Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die land is aan jou kant, Cyril

Ingeligte bespiegeling uit die ANC-wandelgange is dat pres. Cyril Ramaphosa sy rug styf maak teen mense soos die party se sekretaris-generaal, Ace Magashule, wat Ramaphosa wil ondermyn in sy missie om die land van oudpres. Jacob Zuma se vergrype en misbruik van mag te verlos.

Dit is goeie nuus en ’n mens hoop dat die president môreaand in sy staatsrede hom sterk en meer spesifiek hieroor sal uitspreek. Niemand verwag van hom om name te noem nie; die nasie verwag net om meer staal in sy veroordeling van staatskaping en -kapers te hoor.

Dis tyd dat die korruptes in die ANC in duidelike taal hoor hul dae is getel. Dit is die opdrag wat Ramaphosa op 8 Mei van die land se kiesers gekry het en hy het ’n grondwetlike verpligting om daaraan gehoor te gee.

Magashule en kie het ’n oordrewe illusie van hul mag en invloed. Ramaphosa moet dit sy missie maak om dit ongedaan te maak. Hy moet hulle om elke hoek en draai vasvat. Hulle mag nie vir ’n oomblik twyfel oor sy verbintenis om hulle skadeloos te stel nie.

Dít is wat bedoel word deur diegene wat die president aanmoedig om die geveg na die korruptes in die ANC en die regering te neem.

Ramaphosa moet versigtig wees om nie dieselfde foute te maak as die Britse premier, Theresa May, en haar regering met die Brexit-proses nie.

Ramaphosa moet versigtig wees om nie dieselfde foute te maak as die Britse premier, Theresa May, en haar regering met die Brexit-proses nie.

Britse kiesers het ’n klein, maar betekenisvolle besluit geneem om die land aan die Europese Unie (EU) te onttrek.

Pleks van gehoor te gee aan die kiesers se besluit, het May en die regerende Konserwatiewe Party ’n groot gemors daarvan gemaak, wat haar uiteindelik die leierskap van die party en haar premierskap gekos het.

Dit is hoe die demokrasie werk. Doen wat die kiesers jou gevra het, nieteenstaande die grootte van die marge van die oorwinning by die stembus.

Daar is baie wat sê Ramaphosa se mandaat in die verkiesing is te klein en daarom het hy nie ’n behoorlike mandaat nie. Dieselfde is gesê van sy mandaat in die ANC se leierskapverkiesing in Desember 2017.

Die punt is, hy het gewen en het ’n mandaat. Hy moet nou toegelaat word om uitvoering aan die mandaat te gee.

Ramaphosa moet môreaand in sy staatsrede met sy eie stem praat. Hopelik sal hy duidelik wees oor die morsige erflating van die Zuma-jare en oor hoe hy beplan om die land daaruit te kry.

Ons het ’n idee van hoe hy dink, maar ons wil nou weet wat hy prakties gaan doen om die verrotting te stuit.

Ons het ’n idee van hoe hy dink, maar ons wil nou weet wat hy prakties gaan doen om die verrotting te stuit.

Berigte die afgelope naweek dui daarop dat Magashule probeer het om die aanstelling van voorsitters van parlementêre portefeuljekomitees te beïnvloed deur sy eie pro-Zuma-kandidate aan te stel. Ramaphosa het glo van die plan te hore gekom terwyl hy by ’n kabinet-lekgotla in Pretoria was.

Hy het ’n stokkie daarvoor gesteek deur ’n vergadering waar die name bekend gemaak sou word, te kanselleer.

Meer belangrik, ’n onafhanklike ondersoek na Magashule se vermeende betrokkenheid by die stigting van ’n opposisieparty om die ANC teen te staan in die verkiesing word beskou as die sterkste sein dat Ramaphosa op die oorlogspad is teen sy vyande. Magashule se probleem is dat hy nie veel kan staatmaak op steun van gewone Suid-Afrikaners nie. Ramaphosa kan wel.

Die president se bewese steun onder die algemene publiek kan ook neerslag vind in die ANC, ’n verwikkeling wat niks goeds vir die Magashule-kamp sal inhou nie.

Ramaphosa moet vertroue uit hierdie verwikkelinge put om sy posisie in die ANC te konsolideer. Hy moet die druk op Magashule hou en alles in sy vermoë doen om hom en sy makkers te isoleer en uiteindelik uit te knikker.

Die land is aan sy kant.

Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Cyril Ramaphosa  |  Korrupsie  |  Presidentskap  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.