Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dié kool is die sous nie werd

Die Engelse gesegde “The best-laid plans of mice and men often go awry” kom in herinnering as ’n mens kyk na die verloop van die regering se pogings om die Covid-19-pandemie teen te werk.

’n Mens kry die gevoel die wiele is besig om af te val, en dat die hoofplanmaker, pres. Cyril Ramaphosa, nie meer die teuels stewig in sy hande vashou nie.

Die situasie word vererger deur Ramaphosa se voorste amptenare – soos die minister van handel, nywerheid en mededinging, Ebrahim Patel – wat moeite doen om eie doele aan te teken.

Patel word in sy kwaad gestook deur sy kollegas soos die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, en die minister van vervoer, Fikile Mbalula.

Verlede week het Patel ’n klomp regulasies aangekondig oor watter soort klere mense mag en nie mag koop nie. Dit is inderdaad “gek”, soos een koerantopskrif dit gestel het.

Patel se bekende ver-linkse (indien nie kommunistiese) onderrok het sommer ver op die grond gesleep. Die vraag is, hoe het die regulasies by Ramaphosa verbygekom? Indien hy dit ooit voor publikasie onder oë gehad het.

Hy het die nasionale bui gelig met niks meer nie as ’n skimp dat vlak 4 van die inperking dalk teen die einde van die maand gelig sal word na vlak 3

Die president het verlede week die nasie op televisie toegespreek. Soos gewoonlik het hy dit goed gedoen, hoewel daar ’n duidelike gebrek aan besonderhede was. Hy het die nasionale bui gelig met niks meer nie as ’n skimp dat vlak 4 van die inperking dalk teen die einde van die maand gelig sal word na vlak 3, maar weer eens versuim om enige beduidende besonderhede te gee oor wat dit alles sal behels.

Intussen drom maatskappye en burgerlike organisasies op die trappe van die land se howe saam, gereed om die wettigheid van die regering se hantering van die inperking te toets.

Dit behoort niemand te verbaas nie. Suid-Afrika is ’n regstaat en Suid-Afrikaners waak jaloers oor hul grondwetlike regte. Die regering het aangedui dat hy die hofaksies sal teenstaan.

Ook dit is nie verbasend nie, maar die regering sal homself ’n guns bewys deur mooi te dink oor die aard van die litigasie wat teen hom beplan word. Hy kan dalk net vind dat baie daarvan meriete het, met ’n meer as redelike kans op sukses. Patel se klereregulasies lyk na ’n ideale kandidaat vir suksesvolle litigasie.

Daar is ’n saak te maak dat die strategie teen Covid-19 inderhaas en onder groot druk opgestel is. Dit is egter nie ’n verskoning vir die vertrapping van burgers se grondwetlike regte nie. ’n Regering se eerste plig is om ten alle koste sy burgers se regte te beskerm.

Ministers soos Dlamini-Zuma, Mbalula, Bheki Cele en Lindiwe Zulu is nie bekend as “vriende van grondwetlike regte” nie. Ramaphosa se verbintenis daartoe is egter nie onder verdenking nie.

Dit opper die vraag waarom hy sy ministers toelaat om los en vas om te gaan met die mense se regte. Hy beskou dalk hul optrede as van verbygaande aard. Dit kan egter ’n fatale fout wees.

Die land kan nie bekostig om die ondemokratiese instinkte van invloedryke ministers van die regerende elite en hul mistastings oor die Grondwet vlak te kyk nie. Op sy beurt kan die president nie bekostig dat sy aanvaarde eerbare voornemens met die Grondwet en stelsel van regering ondermyn word deur ministers in sy kabinet nie.

Covid-19 is ongetwyfeld die grootste uitdaging nog wat ons relatief jong demokrasie in die gesig staar. Tot nou het ons nie te sleg gevaar om dit te bekamp nie. Teen die heersende trant kan die vordering in die stryd teen die pandemie maklik ongedaan gemaak word.

Die laaste ding wat ons nou nodig het, is dat die Grondwet sneuwel in die waan dat die geveg teen Covid-19 dit noodsaak. Dit klink al na ’n geval van die kool is nie die sous werd nie.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Vlak 3  |  President  |  Inperkings  |  Ekonomie  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.