Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die koor as ’n klein weermag

’Nou hoekom sing jy koor?” wil Nataniël se lakoniese alter ego van ’n medekarakter weet in een van sy verhoogverhale, lank voor die opgang van die Ndlovu-jeugkoor.

Kom die antwoord: “Niemand weet rêrig nie. Maar ’n koor word uitgelos. Die bose magte van die wêreld sê nooit: ‘Ek wil die aarde regeer, kry vir my ’n koor nie.’ Daar sit nooit ’n spietkop langs die pad en sê: ‘Hier kom ’n koor, kom ons trek hulle af nie.’ ”

Die onderbou van Nataniël se grap is die spanning tussen twee botsende beelde of gedagtes. Aan die een kant is daar die geykte idee dat ’n koor iets sag en magteloos is – ’n groep siele wat weekliks sing-sing vergader.

’n Groep waarin ’n skugter nuweling aspris anoniem kan raak en wat niks meer agterlaat nie as ’n herinnering van iets moois.

Aan die ander kant is daar die onwaarskynlike beeld van ’n koor as ’n klein weermaggie – intens, gedrewe en gevaarlik – wat onvoorspelbare kragte kan ontketen en wat derhalwe bespied en gepolisieer moet word.

Snaaks hoe eersgenoemde stereotipe wortel geskiet het: goedgemanierde nagtegale wat soos musieknote op kragdrade sit en op versoek tierelier.

Ironies omdat een van die vernaamste voorsate van die moderne koor die koor van antieke Athene was – 12 tot 15 gemaskerde spelers wat gesing en gedans het en ’n onmisbare verpersoonliking van daardie stad se agting vir juis die gesproke woord was.

Die koor was die hart van antieke Athene se kulturele en politieke lewe. Eweneens was die protagonis en kommentaar-lewerende koor die saadjie waaruit die Westerse teatertradisie mettertyd ontstaan het.

In die Afrika-tradisie, waar die animistiese lewensuitkyk aan als lewe verleen het en waar ritueel sentraal staan, is die koor van waarskynlik nóg groter belang. Maar in dié tradisie word die koor nie op ’n verhoog staangemaak sodat gewone mense hulle kan gadeslaan nie. Meesal is die gewone mense – die Westerse gehoor – sélf die koor.

Dis teen dié agtergrond interessant om die ontvangs van die Ndlovu-jeugkoor te oordink. Weens hul vernuftige deelname aan America’s Got Talent (AGT) het hulle vinnig in daardie land en op die internet bekendheid en norrings navolgers verwerf.

Daar sit nooit ’n spietkop langs die pad en sê: ‘Hier kom ’n koor, kom ons trek hulle af nie.’

Hulle volg in die voetspore van ander alombekende en geliefde kore – van die Libertas-koor, wat in die doodsnikke van apartheid die beeld voorgehou het van hoe ’n nierassige Suid-Afrika sou kon lyk, tot Maties se universiteitskoor, wat in 1999 net-net ’n nekomdraaislag oorleef en soos ’n feniks verrys het.

Op een vlak het die Ndlovu-koor en hul energieke dirigent, Ralf Schmitt, natuurlik vir baie Suid-Afrikaners suiwer verligting gebied in ’n tyd toe die idee van ’n openhartige en deernisvolle Suid-Afrika ernstig aan’t wankel was.

AGT se beoordelaars, selfs die bitterbek Simon Cowell, swymel. Tog reageer die Amerikaanse publiek effe minder gunstig – die beoordelaars moes soms die deurslagstem lewer.

Op ’n ander vlak dink ’n mens aan die swart Suid-Afrikaanse koor, waarvan die voortvarende Charlotte Maxeke ’n lid was, wat in die 1890’s deur Brittanje en die VSA getoer het. Hul toer het soms met chaos en dikwels met diepe ontnugtering gepaard gegaan.

Die Amerikaanse etnomusikoloog Veit Erlmann skryf oor hoe hul optredes ’n komplekse onderneming was om met klank, beweging en klere ’n sekere beeld voor te hou wat vir hul vreemde gehore vatbaar sou wees. Met elke optrede van die Ndlovu-koor merk ’n mens iets soortgelyks op.

En vir ’n slag, of hulle nou in die AGT-finaal wen of nie, word ’n koor – gewis ’n klein weermaggie – nié uitgelos nie.

Meer oor:  Ndlovu-Jeugkoor  |  Koorsang  |  Weermag  |  Koor  |  Sang
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.