Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die mens se wêreld is nie my woning nie

Oë toe, agteroor op die strand se skoongewaste sand met skuimwater wat telkens oor my bene spoel, droom ek van die onmoontlike.

Gerhard Verdoorn

Skulpslakkies speel oor my tone en krappe draf dwars om stukkies seewier op te raap, salig onbewus van die verre plekke waar ek myself sou neem as ek vlerke kon hê. Weg van alles wat mens is. Ver in die onbekende plekke waar net die spore van Neanderdal-mense in die rotse geëts is. Hoog oor die berge met die ysige lug waar net die aasvoël dit sal waag.

Eers ’n tog oor die magtige oseaan, daar waar die waters donkerblou word en die dieptes soos onderwaterklowe die geheime van die see verberg. Iewers sal ’n eiland wees, met vulkaniese rotse wat stoom blaas omdat die aarde nog aan sy vorming beitel. Vreemde pikkewyne en reuse-albatrosse sal soos spikkels op die swart rotse sit en wag op die kouer waters om die vis uit die suide na die seestrome te lig. Die voëls sal verwonderd na die vreemde gevleuelde staar, want daar kom nooit ’n mens naby hul heiligdom verby nie.

Terug aarde toe teen die kuslyn op na die Namib, waar sy sande soos droë water teen die see uitspoel. Die hoogtes van Sossusvlei se rooi duine verdwerg die gemsbokke wat soos skimme teen die warm lug se bewing staan. ’n Eensame strandwolf sal lui-lui die rooi sand opsukkel op soek na geitjies wat in die sand wegplons en die ou dierasie se moed verder laat verdor. Dan oor die rooi sande binneland toe waar die Kalahari sy Nuwejaarswaters in riviere, kanale en panne bewaar vir die tye wat nog voorlê.

Suid van die Kalahari, oor my hartland die Karoo, sal rooivalkies en sprinkaanvoëls fees vier onder die klein rooi treksprinkane wat kol-kol uit die aarde dop.

Suid van die Kalahari, oor my hartland die Karoo, sal rooivalkies en sprinkaanvoëls fees vier onder die klein rooi treksprinkane wat kol-kol uit die aarde dop. ’n Springboktrop sal rustig knibbel aan die Karoobossies se nuwe groeisels nadat die lewegewende waters oor die aarde uitgesak het.

Dan verder oos oor die Vrystaat se rooigrasvelde, wat rustig in die wind vir die beeste en die wildsbokke wink. Onder op die vlaktes sal die sekretarisvoëls die wêreld patrolleer vir slang en akkedis.

Maar eintlik wil my drome na die berge trek, daar waar die swerfvalk langs haar mannetjie sal sit en die windswaels se vlug takseer. Dis daar waar die groot vlerke van die witkruise en die kransaasvoëls statig sal oopvou en die magtige wesens na die spierwit wolke sal dra. My vlerke sal my tussen hulle laat sweef waar die kil middaglug oor die aarde gedrapeer lê.

Die swerfvalke sal tussen ons die swaeltjies tart en soos weerligstrale af aarde toe duik, net omdat hulle kan. In die mistigheid van die wolke sal ons stil verdwyn en in die wonderwêreld van later se reën op wye vlerke sweef. Stilte sal om ons soos ’n vertroosting lê, terwyl die wêreld ver onder ons gons oor virusse en nuwe presidente. Daar wil ek nie wees nie.

  • Dr. Verdoorn is ’n natuurliefhebber en -bewaarder.
Meer oor:  Gerhard Verdoorn  |  See  |  Natuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.