Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die misverstand oor Afrikaans

Twee swaargewigkommentators het hulle in die laaste week teen Afrikaans as onderrigtaal op universiteit uitgespreek. Hulle is prof. Jonathan Jansen, vorige rektor van die Universiteit van die Vrystaat, en Johann van der Westhuizen, oudregter van die konstitusionele hof.

Leopold Scholtz

Jansen se punt is dat “die grondwetlike bepalings en institusionele statute ter beskerming van Afrikaans as onderrigtaal” vir baie swart mense “ ’n simbool van rasse-uitsluiting, wit bevoorregting en marginalisering” is.

Op sy beurt verwys Van der Westhuizen na art. 29 (2) van die Grondwet, wat die reg erken om “onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelik doenlik is”.

Hy gee dan, heel eerlik, te kenne dat dié reg, wat hom betref, nie opweeg teen art. 30 nie, wat bepaal dat taalregte nie uitgeoefen mag word “op ’n wyse wat met enige bepaling van die Handves van Regte onbestaanbaar is nie” (dus ’n verbod op diskriminasie).

Jansen en Van der Westhuizen se boodskap is in wese dieselfde: Aandrang op Afrikaans kom noodwendig op rassediskriminasie neer.

En omdat die grondwetlike verbod op diskriminasie swaarder weeg as taalregte, meen hulle – as ek hulle reg verstaan – dat aandrang op spesifiek Afrikaanse taalregte ongrondwetlik is.

Ek is nie seker of hulle dit besef nie, maar die implikasie van hul standpunt is dat alle artikels wat taalregte beskerm waardeloos is en net sowel glad nie in die Grondwet opgeneem kon gewees het nie. Dis verstommend.

’n Mens kan jou voorstel dat dié standpunt op morele en/of politieke gronde gestel word. Hulle is nie die enigstes nie. Daar is talle waarnemers wat meen die begrippe inklusiwiteit, nierassigheid en geen diskriminasie is belangriker as Afrikaanse taalregte.

Dis op sigself ’n intellektueel eerlike standpunt waaroor ’n mens egter gerus ’n oop gesprek kan voer. Op dieselfde gronde kan jy naamlik ook aanvoer dat ander gevolgtrekkings moontlik is.

As inklusiwiteit, nierassigheid en geen diskriminasie belangrik is (en ek deel dié mening), is die vraag hóé dit prakties nagestreef moet word. Is jy inklusief en nierassig as jy Afrikaanstaliges uitsluit? Bewys jy jou teenkanting teen diskriminasie as jy teen Afrikaanssprekendes diskrimineer?

Dis op sigself ’n intellektueel eerlike standpunt waaroor ’n mens egter gerus ’n oop gesprek kan voer. Op dieselfde gronde kan jy naamlik ook aanvoer dat ander gevolgtrekkings moontlik is.

Is die beste wyse om versoening na te streef om mense se identiteit as’t ware te kriminaliseer? Of is dit om juis voorsiening binne die gemeenskaplike huis daarvoor te maak?

Is dit om ’n groep aan die staat te bind deur hulle die reg te gee om hulself te wees? Of om hulle te vervreem deur hulle in die tande te skop?

Die vreemdste is dat Van der Westhuizen sy eie ideologiese oortuigings by wyse van spreke in die Grondwet gaan inléés op plekke waar dit eenvoudig nie voorkom nie.

Daar is reeds bewys dat Afrikaans as onderrigtaal gehandhaaf kan word sonder om nie-Afrikaanssprekendes uit te sluit. Waaraan die geagte oudregter hom hier skuldig maak, is iets wat die Duitsers noem hineininterpretieren – in die akademiese wêreld ’n groot sonde.

Jansen het hom al as ’n ongeleide missiel met ’n haat teen Afrikaans bewys. Ek was al by ’n toespraak van hom waar hy iemand in die gehoor van die podium gevloek het toe dié op Afrikaans aangedring het. Ek dink nie hy hoef ernstig opgeneem te word nie.

Tog bevestig sy en Van der Westhuizen se bydraes iets waarop ek al voorheen gewys het: As ons práát van Afrikaanse taalregte, hóór die ander kant apartheid, diskriminasie en uitsluiting.

Dít is die groot uitdaging – om daardie fundamentele misverstand uit die weg te ruim.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.