Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die ‘koste’ van die US-uitspraak

Die prys van vryheid kan nie net in rand en sent gemeet word nie. Dit moet ook gemeet word in terme van mense se menswaardigheid en ons vryheid om ons tale te gebruik daar waar ons ons menswees uitleef, skryf Wannie Carstens.

Die konstitusionele hof het bevind die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid is in ooreenstemming met die Grondwet. Foto: Argief

Verlede week se uitspraak deur die konstitusionele hof oor Gelyke Kanse se aansoek om die Universiteit Stellenbosch (US) se omstrede 2016-beleid tersyde te stel, het toe op 10 Oktober gekom.

Ons wat in die taalbedryf en in sektore werk waar die kompleksiteit van ons land se tale daagliks ’n rol speel (in die klaskamer, die hof, die kerk, die winkels, die media, en elders) het die uitspraak met ’n mate van spanning afgewag.

Natuurlik was daar diegene (veral die US-Raad) wat gehoop het die saak word in die guns van die US beslis en dan was daar diegene wat gehoop het die munt sal vir húlle reg val. Want vir almal was daar baie op die spel.

Vir baie mense was daar inderdaad die vraag of die grondwetlike bepalings van 1996 die papier werd is waarop dit geskryf is.

Ons stry naamlik al lank oor en vir ons tale en ons probeer in hierdie proses ’n oplossing uitwerk waarmee die meeste kan saamleef, een waarbinne daar ruimte vir ál ons tale sal wees.

Vir baie mense was daar inderdaad die vraag of die grondwetlike bepalings van 1996 die papier werd is waarop dit geskryf is omdat die uitvoer daarvan die afgelope aantal jare uiters gebrekkig is.

Ons het gehoop die uitspraak sou hieroor finaliteit bring veral nadat daar die afgelope tyd reeds soveel vreemde uitsprake teen die gees van die Grondwet was, soos die uitspraak in 2016 dat die Universiteit van die Vrystaat Engels as die primêre onderrigtaal mag gebruik, die eensydige besluit in 2017 deur die hoofregter dat Engels die taal van die regstelsel sal wees. En dan praat ek nie eens van die here Panyaza Lesufi en Blade Nzimandi se onlangse duidelik oningeligte uitsprake oor Akademia nie. (Ironies word Akademia nou aanbeveel as model vir taalbevordering.)

‘Koste’ gaan nie net oor geld nie

Daar is talle mense wat al lank sê daar is geen erns met die bestuur van tale in die land nie – en hulle is in ’n belangrike mate reg. Want die druk op Afrikaans en die verwaarlosing van die Afrikatale is daar vir almal om te sien.

Maar dan is daar ook ander wat glo in die objektiwiteit van die regstelsel: dat die Grondwet volgens die betekenis van die woorde daarin geïnterpreteer sal word. Dat die hof die ruimte sal gee vir die uitvoer van die beginsel van meertaligheid (en die gelykheid van tale) waaraan al 25 jaar baie hard gewerk word. Want dit is ons droom: dat ons volwaardig meertalig kan word in doen en denke.

Die 'koste' wat ter sprake is, is egter nie net geld nie, maar ook op soveel ander vlakke.

Maar ons was verkeerd en naïef om te dink dat dit enigsins sou gebeur. Hoop beskaam egter mos nie!

En daarom is die teleurstelling so groot, want die uitkoms was helaas die teenoorgestelde van wat in algemene taalkringe verwag is.

Die US is naamlik “reg” (want dit gaan te veel kos) en die res van die tale moet nou maar aan die agterspeen suig. Gaan lees gerus die edele regters se argumentasie oor hoe hulle by hul “koste”-besluit uitgekom het. Duidelik het taaloorwegings nie na behore gegeld nie. Dit staan daar oop en bloot vir almal om te sien hoe eensydig die argumente is.

Die “koste” wat ter sprake is, is egter nie net geld nie, maar ook op soveel ander vlakke: die intrinsieke waarde van tale, die regte van gebruikers van tale, die menswaardigheid gekoppel aan die gebruik van die onderskeie tale, die maatskaplike koste van grootskaalse verengelsing in ’n veeltalige land.

