Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die Mafia en nasionale gesondheids-versekering

Die regering se planne met nasionale gesondheidsversekerimg het hom weer aan die ooreenkomste tussen die staat en die Mafia laat dink, skryf Rhynie Greeff.

’n Hospitaal in Kempton Park wat sy deure al in 1996 gesluit het. Foto ter illustrasie. Foto: Gallo Images

Ek verwonder my al jare lank aan die ooreenkomste tussen die staat en die Mafia.

Die staat sowel as die Mafia het grondgebied en interne wette. Albei “beskerm” hul onderdane.

Die staat en die Mafia eis geld van hul onderdane met gedwonge betaling vir die voorreg van beskerming. Die staat hark sy geld in met belasting. Die Mafia vorder beskermingsgeld in.

Die staat en die Mafia het verkose leiers en uitvoerende personeel wat onderhorige onderdane kan straf – soms selfs met die dood.

Daar is egter een groot verskil.

Die staat is veronderstel om die openbare belang te dien. Die Mafia dien eie belang.

Wat gebeur as die staat die openbare belang versmaai in so ’n mate dat dit die belange dien van die party of individue in die party wat die staat se werk verrig?

Die staat is nie terselfdertyd speler en skeidsregter nie. Die Mafia is ’n driedimensionele reëlmaker, skeidsregter en speler.

Maar wat gebeur as die staat sy eie belang hoër stel as die openbare belang en skeidsregter/mededinger word?

Soos met televisie. Wil jy ’n TV-stel koop? Betaal dan eers beskermingsgeld aan die staatsbeheerde SAUK, al gaan jy nooit na die SAUK kyk nie.

Ek weet daar is ander lande wat dieselfde doen, maar is dit nie baie soos die Mafia nie? Hoe ver is dit van ’n restaurant in New York wat slegs veilige aflewering van voorraad sal kry ná beskermingsgeld aan moeilike manne met spoegysters in die hand betaal is?

Wat gebeur as die staat die openbare belang versmaai in so ’n mate dat dit die belange dien van die party of individue in die party wat die staat se werk verrig? Is die Zondo-kommissie van ondersoek nie maar net ’n ontleding van ’n Suid-Afrikaanse Cosa Nostra nie?

Die staat en onderwys

Leerlinge betoog vroeër vanjaar in Johannesburg om op beter onderwys aan te dring. Foto: Gallo Images

Maar kom ons bly by die algemene staat wat veronderstel is om te help met openbare dienste wat die privaat sektor nie gewoonlik wil verskaf nie soos gevangenisse, paaie, verdediging en polisiëring.

As sulke dienste swak gedoen word, tree markkragte in. Privaat diens ontpop.

Swak polisiëring het gelei na ’n oorweldigende privatesekerheidsektor in Suid-Afrika wat een van die grootste ter wêreld is. Ek sien syfers van meer as 9 000 geregistreerde sekerheidsmaatskappye in Suid-Afrika met 450 000 aktiewe wagte en 1,5 miljoen ander gekwalifiseerde wagte. (Die laaste jaarverslag van die SA Polisiediens toon ’n totale polisiemag aan van net 193 297 op 31 Maart 2018.) Gelukkig probeer die staat nie hier om private sekerheid te kelder en die monopoliespeler te word nie. Oorweldigende misdaad het ons ’n dualistiese stelsel vir sekerheid gegee met die staat en privaat sektor wat saamwerk in die openbare belang.

Regerings misluk dikwels om onderwys van hoë gehalte aan die meerderheid van die bevolking te gee en, soos elders in die wêreld, het privaat skole sterk in Suid-Afrika gegroei.

In gesondheid is ek egter bekommerd dat die staat nou eie belang in plaas van openbare belang dryf.

Ons het nou ook ’n dualistiese skoolsituasie staats- en private belange. Die staat kan onderwys nie meer ten volle monopoliseer nie. Ons het keusevryheid.

In gesondheid is ek egter bekommerd dat die staat nou eie belang in plaas van openbare belang dryf.

Baie van ons staatshospitale is goed. Ander is swak. Van my vriende en familie ontvang goeie en laekostediens by staatshospitale alhoewel hulle kla oor burokratiese rompslomp en wagtyd.

Iemand wat vir my werk gaan gereeld in vir chroniese behandeling, maar wag die hele dag. Sommige dae wag sy so onsuksesvol dat sy die volgende dag moet terugkeer. Die staatsektor is onder druk en benodig meer spesialiste en kapitaal om gesondheidsdiens te versterk.

Hoër belasting vir . . .?

Wag ’n mediese Hirosjima in Suid-Afrika met nasionale gesondheidsversekering? Foto ter illustrasie. Foto: Gallo Images

Histories was daar probleme met ’n standhoudende openbare gesondheidsdiens van hoë gehalte.

Markkragte het daarom privaat mediese fasiliteite van beter gehalte geskep; wel teen hoër koste, maar die mark was bereid om meer te betaal.

Ons woon immers in ’n demokrasie met vrye keuse van betaling vir beter produkte en diens net soos wat ons ook bereid is om ekstra te betaal vir bykomende veiligheid en onderwys van goeie gehalte.

Maar nou gaan die nuwe wet op ’n Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) ons vrye keuse, regte en voorregte ontneem. Private mediese hulp gaan gekortwiek word in ruil vir ’n administratiewe verwysingstelsel van rompslomp.

