Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die nukke, grille en gille van tennis
Emile Joubert Foto: Jaco Marais.

Winterlug hier op die vel, maar doer in die Noordelike Halfrond het dit somer geraak, met talle oë op die beroemde Europese tennistoernooie. Die asembenemende spel word soos gewoonlik ingekleur deur die professionele spelers se vreemde gewoontes op die bane van Rome, Parys en Londen.

Daar is, byvoorbeeld, die steune, kreune en gille wat sekere spelers uitlaat net soos hul raketsnare die bal tref. Hierdie tennisbyklanke wissel van die benoude sug-kreun van Rafael Nadal tydens die strek na ’n hoë vlughou tot Serena Williams se ruggraatrillende skerp gil wat ingespan word om haar voorhand mee aan te vul.

Die Rus Maria Sharapova, onlangs uit die spel getree, sal onthou word as die gilkoningin. Met elke hou het dit geklink soos ’n kombinasie tussen ’n ongeoliede windpomp wat in die Karoo-wind tol en ’n tiener se skwiek tydens haar eerste waks-haarverwydering onder die bikinilyn.

Tog blyk hierdie tennisgillery nie net daar te wees as bewys van die spelers se hoë-oktaan- fisieke inspanning nie.

Volgens kenners, onder andere die voormalige kampioen Martina Navratilova – self ’n kreuner van formaat – gebruik spelers soms die vokale uitdrukkings om hul opponente te flous. Want deur uit volle bors ’n “aiee-ha” of ’n “uhh-oo” uit te laat terwyl die tennisbal gemoker word, word die natuurlike klank van bal-teen-raket verdoesel.

Sien, omdat hy of sy net ’n beangste gil hoor van anderkant die net in stede van die verwagte plaksgeluid van bal teen snaar, is dit vir die ander speler moeiliker om daardie aankomende bal te “lees” in terme van teen watter spoed en in watter rigting dit gaan vlieg.

Sien, omdat hy of sy net ’n beangste gil hoor van anderkant die net in stede van die verwagte plaksgeluid van bal teen snaar, is dit vir die ander speler moeiliker om daardie aankomende bal te “lees” in terme van teen watter spoed en in watter rigting dit gaan vlieg. Slinks verby, of hoe?

Nog ’n tennisverskynsel vir die sofatoeskouer is die spelers se beloer van die balle voordat daar afgeslaan word. Novak Djokovic of Dominic Thiem sal drie balle van die joggie ontvang en dan al drie bekyk met die besorgde aandag van ’n beesboer wat sy beste bul se teelsakke inspekteer voor ’n Landbouweekblad-fotosessie. Een bal word weggesmyt. Wat maak daardie twee oorblywende balle nou so besonders?

Deeglike navorsing laat dit blyk dat, wel, nie alle balle gelyk is nie. Die tennisspeler wat afslaan, soek een bal wat se kroesbedekking minder weerstand deur die lug gaan bied vir die vinnige eerste dien. As ’n tweede afslaan benodig word, moet die tennisbal se geelgroen bekleedsel méér wollerig wees. Daarmee kan die speler en sy raket hierdie stadiger bal se verhoogde lug-weerstand omtower tot ’n afslaan vol draaie, kinkels en valle deur die lug om, hopelik, die opponent mee te flous.

Einste Djokovic, wat vanjaar gaan poog om Wimbledon vir die sesde keer te wen, is wel ’n ware bul. Nie net ken hy sy balle nie, maar hy eet ook gras. Sedert hy sy eerste Wimbledon-titel in 2011 gewen het, het Djokovic elke oorwinning gevier deur ’n paar halms van die hoofbaan se heilige grasoppervlak te pluk en te kou.

Mag die beste bal vanjaar wen.

Meer oor:  Emile Joubert  |  Tennis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.