Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die kuns om in ‘ongetemde lande’ te oorleef

Eeue lank al besoek reisigers en jagters Suider-Afrika. Dit het begin toe die binneland nog onbekend vir die Europeër was. Beroemde reisigers sluit in Peter Kolbe (1705-1713), Francois Levaillant (1781-1784) en William Cornwallis Harris (1836-1838).

Dit is misleidend om die Engelse woord explorer met “ontdekkingsreisiger” te vertaal. Wat hy “ontdek” het, was lankal bekend aan die plaaslike mense. Hierdie geesdriftige explorers was dus eintlik ondersoekers.

Reise na die binneland het teen die middel van die 19de eeu só gewild geword dat Francis Galton, wie se Travels in South Africa oor sy reis in suidwes-Afrika in 1853 verskyn het, besluit het om ’n handleiding te skryf oor hoe jy vir so ’n tog moet voorberei. Twee jaar later het sy The Art of Travel; or, Shifts and Contrivances Available in Wild Countries verskyn.

Galton, ’n neef van Charles Darwin, het die teks gereeld bygewerk soos nuwe inligting bekend geword het. Tot 1893 het dit agt uitgawes belewe. Die 1872-uitgawe beslaan 354 bladsye teks.

Alle inligting het uit die praktiese ervaring van sowel Galton as mede-ondersoekers gekom.

Ons moet ook onthou die Victoriaanse tydperk het ’n passie vir die wetenskap en sy tegnologiese vernuwings gehad.

’n Goeie begin, sê Galton, eresekretaris van die Royal Geographical Society in Londen, is om by geografiese, etnologiese en antropologiese verenigings aan te sluit, waar jy inligting oor “rude and savage countries” kan verkry.

Wat die geselskap betref, is dit goed om die vroue van inheemse mans saam te neem. “It gives great life to the party”, en hulle tel maklik plaaslike stories op.

Bowendien verduur ’n vrou ’n lang reis byna net so goed soos ’n man.

Bowendien verduur ’n vrou ’n lang reis byna net so goed soos ’n man.

’n Lang lys van toerusting word aanbeveel en in besonderhede bespreek, onder meer twee byle, verskeie messoorte, ’n skêr, vishoeke, ’n kersgietvorm, klein tente, pale en tentpenne, genoeg kruit vir jagdoeleindes (jy kry tien voorlaaierskote uit een pond oftewel 454 g kruit), ’n behoorlike kompas, ’n lantern, horlosies, eetgerei en potte en panne, tee, koffie, tabak, sout en peper, brandewyn of rum, en suiker.

’n Lang lys medisyne word aanbeveel. Poeiers is belangrik – sulfaat, sink, kinien, daarbenewens gliserine, silwernitraat en Warburg se koorsdruppels.

Vir naarheid “drink a charge of gunpowder in a tumblerful of warm water or soap-suds”. Vir slangbyt en met gebrek aan ’n brandmiddel “explode gunpowder in the wound”.

Voorkom blase aan die voete deur seepwater in die sokkies te gooi. Wat klere betref, is flanel uitstekend, maar katoen laat jou te veel sweet.

Geskenke is baie belangrik. Betaal vir klein dienste met krale, skulpe, tabak, naalde of byltjies. Krale is die inheemse mense se juwele, neem dus sakke vol daarvan saam, want met 20 kg s’n kom jy nie ver nie.

Baie aandag word gegee aan opmetingsinstrumente, seepvervaardiging, vuurmaak, die voedingswaarde van kos, kampplekke, hoe gemaak as jy verdwaal het, vlotbou, en hoe om te kyk vir water.

Drink diere se buikvloeistof, as dit moet.

En as ’n wilde dier storm, pypkan hom: “Few animals turn, if the rush be unsuccessful.” Behalwe ’n buffel.

Bon voyage!

  • Pretorius is emeritus-professor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.
Meer oor:  Fransjohan Pretorius
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.