Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die onluste-epidemie: Sewe merkers

Daar is sterk ooreenkomste tussen die onluste en Covid-19, skryf dr. Heinrich Matthee. Dis ’n aansteeklike siekte met vatbare mense, besmette mense en mense wat herstel het.

In baie gevalle, soos by dié perseel in KwaZulu-Natal, is winkelsentrums en stoorplekke eers geplunder, waarna dit aan die brand gesteek is. Foto: Gallo Images

Verlede week is ’n ander land, toe Covid-19 in Suid-Afrika die grootste epidemie was. Stephen Burbeck noem onluste gedragsepidemies, waarvan die patrone soortgelyk is aan dié van gesondheidsepidemies. Die onluste-epidemie is nou Suid-Afrika se onmiddellike bekommernis.

Die situasie kan nog baie jakkalsdraaie maak. Daar is egter reeds sewe merkers ná die nuus van die afgelope week wat ’n mens vorentoe kan help oriënteer.

1. Faksies en bendes

Die wisselwerking tussen politieke faksies en misdaadbendes sal in etlike gebiede die sleutel wees tydens die huidige onrus. Die vonnisoplegging en gevangenisstraf van oudpres. Jacob Zuma was vir sommige in sy faksie die belangrikste politieke sneller om protes aan te hits en te organiseer.

Bheki Cele, minister van polisie, beweer dat ’n ekonomiese sabotasieveldtog gemik op hospitale en ander infrastruktuur aan die gang is. Dit is moeilik om nie aanvalle in dié kategorie te sien nie. Kommunikasiestrukture is geteiken en meer as 100 selfoontorings is vernietig. In Alexandra, Mamelodi, Kagiso en Durban is vier gemeenskapsradiostasies geplunder en van die lug gedwing.

Sodra betogings begin, ontwikkel hulle egter hul eie dinamika. In hierdie geval het die betogings verander in onluste buite die politiek. Sowel georganiseerde plaaslike groepe en misdaadbendes as opportunistiese plunderaars uit werk- en middelklaskringe speel daarin ’n rol.

Die onluste toon ’n paar ooreenkomste met dit wat in 2005 in Frankryk en in Augustus 2011 in Londen gebeur het. Ek het in Suid-Londen gewerk tydens die onluste in 2011, net 500 m van ’n polisiekantoor wat heeltemal oorweldig is deur verskillende krisisse, terwyl plunderaars die elektronikawinkels in die winkelsentrum 200 m verder leeggemaak het. Oproermakers en plunderaars het etlike dae ook winkels, huise en motors in Londen en verskeie stede laat brand. Opportunisme en georganiseerde misdaad het oorheers.

In die geval van Suid-Afrika is daar natuurlik ’n heel ander politieke bestel as in die Verenigde Koninkryk. Sommige van die misdaadbendes en plaaslike groepe het waarskynlik reeds bande met Zuma-bondgenote. Dit was nie anders met Zuma en die ANC tydens die guerrillaoorlog nie, soos die historikus Stephen Ellis in External Mission aandui.

Plunderaars hardloop weg vir die polisie by ’n winkelsentrum in Eshowe in KwaZulu-Natal. Foto: Mlungisi Louw

2. Gebrekkige regeringsgesag

Afgesien van die faksiepolitiek het misdaadbendes en plaaslike groepe die afgelope week die geleentheid gebruik om spesifieke ondernemings en plase te teiken.

Die bedrywighede van die papierprodusent Sappi Ltd., die bouvoorraadbedryf Cashbuild Ltd. en Transnet SOC Ltd. is geraak. Bierprodusente se gespe­sialiseerde vervaardigingsgeriewe is ook geteiken.

Die grootste media-fokus was tot ’n paar dae terug nog op die skares van stedelike opportuniste wat meer as 200 winkelsentrums geplunder het. In Pietermaritzburg en Durban het plunderaars van huishoudings met ’n lae inkomste meestal die basiese goedere soos kos en skoonmaakmiddels gekies, terwyl middelklas-plunderaars in voertuie gekom het om meubels en toestelle op te laai. Dit het hulle soms 48 uur geneem om groot winkelsentra en pakhuise heeltemal leeg te dra. Nadat die plundering verby was, is geboue egter dikwels op ’n georganiseerde manier afgebrand.

Die afwesigheid van die polisie in baie gebiede tydens aktiewe plundery was opvallend. Buitelandse beleidmakers wat goed ingelig is, weet dat prof. Susan Booysen se beoordeling in die Sunday Independent in 2015 oor interne soewereiniteit steeds geldig is: “Die regering het gesag verloor oor groot dele in Suid-Afrika, oor die onderwêreld waar xenofobie en plundery plaasvind en die gepeupel regeer.”

