Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die ‘leertjies’ en ‘slangetjies’ van Snorre se loopbaan

Die aanstelling van Peter de Villiers as hoofafrigter van die OP-Olifante bied die eerste bruin Springbok-breier ’n geleentheid om sy nalatenskap behoorlik gestalte te gee, skryf Heindrich Wyngaard.

Peter de Villiers toe hy UWK in 2013 se Varsityskildreeks afgerig het. Foto: Gallo Images

Die Vrydagaand in Augustus 2016 toe Peter de Villiers die gasspreker was by die Hoërskool Hermanus se jaarlikse pet-seremonie, het hy – getrou na sy aard – die gehoor in die skoolsaal met sy unieke sêgoed vermaak en dalk ook verwar.

Maar hierdie een kon nie te moeilik gewees het om sin van te maak nie, in elk geval nie vir mense wat bekend is met die reëls van bordspeletjies nie: “My lewe sien ek altyd soos slangetjies en leertjies, en God is die ‘dice’,” het hy gesê. “Soms klim ek die leertjies,” verduidelik hy toe, “en ander kere gaan ek weer af met die slangetjie.”

Hierdie De Villiers-staaltjie kry nuwe betekenis met die bekendmaking verlede week dat die eerste bruin afrigter van die Springbokke nou terug is in ’n plaaslike breierspos wat saakmaak, by die OP-Olifante.

Maar hiervoor verdien hy steeds nie voldoende erkenning nie, waarskynlik omdat sy aanstelling in “transformasie-sonde” gebore is.

Terwyl die meeste mense hom dalk onthou vir sy – na die titel van my boek oor hom – “gevleuelde woorde en wyshede”, behoort daar eerder klem gelê te word op die Springbokke se prestasies gedurende sy afrigterstermyn.

Dit sluit onder meer in ongekende oorwinnings – óp hul tuisgrond – oor die Nieu-Seelandse All Blacks, sowel as oorwinnings in die Rugbykampioenskap (waarin ook Australië meegeding het) en vernaamlik die reeksoorwinning teen die besoekende Britse en Ierse Leeus in 2009.

Wat anders is dit as dit nie ’n demonstrasie is van sy stelling “soms klim ek die leertjies” nie, wat eintlik reeds bevestig is met die sukses wat hy op nasionale o/19- en o/21-vlak behaal het, sy rol as oud-Bokbreier Nick Mallet se hulpafrigter en wat gekroon is deur sy aanstelling as die eerste Bok-afrigter van kleur tussen 2008 en 2011?

Maar hiervoor verdien hy steeds nie voldoende erkenning nie, waarskynlik omdat sy aanstelling in “transformasie-sonde” gebore is.

Beste vriende? Peter de Villiers en Oregan Hoskins. Foto: Gallo Images

Wat word daarmee bedoel? Wel, die destydse president van SA Rugby, Oregan Hoskins, het dit met die aankondiging van De Villiers se aanstelling pertinent gestel dat syne nie slegs met meriete te doen gehad het nie, maar ook as ’n resultaat van “regstellende aksie” geskied het.

“Ek wil eerlik wees met Suid-Afrika en sê dat die aanstelling nie uitsluitlik op grond van rugbyredes gemaak is nie,” het hy gesê. “Ons, as ’n organisasie, het die aanstelling gemaak en ook die kwessie van transformasie baie, baie ernstig in ag geneem toe ons dit gemaak het.”

Hoskins het by voorbaat gekeer dat dié verwysing De Villiers op geen wyse moes “beswadder” nie: “Ek is net eerlik met die land.”

Meriete – en nie onbehoorlike bevoordeling op grond van ras of velkleur nie – het mos kamtig nog altyd gegeld, sedert die Bokke hul heel eerste toets in 1891 gespeel het.

Maar die koeël was deur die kerk, want in dié land van ons en in dié sport genaamd rugby, wat eens as Afrikaner-eiegoed van die Engelse “vervreem” is, durf jy nooit “transformasie”, “regstellende aksie” of “kwotas” as noodsaaklikhede voor te hou ten einde die ongelyke veld van geleenthede gelyk te maak nie.

