblyf in die ISE ervaar? ’n Besonderse manier van omgee en sorg, empatie en ja, as ek eerlik wil wees, praktiese liefde.

My eie mediese loopbaan strek oor dekades, en hier het ek nou vir die heel eerste keer ’n kern kenmerk van sorgsame verpleging beleef en ervaar. Verpleegsters, of dan minstens dié wat ek hier leer ken het, is super-mense wat benewens hul vanselfsprekende professionele bekwaamhede iets besonders uitleef.

Hulle is omgee-mense, mense met empatie, en ek vrees hulle kry nie altyd erkenning daarvoor nie. Daarbenewens is hul verhouding met die pasiënt intiem, en verstaan hulle veel beter as enige dokter hoe ernstige siekte met die gemoed kan smokkel.

Nuwe uitdagings en vrese

Nou verstaan u dalk die titel van hierdie artikel. Die materiële van hierdie Kersfees hét my verbygegaan, en goed so. Maar die kernboodskap van Kersfees, die fundamentele waarheid van die Christelike etos, het nie. Dit het ek mildelik ervaar.

Wat ek nodig gehad het en mildelik ontvang het, was veel meer as wat in die mees etiese professionele verhouding verwag word.

Dit bly waar vir elkeen van ons in ’n tyd wanneer vir baie ongeloof die nuwe geloof geword het. Inteendeel, dit hoort die etos van elke persoon en gemeenskap te kenmerk. Naasteliefde; en wat beteken dit? Om nood in jou medemens raak te sien, om positief daarop te reageer as jy kan, sonder dat jy gevra word, sonder om iets in ruil te verwag. Wat ek nodig gehad het en mildelik ontvang het, was veel meer as wat in die mees etiese professionele verhouding verwag word.

’n Kort slotwoord. My ervaring het my diep geraak en glo ek, tot introspeksie gedwing. Ek het reeds begin met die opstel van ’n lysie van mense wat ek in die afgelope jare afgeskeep het, te na gekom het, teenoor wie ek ’n onnodige harde woord geuiter het, en etlike van hulle reeds geskakel.

Ek is dankbaar dat ek die nuwe jaar fisiek gesonder kon binnegaan as wat ek die oue verlaat het, maar ook herbewapen met ’n nuwe besef van hoe ons as mense met mekaar moet omgaan, van die goue drade wat alle mense oor die eter saambind.

En nou is dit ’n jaar sedert dáárdie Kersfees en ’n tweede is op hande, een met nuwe uitdagings en vrese.

Ek moes intussen nog ’n stent kry – ’n nuwe letsel – maar draf reeds weer. Dit gaan goed, en ek bly dankbaar. Covid gaan my nie onderkry nie.

• De Roubaix is ’n narkotiseur met ’n doktorsgraad in geneeskunde en toegepaste etiek. Hy is die skrywer van Hoop, heling en harmonie: Dink nuut oor siekte en genesing wat deur Penguin uitgegee is.

• Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Kersfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.