Die NGV se boodskap? Betaal ons hoër belasting vir vertraagde beskerming.

Staatsburokrate sal besluit watter mediese prosedures waar sal plaasvind. Is jy siek? Kry jou verwysingsbriefie met die staatsdienstjap. Dan stuur ons jou aan.

Ek verwag dit kan wees soos in die Britse National Health-stelsel (NHS) waar, volgens hul eie webwerf, jy ’n verwysingsbrief kry en daarna 18 weke (126 dae!) moet wag vir nie-dringende behandeling en twee weke vir kankerbehandeling.

Die NGV se boodskap? Betaal ons hoër belasting vir vertraagde beskerming. Jou mediesefondsbetalings sal ook nie meer aftrekbaar van belasting wees nie. Die openbare belang sluit nie julle klomp met vrye keuse in nie.

Ons, die staat, leef volgens die woorde van Mario Puzo wat The Godfather geskryf het: “We’ll make you an offer you can’t refuse.”

Soos Churchill dit opgesom het: “The inherent vice of capitalism is the unequal sharing of blessings; the inherent virtue of socialism is the equal sharing of miseries.”

’n Mediese Hirosjima wag

Nasionale gesondheidsversekering sal lei tot meer burokrasie en minder gesondheidsorg. Foto ter illustrasie. Foto: Gallo Images

Die komende ellende gaan wees soos die gemors van staatshuurbeheer. Wêreldwyd het streng huurbeheer vervalle geboue in stede geskep. Hoekom sal eienaars op instandhouding spandeer as die rendement weggevat is en hulle die geld elders kan aanwend?

Die Sweedse ekonoom Assar Lindbeck het gesê: “In many cases rent control appears to be the most efficient technique presently known to destroy a city – except for bombing.”

Ek dink die nuwe burokraties-beheerde NGV sal ’n mediese Hirosjima veroorsaak.

’n NGV met te min mediese personeel sal ontstaan langs ’n verswakte privaatsorgsektor.

Mense en geld gaan altyd waar hulle die gemaklikste voel. Mediese spesialiste en verpleegpersoneel wat tans hoëgehaltediens lewer verdien hoër inkomste. Hoekom sal hulle dit laat vaar? Topverdieners met topkennis het internasionale vryheid en sal oorsee gaan werk.

’n NGV met te min mediese personeel sal ontstaan langs ’n verswakte privaatsorgsektor.

Hierdie eensydige Mafiatipe staatsmonopolisme kan vergelyk word met Josef Stalin wat kleinboere in die vroeë 1930’s wou dwing om hul regte te verloor en op staatsgemeenskapsplase te gaan bly. Die boere het in opstand gekom en geweier. Hulle is strafkampe toe. Net in die Oekraïne is 3,9 miljoen kleinboere dood wat tot ’n reuse hongersnood gelei het.

Die verskil met die NGV is dat spesialiste en topverpleërs net oor die grens gaan verkas.

Rhynie Greeff

Ek het persoonlike ondervinding van swak diens in die Engelse National Health-stelsel en die waarde van dualistiese keuse pleks van ’n monopolistiese staatsmafia.

Ek het 12 jaar lank in Brittanje gewoon onder die Britse Nasionale Gesondheidstelsel. In my tyd het die staat burokraties aan dokters (eintlik ook staatsamptenare) voorgeskryf dat hulle binne 48 uur ’n pasiënt moes sien as die pasiënt hulle bel. Dokters het dit omseil. My plaaslike kantoor met ses NHS-dokters het daarom hul telefoon net vir ’n uur per dag oopgehou.

In 2007 ondervind ek skielik intense pyn. Ek bel toe. Die doktersfoon is in ’n koma. Ek ry toe maar daarheen waar ’n dokter my na die staatshospitaal stuur. Daar word ek ’n dag lank ondersoek en huis toe gestuur met maagmedisyne.

Die volgende dag is my pyn erger. Gelukkig het ek ’n privaat mediese fonds gehad met ’n privaat dokter wat ek toe in Londen gaan sien. Hy neem bloedtoetse (wat die NHS nie gedoen het nie) en ek keer terug huis toe waarna hy my dringend bel dat iemand my onmiddellik na hom per motor moet bring. Hy verbied my om alleen per trein te reis.

Toe ek by hom uitkom, drie dae ná my NHS-ondervinding, was ek amper dood van pyn. Sy bloedtoetse het gevind dat ek ’n pulmonêre embolisme gehad het. So het ek in hoësorg beland met ’n bloedklont wat deur my hart gegaan het.

My privaat fonds en privaat dokter het my lewe gered. Met NHS alleen was ek nou net vergete statistiek.

Ek vrees vir Suid-Afrika se gesondheidstoekoms wanneer topmense emigreer. Ek vrees dat vandag se goeie dualistiese (staat/privaat) mediese stelsel met vrye keuse verval in ’n krakende Mafia-staatsmonopolie, georkestreer deur komitees van staatsamptenare, met swakker mediese diens as ooit.

Ek vrees die sterftefoute wat kan kom.

* Dr. Greeff is ’n strategiese konsultant en voormalige diplomaat. Hy het ’n doktorsgraad in handel, gespesialiseerd in mededinging. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.