Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die liefde het nie ’n eensydige aangesig nie
Annelie Botes

Wanneer ek en die gryse langpad ry, is dit altoos ’n uitgerekte reis. By elke padstal wil hy biltong en nastergalkonfyt en kaiings koop. By iedere afgeleë ouwêreldse brug of geskiedkundige plek jeuk ek om te stop, want ek wil luister of ek die asemhaling van die mense wat dit tot stand gebring het, kan hoor.

Boonop kies ons om langsaam deur die stil heiligheid van bergpasse te ry. Ons geliefste een is die Montagupas, die eerste pad tussen Oudtshoorn en George, en die oudste onveranderde bergpas in Suid-Afrika wat nog in gebruik is.

In die 1960’s was dit die pad wat my pa gery het wanneer ons gaan grootkoop het in George. ’n Grondpad van 17 km waar twee voertuie dikwels nie kan kruis nie, ingewy in 1848 ná drie jaar van helle-arbeid deur 250 bandiete.

Op een plek reg langs die pad lê ’n ontsagwekkende groot rotsklip wat met die bou van die pad losgekom het – in ons gesinskringe genoem die Bandietklip.

Ek kan dit nie staaf nie, maar my pa het vertel die klip het uit die bergwand losgekom en bo-op vyf bandiete geland. Dit was te swaar om met mannekrag óf beurende osse te verskuif. Daarom, tot vandag, stop ons by die Bandietklip. Dan sê ek die Onse Vader op. Meesal in trane.

Want as my pa se vertelling waar sou wees, lê die geraamtes van vyf gebroke moeders se kinders onder daardie klip.

Want as my pa se vertelling waar sou wees, lê die geraamtes van vyf gebroke moeders se kinders onder daardie klip. Maar miskien het my pa die storie opgemaak.

Waar die pas nagenoeg op sy hoogste punt en die uitsig wyd en ver is, stop ons weer in die boog van ’n U-draaitjie. By die bordjie wat sê Amanda’s Grave. Vir mý is dit een van die allerheiligste kolletjies op aarde.

Ek ken nie die geskiedenis van Amanda nie. Maar dis waar haar man vir haar ’n marmersteentjie opgerig het. Daarop staan net: “ ’n Simbool van liefde aan my dierbare eggenoot en moeder AMANDA PIENAAR. Skielik van ons weggeneem 23.10.1973.”

23 jaar daarna het die kinders hul pa se as ook daar gestrooi en ’n steentjie teenaan sy hartsvrou s’n opgerig. Daar staan: “En ons geliefde vader PIETER JOHANNES (OUBAAS) PIENAAR 25.4.1919-25.1.1996.” In April sou Oubaas dus 100 geword het.

Terwyl ons in stilte rommel in die nabye omtrek optel en die steentjies skoonmaak en blink vryf en heide pluk om in die gegote marmerblompot te sit, raai ek oor Oubaas en Amanda.

Wat het dáárdie plekkie in die Montagupas vir húlle beteken? Die internet sê dit is waar hy haar gevra het om te trou.

Volgens die datums was dit naastenby in die tyd van die Tweede Wêreldoorlog. Iets soortgelyk aan ’n Romeo en Juliet-liefde.

Dan wonder ek of hulle ook, soos ons almal, hul opdraandes en afdraandes gehad het. Want die liefde het meer as een aangesig.

Voor ons ry, fluister ek altyd Shakespeare se woorde uit Romeo en Juliet oor die wye kloof: “Love is a smoke made with the fume of sighs.”

Meer oor:  Annelie Botes  |  Moeders  |  Grafte  |  Herinnneringe  |  Liefde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.