Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dié miljoene ’n mite

Waarom glo mense steeds die mite van versteekte Kruger-miljoene? Dalk oor die ou spreuk: ‘Moenie laat feite in die pad van ’n goeie storie staan nie,’ skryf Rentia Landman.

Pres. Paul Kruger se landau, wat met die trein na Machadodorp en Waterval-Onder vervoer is. Dit staan by die Krugerhuis-museum in Pretoria.Foto’s: RENTIA LANDMAN

Vir langer as ’n eeu al loop hierdie eerstehandse relase.

“Met my eie hande het ek die goud hanteer toe dit by Devil’s Knuckles in die omgewing van Pelgrimsrust begrawe is,” sê een.

’n Ander vertel: “Ek was persoonlik teenwoordig toe 28 kiste goud ’n halfmyl vanaf ’n kremetartboom naby die Olifantsrivier begrawe is.”

Dís die mite van die Kruger-miljoene.

Die ZAR se goud

By die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899 het die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) agt goudmyne aan die Rand genasionaliseer om die koste van die oorlog te dra. Die goud is van Johannesburg na die ZAR-munt op Kerkplein in Pretoria vervoer.

Met die Britse magte in aantog na Pretoria in 1900 is staatsdokumente, ammunisie en ander voorrade op treine na Machadodorp gelaai. Pres. Paul Kruger het inderhaas van Eerste Fabrieke af vertrek met ’n trein wat spesiaal voorberei is.

Geweervuur was reeds buite die hoofstad hoorbaar, maar die ZAR se goud was steeds in die munt. Genl. Jan Smuts, destyds die staatsprokureur, het dié ontstellende nuus op 4 Junie 1900 – ’n dag vóór die val van Pretoria – aan ontbyttafel verneem.

Hy het opdrag gegee dat die goud geweeg, opgeteken en verpak word. Dit het uit staafgoud, sowat 100 000 munte, onvoltooide munte (sogenaamde kaalponde), stroke en stukke goud bestaan. Teen die middag is die vrag ter waarde van byna £750 000 onder begeleiding van ses tot agt gewapende burgers op die laaste trein onder die ZAR-vlag weggevoer.

Ernst Meyer, ’n beampte van die munt, is aangesê om die goud in Machadodorp persoonlik te oorhandig aan HC Bredell, die polisiekommissaris.

Langs die roete moes Meyer aan nuuskieriges verduidelik dat die trein ammunisie vervoer, het hy vertel. Die trein het Machadodorp in die nagtelike oggendure bereik. Ander treinwaens, insluitend Kruger s’n, was toe reeds op die stasie.

Meindert Noome se dagboekie.

‘Waarom nou eers?’

Terwyl Kruger sy oggendkoffie drink, het Bredell die versendings-dokumente na hom geneem. Hierop het die president glo ergerlik gevra: “Waarom bring julle die goud nóú eers – en waar is die masjinerie wat ek gevra het?”

Die goud is aan P.R. de Villiers, tesourie-generaal, oorhandig. Die volgende twee weke het Meyer by J.S. Marais, ouditeur-generaal, se kantoor – bestaande uit twee treinwaens – betalings aan krediteure gedoen. Meyer, wat graag by die kommando’s wou aansluit, is later deur Meindert Noome, ’n klerk in die kantoor, vervang.

Weens Machadodorp se koue, wat vir die ou president te erg geraak het, is hy na Waterval-Onder verskuif. Die administrasie het voorlopig in Machadodorp aangebly.

Uit ’n inskrywing in Noome se dagboekie weet ons dat hy na Waterval-Onder ontbied is. Ons is Noome dank verskuldig dat hy heelwat belangrike feite opgeteken het.

Sy dagboekie word in die Nasionale Argief in Pretoria bewaar. Hieruit kom ons te wete dat Noome op 18 Augustus 1900 ’n kerkdiens by Kruger se huis in Waterval-Onder, wat van die president se koets gelewer is, bygewoon het.

Daardie middag het die ouditeur-generaal en tesourier-generaal Noome op ’n wandeling geneem, vermoedelik om te bepaal of hy betroubaar genoeg is om die goud oor die grens te neem.

