Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die liefde is ’n teenvoeter vir giftige adders
Annelie Botes

Toe my geslag in die vroeë 1970’s daar in Uniondale tieners was, het ons wêreldwysheid vlak gesit. Waarskynlik omdat ons nie toegelaat was om in grootmensgeselskap rond te hang nie. Kennis van ons ouers en hul vriende se uitkyk op politiek, godsdiens en seks was taboe.

Wanneer jy in st. 6 was, mag jy aan die grootmenskant van die dorpsbiblioteek boeke uitgeneem het. Maar as die bibliotekaresse vermoed het dat daar in ’n boek gesoen word, het sy jou ma gebel en toestemming gevra. En gewoonlik het jou ma nee gesê.

Van dwelms het ons níks geweet nie. Ons het gehoor die hippies in die Knysnabos rook dagga en loop kaal en stuur nie hul kinders skool toe nie. In ons oë was dit gelyk aan die sondeval in die Tuin van Eden.

Ek was al getroud toe ek die eerste keer van die bestaan van Valentynsdag gehoor het. Een van die eerste liefdesverhale wat ek geken het, was ’n storie in ons st. 2-leesboek. Dit het ’n onuitwisbare indruk op my gelaat.

“Vergeet my nie!” En toe verdrink hy.

Aan die einde van die jaar toe ons ons boeke moes teruggee, het ek my skerpmaker se lemmetjie uitgehaal en die bladsy met dié storie teen die middelvou van die boek afgesny, klein opgevou en my geheim in ’n broodsakkie onder ’n klip by die leiwaterdam weggesteek.

Die storie was oor waar die blomnaam “vergeet-my-nietjie” vandaan kom. In ’n verre land, Duitsland, het ’n ridder en sy verloofde hand aan hand langs die Donau-rivier gestap.

Toe sien sy ’n bossie blou blomme in die rivier afdryf en sê sy begeer dit. Omdat hy haar liefgehad het, spring hy in en gryp die blomme voor dit wegdryf. Sy nat ridderklere was egter só swaar dat hy nie teen die glibberige rivierwal kon uitkom nie. Toe gooi hy die bossie blou blomme vir sy verloofde, en skree: “Vergeet my nie!” En toe verdrink hy.

Menige naweek het ek by die dam oor die dooie ridder en sy agtergeblewe geliefde gehuil. Min wetend hoeveel keer vorentoe in my lewe die liefde nog my trane sou tap.

Niemand weet waar Valentynsdag ontstaan het nie. Die gewildste weergawe kom uit die derde eeu toe keiser Claudius II glo huwelike verbied het omdat hy geglo het dat getroude mans swak soldate is. ’n Priester van Rome, by name Valentinus, het gereken dis bog en het in die geheim voortgegaan om mense te trou. Gevolglik is hy in die tronk gesmyt en ter dood veroordeel.

In die tronk raak hy hopeloos verlief op die sipier se dogter. Op 14 Februarie (ek wis nie watter jaar nie) toe sy vonnis voltrek is, stuur hy vir haar in die geheim ’n liefdesbrief, wat hy “van jou Valentine” onderteken het.

Dit maak nie saak of dit ’n versinsel is nie. En of jy nie kan onthou wat van die sakkie onder die leidamklip geword het nie. Wat saak maak, is 1 Korintiërs 13: “Nou bly geloof, hoop en liefde . . . En die grootste hiervan is die liefde.”

Want die liefde tussen álle mense kan ’n teenvoeter vir giftige adders wees.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Ware Liefde  |  Valentynsdag  |  Liefdesverhale  |  Liefde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.