Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die kuns van pad beduie is ’n verlore kuns

Nee, ek het nie ’n GPS nie. Op my slimfoon kan dalk een wees, maar ek het dit nog nooit gebruik nie.

Ek is die ou wat jou by ’n vulstasie of op ’n sypaadjie voorkeer en vra om my die pad hiernatoe of daarnatoe te verduidelik – die een wat gereeld moet hoor: “Het jy nie ’n GPS nie?” Mense kan lekker ongeduldig met jou raak, hoor.

Dana Snyman

Hoe vinnig verander ’n nuwe tegnologiese ontwikkeling nie iets in party van ons se persoonlikhede nie.

Party mans, dit was altyd ’n man, het hul eens geroem op hul vermoë om vir jou ’n pad te kan verduidelik.

Ons almal ken so ’n ou. Hy sou maklik iemand in die rede geval het wat besig was om vir jou aanwysings te gee: “Nee, kom ek verduidelik vir jou. Jy draai hier voor regs, en dan . . .”

Nou ry daardie selfde ou in sy groot bakkie rond, met ’n GPS hier voor teen die ruit vasgeplak, en kyk meerwaardig na jou as jy vir hom sê jy het nie ’n GPS nie.

Dis die kêrel wat nie rus vir sy siel sal kry voordat hy nie ’n GPS-koördinaat vir elke paadjie en driffie in Suider-Afrika het nie. ’n GPS het vir hom iets met manlikheid te doen. Om in beheer te wees. Ook van die omgewing.

Hoe ironies: Dit is ook die ou wat vir jou sou sê ’n vrou weet nie hoe om pad te verduidelik nie. En nou voer hy dikwels gedienstig die bevele uit wat die vrouestem oor sy GPS vir hom gee: “In fifty meters turn left . . .”

Is dit nie soms nodig om ’n bietjie te verdwaal as jy nuwe ontdekkings in die omgewing en oor jouself wil maak nie?

Is dit nie soms nodig om ’n te verdwaal as jy ontdekkings oor die omgewing en jouself wil maak nie?

Of dis seker nie regtig wat jy wil doen as jy iewers by ’n dringende afspraak moet uitkom en nie die pad soontoe kry nie.

Maar iets in my verlang terug na die dae toe jy by ’n oom langs die pad kon stilhou en hom vra: “Hoe nou verder, Oom?” ’n Oom wat jou tydsaam terug op die regte pad kon kry.

“Jy ry nou hiervandaan, reguit. Ry net reguit tot by die tweede stop. Op linkerkant sal jy ’n gebou met ’n blou dak sien. Dis die bakkery. Bak die lekkerste brood . . .” Inligting wat geen GPS vir jou kan gee nie. Of kan dit?

So ’n oom se aanwysings het soms ook ’n kort geskiedenisles ingesluit. “Dan gaan jy af teen daardie afdraand, onder maak die pad so ’n draai, en dan gaan jy oor ’n bruggie. Ou generaal De Wet-hulle is tydens die Boere-oorlog met hul perde daardeur . . .”

Soms het so ’n oom ook vir jou gewys op dit wat nie meer daar is nie. “Nes jy deur daardie dippie is, op linkerkant, was daar eens ’n sementdam . . .”

Die kuns van pad beduie is ’n verlore kuns. In hierdie verdwaalde wêreld verbeel ons ons toenemend ons weet presies waar ons is.

Miskien sal ek ook maar die een of ander tyd die GPS op my foon begin gebruik.

Ek weet nie. ’n Mens is van weinig meer op aarde seker.

Meer oor:  Dana Snyman  |  Van Alle Kante  |  Pad Beduie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.