Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die media se rug is teen die muur

Die besluit van die Sunday Times, een van Suid-Afrika se invloedrykste koerante, om te erken dat stories deur van sy beste joernaliste versin en as ondersoekende joernalistiek aangebied is, was inderdaad dapper en die regte ding om te doen.

Maar die skade is gedoen en dit sal die koerant en die media in die algemeen lank neem om die verlore vertroue te herwin, indien ooit.

Die Sunday Times het niemand enige guns bewys nie. Tot en met die opsienbarende mea culpa was die koerant die vaandeldraer vir goeie en selfs grondverskuiwende joernalistiek.

Oor die jare het ons daaraan gewoond geraak om byna elke Sondagoggend te lees van die jongste skandes en vergrype van veral die politieke elite, en meer spesifiek die ANC-elite. Die Sunday Times se span ondersoekende joernaliste het die een ná die ander gesogte mediaprys verower.

Dit is dus nie onregverdig dat daar nou oor al daardie stories gewonder sal word nie. Die eerste storie waaroor ek wonder, is oor ’n sogenaamde sameswering tussen oudpres. Jacob Zuma en sekere ANC-kaders, onder wie die party se sekretaris-generaal, Ace Magashule, om van pres. Cyril Ramaphosa ontslae te raak. Die vraag kan tereg gevra word: Kan ons, in die lig van die koerant se bekentenis, dié storie nog glo?

Die media in Suid-Afrika, soos ook die geval elders in die wêreld is, werk in ’n vyandige omgewing.

Die media in Suid-Afrika, soos ook die geval elders in die wêreld is, werk in ’n vyandige omgewing.

Hier te lande is min wedersydse vertroue tussen joernaliste en politieke besluitnemers. Daar is invloedryke mense in die ANC wat, ongeag die verskansing van persvryheid in die Grondwet, jeuk om beperkings op die media te plaas. Die Sunday Times se erkennings sal nou net die hand van die antimedia-koor versterk en hulle aanspoor om die planne vir ’n sogenaamde statutêre mediatribunaal af te stof.

Een van die newe-effekte van die erkenning is oproepe dat die gebruik van vertroulike bronne moet wegval. Dit sal ’n onding wees. Die beskerming van bronne is ’n hoeksteen van die joernalistiek en dikwels die enigste manier waarop wandade oopgevlek kan word.

’n Mens kan sien hoe die optrede van die Sunday Times se joernaliste die gebruik van vertroulike bronne in gedrang kan bring. Dit sal raadsaam wees om te onthou dat daar talle eerlike joernaliste is wat nie hul joernalistieke plig sal versuim of verraai nie.

Die punt is dat die media nie terugslae soos hierdie kan bekostig nie.

Die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (Sanef) het aangekondig dat hy die Sunday Times-sage sal ondersoek. Dit sal help as dié organisasie lede van die publiek by die ondersoek betrek.

In realiteit is daar egter nie veel wat Sanef kan doen nie. Dit is ’n vrywillige assosiasie met geen gesag oor redakteurs en joernaliste nie.

Die beste wat Sanef en ander vrywillige organisasies kan doen, is om harder en nader met joernaliste te werk om die perskode wat die optrede van joernaliste vrywillig reguleer te omarm as die vernaamste instrument om joernalistieke wanoptrede af te weer.

Joernalistieke skole en opleiers behoort ook baie meer te doen om ’n verbintenis tot eerlike en etiese joernalistiek by aspirant-joernaliste in te skerp.

Alles is egter nie verlore nie. Die punt is dat die media nie terugslae soos hierdie kan bekostig nie.

Dit behoort te dien as ’n wekroep vir alle redakteurs en joernaliste om op hul hoede te wees. Redakteurs behoort opnuut te kyk na hul interne stelsels om fopnuus te identifiseer.

Vir ’n brose demokrasie soos Suid-Afrika is die onafhanklike joernalistiek ’n kosbare gawe wat teen uitbuiting deur verspreiders van fopnuus gekoester en beskerm moet word.

Ons verdien joernalistiek met integriteit en ’n verbintenis tot die waarheid.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.