Steyn in Waterval-Onder

Pres. M.T. Steyn van die Vrystaat het intussen in Waterval-Onder aangekom. Noome het in dieselfde trein as die twee presidente vertrek met die goud wat oorgebly het nadat die krediteure betaal en van die goud aan kommando’s gegee is.

Die staatsmanne het in Nelspruit agtergebly, terwyl Noome met 62 kiste ru-goud na Delagoabaai (vandag se Maputo) gery het.

Op 30 Augustus skryf hy: “An te Hectorspruit te vier uuren. Arriveer Komatiepoort tien voor vyf. Koortsboomen groeien alhier. Vertrek kwart over zes ging over brug. Arriveer by die stasie Resanno Garcia.”

Die goud bereik Mosambiek

Nadat hy net meer as 64 000 onse ru-goud ter waarde van £250 000 by die agente Wilcken & Ackermann afgelewer het, onder meer vir sowat £74 500 se koringmeel wat aan die ZAR gelewer is, het Noome gehelp om die res van die goud in 30 kiste te pak om met die skip Bundesrath na Arndt & Cohn in Hamburg te gaan.

Op 11 September het Kruger oor die grens na die destydse Portugees-Oos-Afrika (vandag Mosambiek) gegaan.

Genl. Ben Viljoen het regeringsvoorrade op ossewaens na Pietersburg geneem. Dit wat nie gelaai kon word nie, het hy agtergelaat om verbrand te word.

Intussen het Alfred Milner, Britse hoë kommissaris van Suider-Afrika, navraag gedoen oor die goud wat landuit is. Volgens hom is dit die eiendom van Haar Majesteit. Dit noop amptenare soos Marais en Noome om na Portugal uit te wyk om moontlike aanklagte teen hulle te ontwyk.

Voordat die goud egter Hamburg bereik, is ’n beslagleggingsbevel ter waarde van £150 000 uitgereik. Om al die krediteure se belange te beskerm, het die Norddeutsche Bank in Hamburg die goud in bewaring geneem. Die hofuitspraak het bepaal dat die goud aan Arndt & Cohn, wat voorraad aan die ZAR gelewer het, terugbesorg moes word, want dit behoort nie meer aan die ZAR of Wilcken & Ackermann nie.

ZAR-regering ‘het geld’

Ná vredesluiting op 31 Mei 1902 is genls. Louis Botha, Koos de la Rey en Christiaan de Wet na Europa om geld vir die verarmde Boere in te samel.

Joseph Chamberlain, die Britse eerste minister, het ’n beroep op die Europese lande gedoen om nie die Boere te ondersteun nie, want die ZAR-regering het kwansuis genoeg geld. Milner speel hierop in deur aan te voer dat die Boere miljoene ponde se geld en goud besit wat óf in Europa óf elders versteek is. Daarom sou dit vir Brittanje onnodig wees om groot bedrae aan oorlogsvergoeding te bestee.

Noome verskaf syfers van hoe die laaste goud bestee is: £50 000 vir die ZAR se administratiewe uitgawes; ’n geskatte £40 000 aan die Vrystaat; £74 500 vir koringmeel wat by Wilcken & Ackermann gekoop is; ’n onbekende bedrag vir dié wat na Portugal uitgewyk het, ’n bedrag vir Kruger se verblyf in Portugees-Oos-Afrika en Europa. Wat nie hierby ingesluit is nie, was die bedrae wat in Machadodorp uitbetaal en aan die Boerekommando’s gegee is.

Jare later skryf Meyer, wat as jongman die goud van Pretoria af vergesel het, aan Killie Campbell, bekend om haar Africana-biblioteek: “By recording the facts I regret having to spoil the romantic stories about the ‘Kruger Millions’ which latter never existed”.

Oorlog en goud bied ’n vrugbare teelaarde vir drome van skatte wat iewers langs ’n treinspoor of onder ’n kremetartboom begrawe lê – en net wag om ontdek te word!

Dr. Landman is ’n afgetrede onderwysnavorser en politikus.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.