Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die lang messe het inderdaad toe begin kap
Martie Retief Meiring

Wat help dit tog om jou vinger in die dyk te druk?

Aan die een kant hoor ons dat die gedrukte media ’n afrondingsfout is (dit het iets met dataverwerking te doen). Nogtans sterf koerante ’n uitmergelende uitgerekte dood.

Aan die ander kant het Afrikaans geen gelyke kans by die Universiteit Stellenbosch (US) nie, en dus by geen ander universiteit nie, en ook dus binnekort nie meer by hoërskole nie.

Dis verby, Doris Day (hoewel die US darem baie vroom nog ’n departement van Afrikaans behou.)

Jy wil-wil nog dink en nou wat van N.P. van Wyk Louw, Antjie Krog, Breyten Breytenbach, Pieter Odendaal en ’n falanks ander digters en skrywers, waarvan die sogenaamde hoër instansie (die universiteit) en ’n klompie regsmense meen daar’s geen kans, ou gans, vir ’n taal om weer sy prysliedere, sy protesliedere, die goeie (en afskuwelike) te ontwikkel nie.

In die idioom van die toekoms, who cares? Flip Buys cares.

In die idioom van die toekoms, who cares? Flip Buys cares. Jy het nog gedink al Buys waarvan jy eintlik weet, is daardie ou wetter Coenraad Buys met al sy vroue en dwarstrekkery. Maar hierdie Buys is bebaard, bedaard, bebril, korrek en direk. Laat die konstitusionele hof hom maar uitspreek teen Afrikaans as ’n voertaal by die universiteit, Buys en sy bondgenote het ander planne.

Hulle bou. Hulle het klaar gebou aan ’n akademiese hoër instelling (lees universiteit); nou aan ’n tegniese hoër instelling, en hulle ondersteun ’n skare skole.

Hulle doen ook hulpverlening aan enige taal, enige kleur (al gehoor van Helpende Hand?) Die Buyse voorsien regsbystand, vir watter kleur ook al (ahem, Gerrie Nel is daar, amper soos ’n bulhond-waarskuwing: Hier lol jy nie.)

Toegegee, Ernst Roets, ook ’n Buys Boy, is nie bang vir die kryt nie

Toegegee, Ernst Roets, ook ’n Buys Boy, is nie bang vir die kryt nie. Rammetjie uitnek en nogal sterk in die Queen’s English.

Nou, omdat die grondgedagte van die akademici en regters blyk te wees dat ons mekaar nie in enige ander taal as Engels (hoe swak dit ook al mag wees) gaan verstaan nie, en voorts lippediens moet verleen aan die ander inheemse tale, wonder jy of die besluitnemers ooit Met woorde soos met kerse van Antjie Krog gelees het.

Wil jy weet hoe die digters van ons ander tale gedink het? Wat het hulle van wit mense gedink, van hulself, van hul leiers en hul geskiedenis?

Onthou jy Adam Small se vers uit Kô lat ons sing – “ . . . maak vi’ ons lig moet hierie woorde soes moet kerse . . .”? Krog haal dit as motto aan.

Dis die boek wat jy in die rugsak saamdra (al in 2002 gedruk) en dan staan jy weer stil by /Xam, lees hartroerend van //Kabbo, en dan die ander tale met die digters se angs, die wrewel, die mooiheid, die menslikheid, verlange en liefde vir Afrika.

Maar die mes is geslyp. Blade Nzimande glo Afrikaans moet gered word van ’n regse agenda. Doktor Blade weet glo baie van hoër onderrig. Regtig?

Meer oor:  Martie Retief Meiring  |  Taal  |  Afrikaans  |  Onderrigtaal  |  Universiteite
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.