Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die mense in ons land verdien ’n sprokie

Te midde van die ANC se konferensietromme het Danny Titus sy sprokie vir ons land in Atlantis gevind.

Danny Titus.Foto: Lerato Maduna

Die Montecasino-teater was Sondag volgepak om die sprokiesverhaal, Aspoestertjie op ys, te kom meemaak. Die indrukwekkende geselskap The Imperial Ice Stars is in ons land vir hul Suid-Afrikaanse toer. Daar word van dié geselskap gesê dat hulle die wêreld se voorste teater-yskaatsdansers is en dat hulle binne die intimiteit van die teater uitstaan. Dit was Sondag dan ook die geval. Teatergangers is meegevoer deur die sprokiesverhaal wat op ys soveel meer diepte gekry het. Die gehoor het die asemrowende maneuvers en fyn vaardighede van die dansers waardeer.

Daar word beweer dat die Aspoestertjie-tema uit die antieke Griekse tyd kom en dat dit reeds opgeteken is in die eerste eeu voor Christus. Die verhaal van die Grieks-Egiptiese meisie Rhodopis word beskou as die oudste weergawe van dié verhaal. Sy was haar klere in die Ormak-stroom. Haar medediensknegte het haar gedwing om dit te doen terwyl hulle na die funksie van die farao gegaan het. ’n Arend het haar rooskleurige sandaal na die farao se stad Memfis geneem en voor die farao se voete gaan neerlê.

Hy vra dan die vroue in die koninkryk om die sandaal aan te pas. Dit is Rhodopis vir wie die sandaal pas. Die farao raak verlief op haar en trou met haar. Die verhaal kry deur die eeue gestalte in verskillende lande. Maar die prag van die sprokie is die oorwinning van goed oor kwaad, van geregtigheid wat uittoring bo onreg.

Dis vir my ’n welkome ontvlugting uit die gedreun van die ANC se eindelose konferensietromme. Met die dominante ANC-narratief die afgelope tyd, die gevoel dat demokrasie maar iets is om as toeskouer op TV te aanskou, is dit vir my opvallend dat Suid-Afrikaners vandag geregtig mag wees op ’n sprokie.

Maak ons oë liewer oop vir die mooie, die goeie en die welbehae van ons moederland.

Ons staan weer binne die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders. Daarmee saam kompeteer die Christusverhaal met moeite met die kommersiële sy van Kersfees. Politieke korrupsie, diefstal en ontkenning is onlangs van die opskrifte verdryf met die verrassende onthullings oor korrupsie in die private sektor.

’n Sprokie dus, asseblief.

Nie ’n sprokie wat ons oë laat toemaak vir die gruwelike werklikhede nie. Ons wil nie goedkoop ontvlugting hê nie. Maak ons oë liewer oop vir die mooie, die goeie en die welbehae van ons moederland. Goeie verhale haal gewoon nie die nuusblaaie nie. Ons kry genoeg propaganda en dit moet uit ons sprokie geweer word.

Die onlangs verskene boek Vroue van Atlantis vertel die merkwaardige verhale van twaalf vroue van dié Wes-Kaapse woongebied aan die Weskus waar “werkloosheid, misdaad, nood in al sy menslike vorms, morele verval, uitsigloosheid” eerder die reël as die uitsondering is. “Maar dié donker prentjie is net een kant van die storie,” skryf Anastasia de Vries, tans dosent aan die UWK. “Ondanks alles leef hier ’n optimisme, ’n geloof dat die lewe beter sal word. Vra gerus die twaalf vroue wat in hierdie boek hul verhale vertel. Of die talle onderwysers by verskeie skole wat selfs ná skoolure nog daar is, betrokke by hul gemeenskap se kinders, besig om met sport die jeug van bendebedrywighede te probeer afkeer en die jong mense weg te hou uit die strate waar die bendes regeer.”

Dit is die werklike, lewensegte verhale van mense, van vroue wat nee sê en vir jare reeds hul voetspore diep in Atlantis plant.

Ek het die boek gelees en met opwinding elke bladsy ingeneem. Egte lewensverhale van aardse mense; vroue wat ten spyte van hul omstandighede ’n verskil maak in die lewens van vigslyers, ’n radiostasie suksesvol bestuur, “flentersiele” tot redding bring, lewens omkeer, tuine plant. Die lys ruk jou.

Dít is my sprokie wat nou nie op ’n ysskaatsbaan by Montecasino opgevoer word nie. Dit is die werklike, lewensegte verhale van mense, van vroue wat nee sê en vir jare reeds hul voetspore diep in Atlantis plant.

Antie Chrissie Cloete se verhaal is getiteld “Redder van flentersiele”. Sy sê: “Almal, elke mens is ’n juweel. Jy moet net weet hoe om na die mens te kyk. Krap maar aan die goeie van die mens. Krap die modder af en maak skoon. Hoe skoner jy maak, hoe mooier kom die juweel uit daai mens uit.”

Te midde van die konferensietromme, die felheid van die korrupsie, die dieptes van die misdadigheid, het ek my sprokie vir ons landjie gevind.

In Atlantis waar antie Chrissie Cloete sê: “Daai skollie is ook ’n mammie se kind.”

*Dr. Titus is die ATKV se uitvoerende direkteur van kultuur.

Meer oor:  Danny Titus  |  Atlantis  |  Anc-Konferensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.