Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die konsert: Hoe groot (en slim) is Afrikaans?

Beeld gaan steeds verslag doen oor die Afrikaans is Groot (AIG)-konsertreeks en in die opbou gaan ons steeds die publikasie wees waarin jy die meeste daaroor kan lees.

Barnard Beukman

En met reg, want die oorgrote meerderheid van ons lesers het ’n groot belangstelling in hoofstroom- Afrikaanse musiek en kunstenaars en wil graag daaroor lees. Mettertyd het ons by tye – en ook nie altyd nie – opgetree as AIG-mediavennoot wat advertensieruimte ruil vir formele blootstelling daar. Dit is al wat nie voortgaan nie. Maar ons is steeds saam met die eienaars met projekte soos Classics is Groot en Alternatief is Groot.

Weens een kunstenaar se optrede het daar heelwat omstredenheid en verdeeldheid oor AIG ontstaan. Dan word ons deel van die nuus en is dit beter om as nuusinstelling onafhankliker te wees. En om te konsentreer op ons kerntaak van verslag doen oor wat aangaan.

Die verdeeldheid is terloops nie net tussen AIG en die res van die wêreld nie, maar kry ook intern beslag. Verskeie kunstenaars is betrokke. Hul inkomste kan in die gedrang kom oor een mens se optrede waarmee hulle nie noodwendig almal saamstem nie.

Steve Hofmeyr het midde-in die kwessie op sosiale media verwys na verskeie AIG-vergaderings wat gehou en ondernemings wat gegee is. Ek kan my nie vir ’n oomblik voorstel dat dit bloot ’n kwessie van “joegaai, maats, hoe bou ons Afrikaans?”-byeenkomste was nie. Harde woorde sou ook daar geval het oor die gevolge van sy optrede.

AIG is ’n belangrike gebeurtenis, maar nie die enigste plek waar Afrikaans bevorder word nie. Dit is ontwerp om geld te maak met Afrikaanse popliedjies en ballades. Rand en sent sou die hoofoorweging gewees het in besluite oor die pad vorentoe. Ook die nuwe vennoot, Solidariteit se Helpende Hand, het aangedui hy kan uit die opbrengste baat vind.

Die afgelope twee jaar het ’n AIG-wegbreekgroep, Inhoud Huis van Johan Vorster, in Desember suksesvolle Afrikaanse konserte in Hartenbos aangebied. Verlede jaar was AfriForum die naamborg, maar het nou onttrek. Geen openbare rede is verskaf nie en niemand het die organisasie daarvan beskuldig dat hy in die proses Afrikaans ondermyn of boikot nie.

Beeld en ander Afrikaanse publikasies is steeds betrokke by Afrikaanse kunstefeeste, soos Aardklop, Innibos, die KKNK, die Woordfees en die Suidoosterfees, waar sangers, akteurs en skrywers nuut kan skep in Afrikaans en loopbane ontwikkel word. Afrikaans is dus op vele plekke teenwoordig.

Min borgmaatskappye beweeg in ’n suiwer wit, Afrikaanse omgewing met hul sake en gaan gemaklik wees waar omstrede verdeeldheid ontstaan.

AIG is ’n produksie van internasionale gehalte en, ongeag jou musieksmaak, ’n asemrowende belewenis van vier uur aaneen.

Om ’n groep se gedeelde musieksmaak só te vier en “bymekaar te bring wat uit innerlike oortuiging bymekaar hoort”, is ’n demokratiese reg.

Maar wedersydse en interne afdreiging gaan geen standhoudende toekomsmodel bied nie. Afrikaans is wel groot, maar moet ook altyd slim wees.

  • Beukman is redakteur van Beeld.

.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.