Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dié ‘manlikheid’ lei tot geweld

Plaasmoorde in Suid-Afrika is direk gekoppel aan grondbesit. Ons het reeds die problematiek van rassepolarisasie met #BlackLivesMatter en die moorde op wit plaasboere gesien.

Amanda Gouws

’n Studie wat Johan Burger van die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) gedoen het met behulp van statistieke van Statistieke Suid-Afrika en TLU SA, wys van 1990 tot 2017 was daar 1 938 moorde op plase (van wie 137 plaaswerkers was). Van die slagoffers was 88% wit en 12% swart.

As ons kyk na die tydperk 1919 tot 2001, was daar 6 122 plaasaanvalle en 1 254 moorde. Van die slagoffers was 62% wit. 62 uit 800 000 plaasbewoners word jaarliks vermoor – dit is 7,75 uit 100 000, terwyl die nasionale moordsyfer 36 uit 100 000 burgers is. Hoewel die voorkoms van plaasmoorde dus laer is as moorde in die algemeen, is dit nie ’n onbeduidende statistiek nie.

Plaasaanvalle moet gesien word teen die agtergrond van baie hoë misdaadsyfers en algemene wetteloosheid in Suid-Afrika. Wat plaasmoorde egter uitsonderlik maak, is die politieke probleem van grondherverdeling, sodat baie wit mense glo dat plaasmoorde ’n vorm van volksmoord is. Die grondprobleem word uitgebuit deur opportunistiese partye soos die EFF, wat daarvan hou om rassehaat aan te blaas.

Die EFF se redenasie dat hulle die staat se eiendom teen vandalisme wil beskerm, is lagwekkend as ’n mens in ag neem dat hulle hul nog nooit bekommer het oor vandalisme deur hul eie lede nie. Dit gaan alles oor politieke gewin.

Hierdie populistiese opportunisme het baie ernstige gevolge. As die EFF dink dat dit by politieke skouspel sal bly, het hulle dit mis. Baie van hul volgelinge word aangevuur deur politieke en ekonomiese frustrasies waarvoor hulle wit mense blameer en wat uiting in geweld kan vind.

Wat ons in Senekal gesien het, is die uitbeelding van militêre manlikheid deur die boere en hul ondersteuners, asook die EFF-ondersteuners.

Wat ons in Senekal gesien het, is die uitbeelding van militêre manlikheid deur die boere en hul ondersteuners, asook die EFF-ondersteuners.

Dit kon gesien word aan die kleredrag. Aan die boere se kant was daar kakie of kamoefleerdrag en wapens is openlik ten toon gestel. Die EFF, geklee in rooi, was ewe militaristies terwyl hulle “kill the boer, kill the farmer” gesing het, knopkieries omhoog gehou en rasbeledigings geslinger het.

Militêre manlikheid moet opgevoer word en die EFF is meesters van die skouspel. As ons kyk hoe jonk baie EFF-lede is, dan sien ons dat jong mans in manlikheid in gesosialiseer word deur geweld, wat ook bydra om hulle te laat glo dat hulle meerderwaardig teenoor ander tipes manlikheid (soos gay mans) en vroue is.

Dié wat nie hul plek ken nie, moet deur geweld in toom gehou word. Wat deur militêre manlikheid omhels word, is geweld, orde, manlike idees van onderdanigheid en oorheersing.

Navorsing van Maria Baaz en Maria Stern in hul boek Sexual Violence as a Weapon of War? (2013) wys dat militêre manlikheid in stand gehou moet word deur die openlike tentoonstelling daarvan. Maar, redeneer hulle, hierdie manlikheid kan nooit voltrek word nie en word ’n bose kringloop van gewelddadige optrede wat voortdurend herhaal moet word om manlikheid te bewys.

Sulke toksiese manlikheid is ook ’n bydraende faktor tot die baie hoë statistieke oor geweld teen vroue, wat gegrond is op die idee dat vroue onderdanig is en dat mans op seks kan aandring en vroue moet toegee. Indien hulle weier, is geweld die oplossing.

Ons word herinner aan hoe Jacob Zuma tydens sy verkragtingsaak voor die hof gesing het “bring my masjiengeweer” in ’n tipies militaristiese trant.

  • Prof. Gouws is verbonde aan die departement van politieke wetenskap van die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Amanda Gouws  |  Oorlog  |  Eff  |  Geweld  |  Plaasmoorde  |  Boere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.