Engels word beskerm as hoogste taal in SA

’n Betoger in 2018 by die Hoërskool Overvaal in Vereeniging. Foto: Felix Dlangamandla

Is ek onnodig pessimisties? Ek dink nie so nie. Ek werk darem al lank genoeg met tale om patrone te kan raaksien. Is ek alarmisties? Moontlik, maar weer eens dink ek nie so nie.

Laat ek tog slegs enkele kwessies uitlig oor die langtermyngevolge van die uitspraak vir die tale in ons land ter ondersteuning van wat ek sê.

* Engels is nou (finaal) lekker knus beskerm as die hoogste taal in die land. Die uitspraak bevestig dit implisiet. Diegene wat nie Engels ken nie, moet dit maar onder die knie kry, is die advies volgens die uitspraak. Dit ten spyte van die breedvoerige en nogal wetenskaplik gestaafde argumente wat regter Johan Froneman aanhaal oor die belang van moedertaalonderrig en die talle gevare wat Engels as dominante taal in ’n land met soveel verskeidenheid en soveel verskeurdheid inhou. Iets klop hier nie.

Die taalgemeenskappe van die ander tale (wat nie Engels insluit nie) moet nou na hul eie belange kyk.

* Die tien ander tale is kragtens die breë strekking van die uitspraak afgerangeer tot mindere tale ongeag wat in die uitspraak staan. Meertaligheid is nou duidelik nie meer ’n verpligting van die staat (in sy breë betekenis raak dit ook skole, universiteite, staatsinstellings, ens.) nie. Durf ek sê dat politiek en dalk ideologie swaarder hier geweeg het?

* Moedertaalonderrig is wel belangrik (dankie vir die erken daarvan, regter Froneman), maar die taalgemeenskappe van die ander tale (wat nie Engels insluit nie) moet nou na hul eie belange kyk. Julle moet nie hulp van die staat se kant verwag nie, want dit gaan te veel kos, is wat daar staan. Gaan lees gerus wat Froneman sê oor hoe “alumni en ander welwillendes (. . . . ) bymekaar (moet kom) om ’n gewaarwording aan te wakker wat klem lê op die nood van minder toegeruste siXhosa- en bruin en swart Afrikaanssprekende gemeenskappe om toegang te kry tot die universiteit se akademiese uitnemendheid”.

Dit word ook in regter Mogoeng Mogoeng se uitspraak uitgelig: “ . . . . it is most fitting to appeal particularly to our corporate citizens’ spirit of generosity, to help preserve Afrikaans, and develop other indigenous languages, as essential tools for knowledge impartation and comprehension.”

Wat beteken dit in die praktyk?

Die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl. Foto: Argief

In wese staan daar: “Die staat gaan nie vir Afrikaans sorg nie en om regverdig te wees ook nie vir ander tale nie. Julle is op julle eie, maar probeer tog mekaar help as julle kan.”

Dit raak hier universiteite, maar vanselfsprekend gaan dit mettertyd deurwerk na skole en dan verder in die gemeenskappe na ander funksies. Dit is ’n bedenklike manier om verantwoordelikheid te ontduik, veral as daar soveel rus op die uitspraak in die saak.

* Vir Afrikaans se waarde as onderrigtaal op skool en universiteit is dit ’n groot terugslag, baie groter as wat diegene dink wat nou so fees vier oor die US se “wen”. Moenie die mooi woorde glo wat in ’n beleid hieroor staan nie, want beleide is maar net woorde op papier. Die uitvoer daarvan is die probleem, soos ons reeds oor die praktyk aan die US gehoor het by die Matie-student Frederik van Dyk wat oor die naweek hieroor in Rapport geskryf het. Dit eggo wat by ander US-studente gehoor word. Maar vir die nege ander amptelike tale is dit ’n nog groter terugslag omdat daar nou nie meer regtig ’n verpligting is om die gees van die grondwetlike taalbepalings waar te maak nie. En as ’n amptenaar nie iets hoef te doen nie, gaan dit mos ook nie gedoen word nie – dit weet ons baie goed.

Die kans dat een van die Afrikatale tot die vlak van Afrikaans (en natuurlik Engels, want die tale is mos gelyk of hoe?) gaan ontwikkel, het daarom Donderdag gestol. Die koste-argument gaan nou gereeld gebruik word en mettertyd gaan daar nie eens van die ander tale gepraat word nie.

