Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die kussingkêrel

Sy is trots om aan te kondig dat sy ’n man gevind het wat snoesig saam met haar tussen die lakens lê terwyl wind en weer buite woed. En hy is perfek, skryf Erla-Mari Diedericks.

Erla-Mari Diedericks

Ek slaap deesdae saam met my heater. Ek bedoel nie die verwarmer word aangeskakel waar dit dan gloeiend op die bedkassie staan en prut of wat dit ook al is wat verwarmers doen nie.

Nee, die heater slaap saam met my binne die bed. Dis so ’n klein blaasverwarmertjie en ek sit dit bo-op die bed en draai dan my rug sodat dit my van agter kan warm blaas. Amper soos die hitte van ’n ander lyf.

As ’n mens begin lepellê met ’n heater moet jy dalk daaraan begin dink om ’n man te kry.

’n Lekker, warm manslyf wat sy arms om jou kan vou en saam met wie jy snoesig tussen die lakens kan inkruip terwyl wind en weer buite woed.

Ek is trots om aan te kondig dat ek so ’n man gevind het.

En hy is perfek. Ek wil nie te veel spog nie, maar hy het ’n sixpack. Ek het nooit gedink ek sou vir die gym-tipe val nie, maar die gevoel van ’n gespierde bolyf teen myne kon ek net nie weerstaan nie. Tog is hy ook cuddly. Dis darem nie net senings en spiere nie.

Daar is wel vereistes en voorwaardes.

Hy kom met die belofte om nie te snork nie. Ook is daar nie ’n kans dat hy op sy selfoon sal rondsnuffel net voor slaaptyd, aandring om sport te kyk in die bed of meteens in my hare sal mompel dat hy ’n skelm verhouding het/dalk sy werk gaan verloor/of nie meer seker is oor commitment nie. Hy is daar om my warm te hou en lekker te laat slaap – nie om my wakker te hou nie.

Soos wat ek gesê het, dames, die man is perfek.

’n Perfekte sixpack. Maar waar is die kop?

Al wat my egter pla oor my bedmaat, is sy kleur. Hy is nie wit nie. Hy is ook nie swart of bruin nie. Hy is so ’n vreemde pienkerige kleur. Daar is ook ’n paar ander klein probleempies. Soos dat hy nie ’n kop het nie. Of bene nie. Dis natuurlik ook nie al wat hy nié het nie, maar ek voel ons kan die probleem oorbrug, want ’n perfekte man is moeilik om te vind.

Maar ek het hom gekry. My kussingkêrel. Op Amazon. En op Taobao.com. Die Boyfriend Pillow. Wat meer het ek nodig? Dis nie ’n nuwe ding nie.

Dis ’n gewilde internet-verkoper en waar die ene op Amazon net een arm het, het die Taobao-kêrel darem twee arms – en ’n sixpack!

Dit was glo ’n student wat die Tabao-kussing vir gemak en ’n liefdevolle nagrus ontwerp het. Jy kan die kussing se arms met Velcro om jou lyf vasmaak wat beteken dat jy die hele nag totdat die son opkom in ’n snoesige omhelsing gewikkel sal wees. As jy meer ruimte verlang, is die eenarm-boyfriend dalk eerder vir jou.

Net een arm om jou mee warm te hou...

Wat my egter pla van die “one-arm bandit” wat op Amazon verkoop word, is dat dit ’n hemp aan het. Die hemp is wel van suiwer katoen en dien natuurlik as ’n soort kussingsloop, want onthou – dié kêrel is ’n volwaardige kussing. Dis nie net ’n foefie nie.

Ek verkies egter my mans kaal in die bed.

Op die internet is daar ook ’n paar ander kussingkêrels om uit te kies. Daar is ’n gespierde fluweelagtige kussing wat kom in verskillende kleure van bruin, kompleet met ’n vasgewerkte knopie vir ’n nippel.

Dis beskikbaar by WallMart.

Die ene op Amazon kom in ’n blou of pienk hemp en belowe ’n “authentic cuddle experience”. En soos wat baie vroue weet, is daar deesdae min mans wat “authentic” is.

Boonop kan jy hom in die wasmasjien was!

Ek sien al hoe gooi ek my kussingkêrel in die wasmasjien, en kyk hoe sy lyf om en om tuimel soos ’n stukkend gekapte lyk wat doelloos in ’n maalkolk van verdriet wentel.

Dan haal ek hom druppend uit en prop hom in die tuimeldroër. En wat dan? Wat as hy uitkom en gekrimp het? Of, erger nog, wat as hy sy bons verloor het en nou net ’n papperige, knopperige kussing is?

Want ek weet wat ek met papperige en knopperige mans maak. Ek smyt hulle in die asdrom.

* Diedericks is 'n redaksielid van Netwerk24. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Erla-Mari Diedericks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.