Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dié kinders stel regte voorbeeld
Amanda Gouws
Amanda Gouws.

Ek was mateloos beïndruk deur die storie in ’n Sondagkoerant oor die 13-jarige Alexandra Villasenor van New York, Amerika.

Sy het besluit iets moet gedoen word aan die ontkenning van klimaatsverandering, en in Desember 2018 het sy elke dag, ten spyte van die koue, voor die Verenigde Nasies se hoofkantoor met twee plakkate gestaan. Een waarop staan “School Strike 4 Climate” en “COP24 failed us”.

Haar vasberadenheid het tot ’n wêreldwye beweging gelei, aangevuur deur sosiale media. Op 15 Maart gaan leerlinge van ten minste 24 lande (wat insluit Australië, Thailand, Ghana en Frankryk) en 30 Amerikaanse deelstate uit die skool bly om te protesteer teen die gebrek aan optrede teen klimaatsverandering.

Hulle eis dat emissies van fossielbrandstowwe in die volgende tien jaar met die helfte verminder word.

Die groot ironie is dat Alexandra se president een van die grootste ontkenners van klimaatsverandering is. In haar boek No Is Not Enough redeneer Naomi Klein dat pres. Donald Trump se geheul met die fossielenergiesektor een ding is wat misgekyk word te midde van sy baie ander gebreke.

Die aarde se temperatuur het in die afgelope paar dekades met net 1 °C toegeneem, maar ons sien klaar die verskil.

Net nadat hy president geword het, het hy ’n omstrede oliepypleiding in Dakota goedgekeur, ten spyte van ’n verslag oor negatiewe omgewingsimpak en die protes van die inheemse Sioux.

Hy het ook oudpres. Barack Obama se moratorium op steenkoolontginning op federale grond omgekeer, en ’n einde gemaak aan Obama se Clean Power Plan. Verder is Trump ook verantwoordelik vir die ophef van allerhande omgewingsregulasies, wat katastrofiese gevolge vir klimaatsverandering inhou.

Maar Klein maak ook die groter punt dat politieke leiers wat klimaatsverandering ontken, eintlik besig is om neoliberalisme te beskerm. Dit bevorder die idee dat die vryemark altyd reg en staatsinmenging onnodig is.

Dit is ’n ekstreme vorm van kapitalisme waar die enigste rol van die staat is om die openbare sektor te privatiseer en die korporatiewe sektor te dereguleer sodat dit die grootste moontlik ruimte skep vir winsbejag.

Triljoene dollar se winste word uit die oliebedryf gemaak. Die enigste manier om klimaatsverandering onder beheer te kry is deur kollektiewe optrede deur state wat die korporatiewe sektor se optrede sal beperk.

Die hoogste prys vir negatiewe klimaatsverandering gaan deur ontwikkelende lande betaal word.

Die hebsug van diegene wat geld uit olie maak, sal egter bydra om dit verhoed, want dit sal die einde van die neoliberale projek beteken.

Die aarde se temperatuur het in die afgelope paar dekades met net 1 °C toegeneem, maar ons sien klaar die verskil in die ongewone hitte en koue wat met elke seisoenverandering duideliker word. Die menslike spesies het ongeveer tien jaar oor voordat ons onomkeerbare probleme as gevolg van klimaatsverandering gaan ervaar.

Suid-Afrika is ook aangewese op fossielenergie in die vorm van steenkool. Aangesien Eskom in so ’n krisis is, is dit dalk die gewenste tyd om te dink hoe ons ’n positiewe bydrae kan maak deur ons meer toe te spits op groen energie.

Die hoogste prys vir negatiewe klimaatsverandering gaan deur ontwikkelende lande betaal word, wat dit moeiliker sal vind om burgers teen ekstreme hitte en koue en moontlike voedseltekorte te beskerm.

Hierdie jong kinders is ’n voorbeeld vir volwassenes wat vir hulle ’n afgetakelde planeet nalaat. Hulle eis verantwoordbaarheid.

Ek hoop dat Suid-Afrikaanse leerlinge ook op 15 Maart in solidariteit met kinders oor die hele wêreld sal protesteer teen klimaatsverandering.

Gouws is professor in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Amanda Gouws  |  Omgewingsbewaring  |  Aarde  |  Jeug
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.