Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dié korrektheid is veral ’n onding
Leopold Scholtz Foto: Foto24

Die debat oor die vraag of apartheid ’n misdaad teen menslikheid was, het veel geskel en warm lug meegebring, maar weinig substansie. (Terloops: Die begrip misdaad teen die “mensdom” is ’n foutiewe vertaling van die Engelse “crime against humanity”. ’n Misdaad teen menslikheid – wat ook in Duits en Nederlands gebruik word – gee die bedoeling veel beter weer.)

Die debat is aan albei kante gekenmerk deur politieke korrektheid in hoë mate. Met ander woorde, buitensporige gebruik van oordrywings, slagspreuke en onverdraagsaamheid.

Wat is politieke korrektheid? James Peron, president van die libertariese Moorfield Storey-instituut in Kalifornië, stel dit so: “Political correctness is like pornography: we know it when we see it but nobody wants to define it . . .

“It is a collection of beliefs which says other beliefs are immoral and then tries to regulate or censor the immoral beliefs.”

Dis omtrent die beste beskrywing van politieke korrektheid wat ek nóg raakgeloop het. Let goed op, dit dek álmal wat “die ander” as só verkeerd en verderflik beskou dat dié in die buitenste duisternis uitgewerp moet word.

Met Peron se definisie in gedagte is politieke korrektheid geen eksklusiewe eienskap van links of regs nie, maar van álle onverdraagsames.

’n Groep militante jong Afrikanermans het hulle by die hek voor in die straat tuisgemaak en Naudé fisiek verhinder om binne te gaan.

Dit kom nie slegs nou voor nie, maar is eintlik van alle tye. Ek onthou goed toe ek in die 1960’s op hoërskool was, sou ds. Beyers Naudé in ons kerksaal kom praat oor hoekom hy met die NG Kerk se steun vir apartheid verskil. ’n Groep militante jong Afrikanermans het hulle by die hek voor in die straat tuisgemaak en Naudé fisiek verhinder om binne te gaan.

Naudé het destyds ’n onvergeeflike fout begaan: Hy het gebreek met die Afrikaner-establishment en die algemene geloof in die juistheid van apartheid – met die destyds heersende politieke korrektheid. Nie net hý is daardeur uitgewerp nie; ook ander is belaster met ’n onverdraagsaamheid wat ’n uiterste bekrompenheid geïllustreer het.

Natuurlik was Naudé nie foutloos nie. Hy was self só oortuig van sy eie saak dat hy retories te ver gegaan en sy eie saak benadeel het. Ander dissidente – ’n mens dink byvoorbeeld aan N.P. van Wyk Louw en André Hugo, selfs Schalk Pienaar en Piet Cillié – het sagter met hul eie mense gepraat en uiteindelik veel meer sukses behaal.

Naudé het later behoorlik geradikaliseer en in die 1980’s selfs aan betogings onder die rooi banier met die hamer en sekel deelgeneem. Dit neem nie weg nie dat hy in die 1960’s ten onregte onder ons Afrikaners se eie politieke korrektheid deurgeloop het.

Deesdae kom die politieke korrektheid van sowel links as regs. As jy apartheid as misdaad teen menslikheid wil relativeer, is jy ’n afskuwelike rassis; as jy begrip vir die pyn van swart en bruin mense openbaar en op die praktiese onhaalbaarheid van apartheid wys, is jy ’n verwerplike liberalis.

Dié algemene onverdraagsaamheid word verskerp deur moderne kommunikasiemiddels. Ek weet nóú al dat ’n klomp mense, wat dapper agter skuilname wegkruip, hierdie artikel met histeriese kommentaar gaan begroet.

Die onsin wat vroeër langs die braaivleisvuur of in die kroeg kwytgeraak is, het daar gebly. Deesdae word dit op die internet geslinger vir die hele wêreld om te lees. En omdat dit dikwels anoniem gedoen word, meen talle deelnemers die korrektheid van hul standpunt neem eweredig toe met die virtuele desibels waarmee hulle dit uitskreeu.

Politieke korrektheid, links en regs, is ’n onding. Ons sal moet leer om meningsverskille (wat gesond is) op ’n besadigde, waardige en rasionele manier te besleg.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Rassisme  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.