Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die NVG kan só sy aansien red
Henry Jeffreys

Pres. Jacob Zuma se lot is in die hande van adv. Shaun Abrahams, ­direkteur van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en vermeende bondgenoot van die president.

Die appèlhof se beslissing oor die appèl teen ’n uitspraak van die hooggeregshof dat die besluit om honderde klagte van korrupsie teen Zuma te laat vaar, irrasioneel en ongrondwetlik was, beteken Abrahams moet besluit om die klagte weer in te stel of nie.

In reaksie op die appèlhof se uitspraak het die NVG gesê hy sal dit bestudeer en dan besluit wat om te doen. Dit klink redelik, maar ’n mens kan nie help om te wonder wat daar is om te bestudeer van ’n uitspraak wat eenvoudig en absoluut duidelik is nie.

Die NVG se besluit was irrasioneel en ongrondwetlik. In die gevleuelde woorde van die ontslape voormalige nasionale polisiekommissaris, Jackie Selebi: “Finish en klaar.”

Abrahams sal waarskynlik sy besluit om Zuma te vervolg of nie tot minstens ná die ANC se verkiesingskonferensie in Desember vertraag. Dit sal Zuma die kans gee om op die opvolgstryd te fokus en na sy sin te probeer beïnvloed. Dit sal dan duidelik wees wie die nuwe leier nie net van die ANC nie, maar, in 2019, ook van die land sal wees.

’n Uitslag vír adj.pres. Cyril Rama­phosa sal nie goed vir Abrahams of die NVG wees nie.

Intussen kan ons maar daarvan vergeet dat Zuma die skrif aan die muur sal sien. Hy staar hom nou al jare blind daarteen en sal so lank moontlik aanspreeklikheid probeer ontduik. Maar sy tyd blyk nou om te wees en sy beweegruimte baie min.

Die skeptisisme oor of Zuma uiteindelik sy dag in die hof sal kry, loop hoog, nieteenstaande die appèlhof se beslissing. Dit is te verstane. Zuma bewys keer op keer sy slag om in die politiek te oorleef en aan die mag vas te klou. Sy uurglas is nou egter byna uitgeloop – mits Abrahams en die NVG hul kant bring.

Hierdie hele sage het bewys dat alles nog nie verlore vir Suid-Afrika is nie. Die regbank staan nog sterk as ’n pilaar van die grondwetlike bestel.

Abrahams sal waarskynlik sy besluit om Zuma te vervolg of nie tot minstens ná die ANC se verkiesingskonferensie in Desember vertraag.

Die regbank is in vele opsigte ons demokrasie se redding, met skerp en deurdagte uitsprake wat ’n mens net kan bewonder.

Hofsake soos dié een sorg vir die beste realiteitstelevisie waarvoor jy kan hoop. Dis nie net die regters wat beïndruk nie, maar ook die advokate en hul assistente. Ons howe kan vergelyk word met van die bestes in die demokratiese wêreld.

Dit is die NVG wat sleg daarvan afgekom het. Waar die howe duidelik bo die partypolitiek verhewe is, kan dieselfde ongelukkig nie van die NVG gesê word nie.

Dié instelling het tot dusver klaaglik misluk in een van sy belangrikste missies, naamlik om almal gelyk voor die reg te behandel en aan te kla sonder aansiens des persoons.

Die DA verdien ook ’n pluimpie vir sy deursettingsvermoë met die vervolging van Zuma en ander magsvergrypers. Die DA het nog nie al die politieke mag wat hy wil hê nie, en wend hom graag tot die howe – tot groot frustrasie van die ANC.

Tot sy krediet het die ANC wel ná die uitspraak vinnig gereageer en gesê die party sal die uitspraak respekteer soos wat hy tot dusver nog alle ander hofuitsprake gerespekteer het.

Dit is die DA se goeie reg om hom tot die howe te wend oor kwessies wat grondwetlike uitsluitsel verdien. Op dié manier laat die DA die demokrasie tot sy volle reg kom.

Abrahams en die NVG kan dié proses ’n hupstoot gee deur nou die regte ding te doen en Zuma te vervolg. Die land het dit nodig en die NVG nog meer.

Meer oor:  Shaun Abrahams  |  Jacob Zuma  |  Korrupsie  |  Nvg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.