Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die magspolitiek wat lande speel

Hoe word die internasionale politiek gevoer? Eeue lank het nasionale belange – of altans die wyse waarop daarna gekyk is – en geopolitiek die botoon gevoer. Met die einde van die Koue Oorlog en die opkoms van die Europese Unie (EU) was daar ’n relatief kortstondige illusie dat dié faktore in belang afgeneem het.

Leopold Scholtz

Dit was ’n illusie waaruit Donald Trump, Wladimir Poetin, Xi Jinping en Kim Jong-oen die wêreld wreed geruk het. Sedert hulle die belangrikste kitare slaan, weet ons nasionale belang en geopolitiek – met alle gevare daaraan verbonde – is in volle eer herstel.

Maar selfs die Europeërs, wat in die EU afstand van sulke “ouderwetse” sake gedoen het, kom agter dat die internasionale politiek nie vir sissies is nie.

Op ’n beskeie skaal het ’n rusie tussen Nederland en Frankryk dit gewys.

In 2003 het Air France en KLM saamgesmelt. Saam sou die twee sterker as die twee afsonderlik staan, was die redenasie, en oorwegings soos nasionale trots het in belang sterk afgeneem.

Die konstruksie wat gekies is, was dat die gesamentlike maatskappy soos ’n soort federasie sou fungeer. Naas die oorkoepelende “federale” maatskappy, bekend as Air France-KLM, sou die twee soos “deelstate” bly voortbestaan, elk met sy eie direksie, begroting en identiteit, maar met ’n innige samewerking op allerlei gebiede.

Ná ’n kort wittebrood het dinge begin krap. Die flambojante Franse hou daarvan om grootse planne op te stel; die suinige Nederlanders kyk veral na finansiële dissipline. Die opgewonde Franse werknemers staak gereeld, maak aanmekaar rusie en het al die besturende direkteur in die openbaar aangerand. Die KLM-werkers sien hulself van oudsher as ’n soort familie met ’n gesonde onderlinge verbondenheid.

Gevolglik is Air France se winsposisie maar so-so terwyl KLM uitstekende winste vertoon. En dus wou die moedermaatskappy (met ’n meerderheid Franse in die bestuur) gereeld strooptogte op KLM uitvoer om geld van Amsterdam na Parys en vlugte van Schiphol na Charles de Gaulle oor te plaas.

Dis toe dat die Nederlandse regering sy ore spits. Deur KLM vorm Schiphol ’n spilfunksie waar miljoene reisigers van vlugte verwissel. En dít maak dit vir internasionale maatskappye aantreklik om hul hoofkwartiere naby die lughawe te hê.

En dít maak dit vir internasionale maatskappye aantreklik om hul hoofkwartiere naby die lughawe te hê.

Dit gaan om sowat 113 000 werkgeleenthede vir hoog geskoolde werkers. En uiteindelik gaan dit dus om die – ja, jy is reg – nasionale belang.

Dus het die Nederlandse regering in die geheim ’n besluit geneem. Deur derde partye het hy 12,68% van Air France-KLM se aandele gekoop, en dit word voortgesit totdat die staat meer as 14% besit, ’n soortgelyke persentasie as dié wat deur die Franse staat besit word. Daarmee kan Nederland nou alle verdere strooptogte op die KLM afweer.

Onder meer is voorkom dat die KLM se besturende direkteur, Pieter Elbers – wat die KLM se belange tot Air France se ergernis met hand en tand verdedig – vervang word. Só iets sou groot onrus veroorsaak het. Sowat 25 000 van die 30 000 KLM-werknemers het trouens ’n versoekskrif onderteken dat Elbers se kontrak verleng word.

Moenie ’n fout maak nie. Die bestaan van die EU is geen oorbodige saak nie.

Die Europese integrasie kom neer op ’n pasifikasieproses wat in die vuurstorm van twee allesverwoestende wêreldoorloë ’n bittere noodsaaklikheid was. Maar dit beteken nie die einde van internasionale magspolitiek nie.

Die Nederlandse premier, Mark Rutte, het onlangs gesê die EU moet “minder naïef” wees en besef dat mag geen vloekwoord is nie. Teen die agtergrond van Trump, Poetin, Xi en Kim se naakte magspolitiek is dit tereg.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Leopold Scholtz
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.