* Lippetaal oor taalontwikkeling gaan nou aan die orde van die dag wees, soos onlangs toe pres. Cyril Ramaphosa op Erfenisdag gepraat het oor die gelykheid van ons tale. Ons het hom nogal geglo.

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, wetenskap en tegnologie. Foto: Argief

Volgens NetNuus van 12 Oktober het Nzimande egter reeds Vrydag die volgende denksprong in hierdie verband gemaak toe hy oor Afrikaans in die parlement gevra is: Suid-Afrikaanse universiteite “het wegbeweeg van Afrikaans as onderrigtaal”. “Dit is in ooreenstemming met die Grondwet.” Sjoe, nogal! Vanwaar Gehasi? Dit staan nie so in die uitspraak nie, maar die verantwoordelike minister het al klaar sy eie interpretasie daaraan geheg. En dit gaan nou onvermydelik die narratief vanaf staatskant word.

* Een van die winste van die nuwe Suid-Afrika in 1994 was juis dat die ou bedeling van voorkeur aan slegs twéé tale verby was en dat ons kon uitsien hoe alle tale uiteindelik die kans gaan kry om te word wat dit behoort te wees: volwaardige standaardtale wat in alle funksies gebruik word. Ons in die taalbedryf het gedroom dat dit waar gaan word en ons het ook hard gewerk om dit te laat geskied.

Daardie “droom” is egter nou verby. Die regter vra nogal dat ons die “grondwetlike droom” in hierdie verband lewendig hou. Maar hoe doen ’n mens dit as die spreekwoordelike grondwetlike mat (finaal?) onder jou voete uitgeruk word?

Taal en menswaardigheid

Prof. Wannie Carstens. Foto: Susan Cilliers

Die prys van vryheid, ook van ons tale, in 1994 kan nie net in rand en sent gemeet word nie, soos dit nou gerieflikheidshalwe die geval was. (En dan is ons ook nog onseker of die koste korrek bereken is. Dalk kan die US se departement ekonomie vir ons ’n behoorlike wetenskaplike studie hieroor doen?) Dit moet ook in terme van mense se menswaardigheid gemeet word, en een van hierdie faktore is ons vryheid om ons tale te gebruik daar waar ons ons menswees uitleef. (Lees wat Froneman hieroor sê. Heel ironies.) Ons moet ons linguistiese vryheid uitleef, sê hy. Maar hóé as die raamwerk waarbinne dit gedoen moet word eensydig geïnterpreteer word?

En vanuit staatskant geld dit nou as riglyn omdat die uitspraak so sê.

Die geskiedenisboeke gaan diegene wat hierdie uitspraak gemaak het of daartoe gelei het, eendag oordeel en dit gaan beslis nie in ’n positiewe lig wees nie. Die betrokkenes gaan ongelukkig dan nie meer hier wees om die gevolge te ervaar nie, maar hul nalatenskap bind nou die volgende geslagte. Is dit wat hulle wil nalaat?

Ons het nou terug beweeg en beslis nie vorentoe nie. Want ons meertalige droom gaan nou op lang termyn ’n hartseer eentalige werklikheid word.

Bereidwilligheid om sáám ’n oplossing te soek (en daar is báie pogings aangewend om dit moontlik te maak, kan ek getuig), beter luister na die behoeftes van sprekers van tale anders as Engels en beter begrip vir die kompleksiteite van ons verskeurde land kon en moes tot ’n beter uitspraak gelei het, een wat die taaldroom lewendig moes gehou het.

Ons het nou terug beweeg en beslis nie vorentoe nie. Want ons meertalige droom gaan nou op lang termyn ’n hartseer eentalige werklikheid word. As jy my nie glo nie, gaan lees dan die uitspraak.

Ek glo hierdie hele debakel kon vermy gewees het as daar ’n bereidwilligheid was om gesamentlik ’n oplossing te vind. Ons lewe in ’n land waar kompromieë noodsaaklik is sodat ons ons verlede kan hanteer. Maar as een kant nie wil praat nie, dan kom jy op so ’n punt. Tragies.

* Prof. Wannie Carstens is ’n taalkundige en oudraadslid van die US (Konvokasieverteenwoordiger). Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.