Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die korrupsiebende het nie gaan lê

Dit is duidelik dat die korrupsiebende weier om te gaan lê, maar hy hoop die lang arm van die gereg is nog sterk genoeg om hulle te laat boet, skryf Danny Titus.

Pres. Cyril Ramaphosa is die teiken van korruptes wat nie wil hê hul dade moet aan die groot klok gehang word nie. Foto: Argief

’n Kommentator op RSG spreek sy morele verontwaardiging uit oor die feit dat korrupsie ons staatstrukture so kon besmet het.

Dat ’n adjunkminister van finansies ’n pos as minister aangebied kon word, dat ’n minister van finansies summier afgedank kon word en ’n “weekend special” kon instap met sy eie adviseurs wat bande met die Gupta-familie het.

Die kommentator weet uiteraard dat korrupsie veel dieper in ons staatsbestel gaan nesskop het.

Die hele ANC, en nie net oudpres. (Jacob) Zuma nie, word hierdeur in die sentrum van staatskaping geplaas.

Getuienis voor die Nugent-kommissie en veral die Zondo-kommissie laat ons elke keer regop sit. Soos die onlangse getuienis van die land se voorste banke hoe hulle deur enkele ANC-swaargewigte na Luthuli-huis ontbied is om te kom verduidelik waarom die Guptas se bankrekenings gesluit is.

Sê ’n briefskrywer in die Sowetan verlede week: “. . . die hele ANC, en nie net oudpres. (Jacob) Zuma nie, word hierdeur in die sentrum van staatskaping geplaas. Dit impliseer die top-leierskap soos onder andere Gwede Mantashe, Jessie Duarte en Enoch Godongwana direk.”

Die hoofbeskuldigde is egter Mosebenzi Zwane, voormalige minister van minerale bronne. Hy het sommer gedreig om die banke se lisensies af te neem.

Volgens Nedbank se Mike Brown het Zwane ook gesê dat hy (Brown) moet inspring en werkgeleenthede beskerm. Volgens Brown het Zwane as ’n Gupta-agent opgetree en die banke onder druk probeer plaas.

Hulle gaan terugveg

Oudpres. Jacob Zuma se naam duik gereeld op wanneer dit by beweerde korrupsie en staatskaping kom. Foto: Argief

Terug by die kommentator se morele verontwaardiging: Wie is nog almal so verontwaardig?

Dit bly interessant om te sien hoe daar bewustelik teen pres. Cyril Ramaphosa georganiseer word. Die korrupsiebende het duidelik nie gaan lê nie.

Waarom het die ANC se sekretaris-generaal, tot onlangs nog ’n aktiewe lid van die pro-Zuma-premierliga, met ander en Zuma in Durban vergader?

Ace Magashule het dit eers ontken en die foto in die Sunday Times moes hom oorreed het om sy passies te verander. Magashule se ondersteuners voel nou verontwaardig oor Ramaphosa wat kwansuis nie konsekwent optree teen sy ondersteuner Thabang Makwetla nie. Hy het trouens erken dat hy ook omkoopgeld gevat het.

Dat dit duidelik ’n ander geval is wat op sy eie meriete hanteer moet word, is vir Magashule se ondersteuners nie van belang nie. Hulle stel nou sommer die korrupsie van die Bosasa-maatskappy wat lank gedy het in die Zuma-era, gelyk aan Ramaphosa se kommissies van ondersoek. Tot die veterane van Umkhonto we Sizwe praat nou van die stryd teen korrupsie en dat die instel van geregtelike kommissies universeel moet wees en op almal van toepassing moet wees, nie net “sekere politici” (lees Zuma) nie.

Tot Ajay Gupta bevraagteken nou die voormalige adjunkminister Mcebisi Jonas se bewering dat hy enigsins ’n aanbod aan hom gemaak het om minister te word.

Ja-nee, die ouens gaan terugveg.

Tot Ajay Gupta bevraagteken nou die voormalige adjunkminister Mcebisi Jonas se bewering dat hy enigsins ’n aanbod aan hom gemaak het om minister te word.

Hy verwyt ook die voormalige openbare beskermer adv. Thuli Madonsela dat sy hom leidende vrae gevra het tydens haar ondersoek.

Madonsela is duidelik: “Hy het aanmekaar gehuil en het my oor en oor bedank dat ek ingestem het om hom te ontmoet.”

Ná die nuutgevonde ontkennings van Gupta vra Madonsela dat hy die bandopname van die gesprek moet uitreik dat ons kan sien wie lieg.

‘Wat is staatskaping?’

Die pêre sukkel nie. Hy baklei terug. En die morele verontwaardiging? ’n Mens dink sommer aan die Trevor Noah-skets oor Zuma se “minagting” van taalreëls: “What rules? For who?” Wie se morele verontwaardiging? Ons het niks verkeerd gedoen nie.

Soos Zuma sê, daar was g’n staatskaping nie. Dis maar ’n woord wat julle gebruik. Die dans rondom ons wetstoepassing en ons agentskappe het begin. Die Stalingrad-opsie waarmee jy jou teenstander uitput het die vorige president vir jare uit die howe gehou. Waarom sal hulle nie daarmee voortgaan nie?

Danny Titus

Korrupsie? Skuus meneer, hoe spel jy dit? Korrupsie? Dis nogal ’n ernstige aanklag nè! Bewys dit maar. Ek is tog seker onskuldig totdat ek deur ’n geregshof skuldig bevind is! Om weer te hoor hoe die beskuldigdes met Noah se stem praat: “. . . corruption? That is bad hey? Very bad.”

Hulle sal saamstem met die kommentator, hulle is net so moreel verontwaardig daaroor.

Die joernalis Stephan Hofstatter se boek Licence to Loot dokumenteer hoe Eskom en ander semistaatsondernemings Suid-Afrika byna gekelder het.

Is ons regterlike mag werklik so onafhanklik en daarmee saam ons strafregstelsel, polisie, nasionale vervolgingsgesag en korrektiewe dienste, die lang arm van die gereg?

Jacques Pauw se boek het seker al begin stof vergaar. Pieter-Louis Myburgh se The Republic of Gupta seker ook. Om nie te praat van Robin Renwick se How to Steal a Country of Crispian Olver se How to Steal a City nie. Ek hoop die wetstoepassingsagentskappe lees hierdie boeke; meer nog: bestudeer dit.

Ek raak yskoud as ek lees dat die Moerane-kommissie ná die politieke moorde in KwaZulu-Natal geen aanbevelings vir vervolging gemaak het nie.

Waarheen gaan die Zondo-kommissie? Is ons regterlike mag werklik so onafhanklik en daarmee saam ons strafregstelsel, polisie, nasionale vervolgingsgesag en korrektiewe dienste, die lang arm van die gereg?

Miskien.

Wat ons egter daagliks op soveel vlakke sien, is hoe die lang arm met gemak weggeklap word.

* Dr. Danny Titus is uitvoerende hoof van korporatiewe aangeleenthede van die ATKV.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Jacob Zuma  |  Danny Titus  |  Staatskaping  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.