Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Uit my politieke pen
Dié lys saai, die stembus maai

Die ANC se kandidatelys is soos ’n emmer koue water oor die redenasie dat mense vir die ANC moet stem om pres. Cyril Ramaphosa se hand te versterk.

Met dié redenasie bearbei Span Ramaphosa mos invloedryke Suid-Afrikaners: Stem vir die ANC, en bemagtig die president om die oorblyfsels en die nalatenskap van die Zuptas finaal by Suid-Afrika se agterdeur uit te vee.

Omdat Ramaphosa verbasend goeie vordering gemaak het met sy skoonmaakproses, was dit ’n verleidelike redenasie. Maar dis nou geheel en al die nek ingeslaan deur die ANC-kandidatelys, wat wys die Zuma-invloedsfeer staan nog baie sterk. Só beskou, is ’n stem vir die ANC allermins net ’n stem vir Ramaphosa – dis óók ’n stem vir die Zuptas, wie se apparatsjiks steeds in talle verkiesbare posisies sit.

Kyk byvoorbeeld na Supra Mahumapelo, voormalige premier van Noordwes wat sy party en provinsie in puin agtergelaat het. Op nommer 58 is hy verseker van ’n setel in die nasionale vergadering.

En dan is daar natuurlik die mee­lopers van staatskaping, die leuenaars en die knoeiers uit die Zupta-era wat ook nog stewig op die lys sit.

Luidens getuienis voor die Zondo-kommissie het Nomvula Mokonyane omkoopgeld van Bosasa ontvang toe sy nog Gautengse premier was. Om nie eens te praat van die verwoesting wat sy as minister van waterwese en sanitasie gesaai het nie. Desondanks het sy die toptien op die lys gehaal.

Mosebenzi Zwane, die deurtrapte Zupta-vaandeldraer, is op nommer 75 ook ’n setel gewaarborg. As minister van minerale hulpbronne was Zwane die gewillige apparatsjik wat ’n ondersoek aangevoer het na die banke se besluit om die Guptas die rug toe te keer. Ook het hy die weg vir die Tegeta­transaksie help voorberei.

Daar is glo niks fout met dié mense se insluiting nie, want hulle is aan niks skuldig bevind nie.

Dan die twee leuenaars Malusi Gigaba en Bathabile Dlamini, wat onderskeidelik op posisies 23 en 14 reguit op pad parlement toe is.

Die hof het bevind dat Gigaba onder eed gelieg het en hy was self ook een van die Guptas se voorbokke. En moet ook nie vergeet van sy seksvideo waarmee hy sy hand oorspeel het nie. Verder is daar die netelige sake van die gek­like visumregulasies waarmee hy as minister van binnelandse sake Suid-Afrika miljarde aan toerisme-inkomste gekos het.

Oor Dlamini, ’n ou Zuma-kornuit, se kop hang weer die vernietigende bevinding van die konstitusionele hof wat haar persoonlik verantwoordelik hou vir ’n gedeelte van die regskoste in die Sassa-krisis wat sy veroorsaak het.

Die hof het die nasionale vervolgingsgesag boonop gelas om te oorweeg of Dlamini vervolg moet word op aanklag van meineed nadat sy vir die hof gelieg het oor haar rol in die Sassa-krisis. In die uitspraak is haar optrede as “roekeloos” en “nalatig” bestempel. Wie’t gepraat van smallanyana skeletons?

En die man wat vandeesweek ál die keuses verdedig het, is niemand minder nie as Ace Magashule, ANC-hoofsekretaris en ’n geharde Zupta-veghoender. Niks fout met dié mense se insluiting nie, want hulle is aan niks skuldig bevind nie.

Mag so wees, kameraad Ace, maar moet een ding nie vergeet nie – jy praat as politikus, en nie as regsgeleerde nie. En ofskoon diesulkes regtens onskuldig is totdat hul skuld bewys is, dra hulle reeds enorme politieke skuld in die oë van derduisende kiesers.

Dawie wil voorspel dat die oordeel oor dié lys sonder genade by die stembus gefel sal word. Wat gaan beteken dat die ANC die eerste keer in ’n nasionale verkiesing onder 60% gaan behaal en Gauteng nou beslis binne die opposisie se bereik is.

Sien julle by die stembus, kamerade.

Meer oor:  Dawie  |  Uit My Politieke Pen  |  Stemme  |  Anc-Kandidate  |  Verkiesing  |  Kandidatelys  |  Kiesers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.