Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die lewe het nie net een sin nie

Wat gaan aan? Asof die malligheid wat die wêreld oraloor in sy greep het nie genoeg is nie, verloor twee jarelange vriendinne in die loop van die afgelope week of wat elkeen ’n ouer.

Die een se ma sterf onverwags tydens ’n noodoperasie. Sý moet haar weg uit die buiteland terug Suid-Afrika toe baan om ’n begrafnis te reël en om afskeid te neem.

Genadiglik, vertel sy, vlot haar repatriasie darem spoediger as wat die geval kón gewees het. Haar kwarantyn strek oor heelwat minder as 40 dae.

Vyf dae later sterf die ander vriendin se pa ewe skielik. Waar, vra sy raad, sou hulle die begrafnis kon hou? Buite is dalk makliker, regulasiegewys, maar die altyd wispelturige Kaapse weer . . .

Dit wat ons as doodgewone kenmerke van die alledaagse lewe beskou, is skielik mis voor die son.

Soos om die trae rit kerk toe te onderneem om ’n begrafnis by te woon. As ek volgende Saterdag eersgenoemde begrafnis in Pretoria bywoon, wat maak ek dáár met die shweshwe-masker wat my huishoudster op haar nuwe naaimasjien vir my gemaak het? Wat maak ek met my arms en hande wat, andersins, ’n omhelsing sou wou maak? Ten minste, besef ek, is die reëls oor begrafnisse meer toeskietlik en vergewensgesind as wat hulle ’n klompie weke terug was.

Dít alles gebeur terwyl ek net-net aan ’n Lewe vol sinne, Petrovna Metelerkamp se biografie van die skrywer Jeanne Goosen, wat per koerier gearriveer het, begin lees. Dit was dae vóór die koerante uitbasuin dat ook die 81-jarige Goosen haar rug op die ondermaanse gekeer het.

Die titel sit ’n mens aan die dink. ’n Sin is ’n string woorde. Daarvan het Goosen báie agter gelaat. Soms stringe misverstaande pêrels wat voor swyne neergewerp is.

Ook dui die naamwoord sin op betekenis. Deur die meervoud in die titel te gebruik wil Metelerkamp sekerlik suggereer dat dit moeilik is om uit ’n lewe ’n enkele betekenis of sin te distilleer.

Maar dalk is daar tog sin daarin dat Goosen in dié tyd van onsinnigheid haar lepel laastens in die dak steek – en die dou sy werk laat doen.

Des te meer so sekerlik in die geval van Goosen, wat in ’n letterkunde vol stigtelikheid selfs op haar oudag ’n enfant terrible was. Met ’n draad vir elke naald; wat van doekies omdraai min geweet het.

Maar dalk is daar tog sin daarin dat Goosen in dié tyd van onsinnigheid haar lepel laastens in die dak steek – en die dou sy werk laat doen.

Die wêrelde wat deur haar satiriese oog op papier beland het, was sonder uitsondering plekke waar die gewone reëls op hul kop gekeer is.

Terwyl die Afrikaanse kind tradisioneel gesien moes word, maar nie gehoor nie, stel Goosen in beide die novelles Ons is nie almal so nie (1990) en o.a. Daantjie Dromer (1993) kindervertellers aan die woord. Aan húlle gee sy die hef en die mag om ’n wêreld te skep.

In ’n Pawpaw vir my darling (2002) is die Damnville (stet)-brak der brakke Tsjaka Beeslaer rasend snaaks en insigvol aan die woord.

In Wie is Jan Hoender? (2001) wentel die verhaal om die binnelewe en verhoudinge onderling van ’n gemeenskappie rondreisende hoenders.

En, les bes, in die titelverhaal in die kortverhaalbundel Plante kan praat (2010), roep ’n aronskelk parmantig uit: “Jis, jis!”

Dis juis dít wat die blik van ’n out- sider soos Goosen soveel waardevoller as saffraan maak. Sy het lank voor hierdie malligheid ingesien dat die wêreld nie sin maak nie.

Soos die verteller in Wie is Jan Hoender? uitroep: “Daar is nie antwoorde nie. Dalk bestaan die hele lewe net uit een enkele vraag: Wat gaan aan? Dat alle vrae net onderdele, verlengings, uitbreidings en gedeeltes van dieselfde kernvraag is: Wat de f*k gaan aan?”

  • Meiring is ’n Gautengse regsgeleerde.
Meer oor:  Jean Meiring  |  Jeanne Goosen  |  Afsterwe  |  Koronavirus  |  Lewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.