Dié “eerlikheid” gaan nie sonder meer vir jou ’n klop op die skouer verseker nie. Meriete – en nie onbehoorlike bevoordeling op grond van ras of velkleur nie – het mos kamtig nog altyd gegeld, sedert die Bokke hul heel eerste toets in 1891 gespeel het, en (durf ’n mens dit sê?) seker ook in die dae van sportapartheid toe bruin en swart onbeskaamd die geleentheid ontneem is om vir hul land uit te draf.

Olifante sal leertjie moeilik klim

Peter de Villiers in aksie tydens die Wêreldbeker-toernooi van 2011. Foto: Gallo Images

De Villiers én Hoskins kom uit daardie laasgenoemde groep, wat uit protes hulself geassosieer het met die slagspreuk en beweging van “geen normale sport in ’n abnormale samelewing nie” (onder die vaandel van die nierassige South African Sports Congress, oftewel Sacos). Maar toe die oomblik aanbreek waartydens Hoskins die aanstelling van De Villiers as ’n oorwinning vir die bevordering van nierassigheid in rugby moes prys, ’n bevestiging dat die stryd die opoffering werd was, het hy besluit om koue water oor die kandidaat se vermoëns te gooi.

Die tafel is só gedek vir vier jare van die betwyfeling van De Villiers se verdienstelikheid – en ons ken die storie goed oor hoedat dit kwansuis die senior spelers uit die Jake White-era was wat hulself sou afrig, terwyl De Villiers al dieper in die sinkgat van kopkrap-sêgoed afgesak het.

Dit het dit natuurlik vir Saru maklik gemaak om dit nie eens vir ’n oomblik te oorweeg om sy termyn te verleng toe die Springbokke in die 2011-Wêreldbekertoernooi in Nieu-Seeland in die kwarteindronde deur Australië uitgeskakel is nie.

Ná sy termyn as Bokbreier het UWK hom die kans gegee om die universiteitspan in die Varsitybeker-reeks tussen 2013 en 2015 af te rig; daarna het hy as afrigter van die nasionale span van Zimbabwe die grenspos by Beitbrug oorgesteek.

Maar dié ervaring het byna abrup tot ’n einde gekom toe sy werkgewer hom daarvan beskuldig het dat hy in Mei verlede jaar ongemagtigde verlof geneem het, terwyl hy huis toe gekeer het om sy dogter, Odile, wat intussen aan kanker dood is, by te staan.

Hoskins het intussen in die vergetelheid verdwyn (weet enigiemand wat van hom geword het; of wat nou eintlik sy nalatenskap was?), terwyl De Villiers nou uit die afrigterswoestyn herrys.

Heindrich Wyngaard

“Nie almal kry ’n tweede kans nie. Ek is een van die bevoorregtes,” sê hy aan eNCA. Hiervoor het hy gebid. “Ek wil nie sterf met dié ryke kennis van die spel binne my nie.”

Die toets begin vir hom op Maandag, 4 Januarie 2021, wanneer hy amptelik diens aanvaar, om te bewys dat hy inderdaad meer “ryke kennis van die spel” het as die ander kandidate op die kortlys – Jonathan Mokuena, Kevin Musikanth, Ricardo Laubscher en Deon Kayser.

Maar dalk is die groter toets dat hy – ten spyte van die OP se raadsaal- en geld-drama wat sy aanstelling voorafgaan het – die gees van die ou “wit” OP (met legendes soos Danie Gerber) en dié van die ou Saru-OP (met sterre soos Allister Coetzee) sáám moet laat herleef.

Dit gaan uiteraard moeilik wees vir hom en die Olifante om die “leertjies” te klim, maar hopelik sal die “dice” vir hom só reg val dat hy nie deur die “slangetjies” afgebring word nie.

* Heindrich Wyngaard bied aktualiteitsprogramme op RSG en kykNET aan. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Oregan Hoskins  |  Heindrich Wyngaard  |  Peter De Villiers  |  Kwotas  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.