Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die nadraai van die boeretwis oor bobotie

In Junie het ’n artikel in Die Burger verskyn oor die polemiek rakende die oorsprong van bobotie.

Dit het tot ’n vurige debat op onder meer Facebook gelei. As kosskrywer wil ek graag my saak stel oor die polemiek wat reeds in 2013 begin het.

Prof. Fransjohan Pretorius was destyds die studieleier van dr. Hettie Claassens se proefskrif, Die Geskiedenis van Boerekos 1652 – 1806. Maar die twis het eintlik ontstaan oor Claassens se standpunt dat die destydse Oosterse slawe geen invloed op die Kaapse kookkuns of Boerekos gehad het nie. Claassens self sê onlangs by navraag aan Heindrich Wyngaard dit gaan haar verstand te bowe dat daar opnuut ’n bohaai oor haar navorsing gemaak word. Sy het in 2004 haar doktorsgraad vir haar proefskrif verwerf.

Toegegee, dis lank gelede. Maar haar doktorale proefskrif is gegrond op “lank gelede” en dit is tog waaroor hierdie gesprek gaan – oor lank gelede.

Claassens se bewering dat die Oosterse slawe geen invloed, buiten die benaminge, op Boerekos gehad het nie, steun min of meer op die volgende: Wat getalle betref, was die slawe, volgens haar, nooit ’n dominante groep aan die Kaap nie. Dus sou hulle nooit ’n beduidende invloed op die Kaapse kookkuns kon gehad het nie.

Maar die historici Nigel Worden, Elizabeth van Heyningen en Vivian Bickford-Smith verskil kennelik van Claassens. In Cape Town: The Making of a City, verskaf hulle etlike tabelle wat aantoon dat die teendeel waar is, en hul gevolgtrekking is: “Die grootste enkele kategorie van die Kaap se bevolkingsgroepe was slawe. In 1731 het die slawe 42% van die stedelike bevolking uitgemaak.”

Dit ly geen twyfel nie dat daar veral in die vroeë jare ’n knaende tekort aan Nederlandse vroue aan die Kaap was, soseer dat daar selfs ’n groep weesmeisies uit Nederland ingevoer is om in hierdie tekort te voorsien.

Claassens beweer ook dat die slawe te arm was om speserye in Indonesië te kon bekostig. Volgens haar het die vroue uit Nederland die kombuise oorheers en sou nie toelaat dat die slawe geregte uit Indonesië voorberei nie.

Maar waar was hierdie vroue? Volgens Cape Town: The Making of a City, was daar in 1658 slegs 20 Nederlandse vroue en kinders aan die Kaap. Daar was egter toe reeds 89 slawe in die Kaap.

Dit ly geen twyfel nie dat daar veral in die vroeë jare ’n knaende tekort aan Nederlandse vroue aan die Kaap was, soseer dat daar selfs ’n groep weesmeisies uit Nederland ingevoer is om in hierdie tekort te voorsien.

Waar sou hierdie weesmeisies die kennis kon opdoen om met speserye te kook? Speserye was te duur vir die gewone mens. Die weesmeisies kon waarskynlik nie eens lees of skryf nie. In elk geval was dit wel die geval met die oorgrootte meerderheid van die lede van die VOC wat gewerf is om na die Kaap te kom.

Volgens historici, onder andere dr. Helen Robinson, het hulle behoort tot die laagste vlak van die samelewing en was baie van hulle ongeletterd en het hulle hul duimafdruk gebruik om dokumente te onderteken. Die resepte wat onder meer in De verstandige kock verskyn het, was nie vir hulle bestem nie, maar eerder vir die ryk koopmansklas in Nederland.

Natuurlik was almal wat hier by die Kaap aan wal gestap het, nie ongeletterd nie.

In The Colony of New Netherland: A Dutch Settlement in Seventeenth-Century America noem die skrywer, Jaap Jacobs, dan ook dat De verstandige kock vir die rykes bestem was en nie die gewone man nie.

Maar kom ons bekyk ’n bietjie die gereg, en die onmin, wat gelei het tot die skryf van hierdie artikel, naamlik bobotie.

Claassens beweer dat bobotie sy ontstaan te danke het aan Apicius, die Romeinse kok wat ’n gereg soortgelyk aan bobotie in sy kookboek ingesluit het. Sy meld ook die getal speseryryke geregte in De verstandige kock, en wys daarop dat baie van hierdie geregte eintlik van Persiese oorsprong is.

Die oorsprong van bobotie is vermoedelik Indonesies, en om presies te wees, Javaans.

Ek het die Nederlandse koshistorikus en vertaler van De verstandige kock, Marleen Willebrands, oor die oorsprong van bobotie genader en in ’n e-pos skryf sy: “Ek het ’n bietjie navorsing gedoen oor bobotie en my navorsing toon dat hierdie gereg in die 17de eeu (of later) via die Kaap de Goede Hoop uit Indonesië (of andersom) na Nederland gekom het.”

Ter inligting het sy faksimilees van ’n handgeskrewe bebotok-resep ingesluit wat uit die 18de eeu dateer. Die gereg het bekend gestaan as bebotok wat, dink ek, na genoeg is aan ‘bobotie’.

Theodora Hurustiati, ’n Djakarta-gebore sjef, skryf in die Jakarta Post: “Die meeste van ons is waarskynlik nie bewus daarvan dat een van Suid-Afrika se gunstelinggeregte ’n Indonesiese verbintenis het nie.

“Die oorsprong van bobotie is vermoedelik Indonesies, en om presies te wees, Javaans. Dit is geïnspireer deur bobotok, oftewel botok, en is die eerste keer deur Javaanse slawe bekend gestel, wat in die 1600’s deur Kaapstad deur die Nederlands Oos-Indiese Kompanjie na Suid-Afrika gebring is.”

Miskien moet Pretorius en Claassens eerder een aand in die Bo-Kaap aansit vir ’n Kaaps-Maleise-kerrie. Dalk sal hulle anders dink oor die saak.

Meer oor:  Bobotie  |  By
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.