Ná die onluste sal die mag van georganiseerde bendes en plaaslike krygshere in baie gebiede sterker wees.

3. Stede, dorpe én plase

Baie media-aandag is op groot stedelike sentrums. In sommige kleiner dorpe in KwaZulu-Natal is die middedorpe onherkenbaar beskadig.

Die onluste het ook versprei na plase in dié provinsie. Suikerfabrieke is gesluit nadat vragmotors met suikerriet gekaap is, meulens bedreig en suikerrietplase aan die brand gesteek is, het dr. Thomas Funke, uitvoerende hoof van die SA Suikerrietverbouersvereniging, gesê.

Meer as 70 brande is op plase noord van Pietermaritzburg in gebiede soos New Hannover, Dalton, Wartburg en Appelsbosch gestig.

Boere het reeds groot verliese gely omdat hulle nie hul produkte by plaaslike markte en winkels kan kry nie. Die onluste sal beslis nie diegene ontmoedig wat tientalle grondbesettings oorweeg of reeds uitgevoer het parallel met die ANC se strewe na onteiening sonder vergoeding nie.

Dít is wat oorgebly het van die Bafana Bafana-speler Lucky Lekgwathi se restaurant, Grootman, nadat plunderaars dit in puin gelê het. Lekgwathi het die restaurant in Soweto in April vanjaar geopen. Foto: Gallo Images

4. ‘Ons is die polisie’

Nie net Westerse beleggers volg die onluste-epidemie nie. Asiatiese en Midde-Oosterse nuuskanale gee dit ook dekking.

In Johannesburg en Durban is moskees afgebrand. In laasgenoemde geval het nóg die brandweer nóg die polisie gereageer op oproepe om hulp. Die gewilde Maulana Mohammed Motala van die Al Imdaad-stigting het op Radio Islam International verklaar dat meestal Moslem-ondernemings vernietig is, die een gebou ná die ander.

Geen polisie of weermag was in hoofsaaklik Indiërgebiede in KwaZulu-Natal te sien nie. Inwoners het deur die nag ure van spanning ervaar, gille en geweerskote gehoor. Ons weet nou dat die mans van huishoudings daar hul huise en die strate van hul woongebiede georganiseer en verdedig het. Video’s van sulke groepe in Woodlands en ander gebiede is versprei. Ander het probeer om hul winkels en ondernemings te versper en te beskerm. WhatsApp-groepe is ook gestig, met een geval van 750 moeders wat brood, melk en doeke vir hul babas probeer koop het.

Die gemeenskapsverdedigers het plunderaars verhinder om buurte binne te gaan. “Daar is geen polisie nie. Ons is die polisie,” het een gemeenskapsleier gesê. In Phoenix en Chatsworth het spanning ontstaan toe plunderaars op pad na die winkelsentrum alternatiewe roetes deur hierdie gebiede probeer gebruik het.

Op sosiale media het plasings verskyn wat dié verdedigings­aksies veroordeel. ’n Hutsmerk op Twitter wat aanhits “Indiërs moet val” het verdere sosiale spanning aangewakker. Gemeenskappe is nou meer as ooit op hulself aangewese vir goeie beskerming.

5. Gemeenskapsdinamika

Terwyl die onluste ook in Gauteng plaasgevind het, was die grootste politieke impak tot nog toe op KwaZulu-Natal. Die provinsiale ANC het dit nie gewaag om sterk standpunt in te neem teen die verpolitiseerde chaos nie. Zoeloe-strukture en Zoeloe-nasionalistiese aspirasies sal ’n belangrike rol speel in die vraag of, wanneer en hoe die onluste in dié provinsie bedaar. Baie van die onluste sal waarskynlik nie-gewelddadige Zoeloe-politiek op kort termyn versterk eerder as verswak.

Die geweld is grootliks tot sommige van die noordelike provinsies beperk. Afrikanerorganisasies soos Solidariteit, AfriForum, Saai en Sakeliga, waarvan baie lede meer funksionele outonomie as die ANC-oorheersde staat verkies, speel ’n kernrol in gemeenskapsveiligheidstrukture en verskeie forums van die polisie. Dieselfde geld vir taxiverenigings in baie dele van die land.

Dit moet nog blyk in watter mate die verskillende omgewings van die Wes- en Noord-Kaap ’n buffer of struikelblokke vir onluste bied.

Mense – van alle rassegroepe – in die Wes-Kaap wat meer outonomie of vreedsame onafhanklikheid voorstaan, kon weens onlangse gebeure slegs meer oortuig van hul standpunt wees.

Mbali Hlophe, Gautengse LUR vir sport, kuns, kultuur en ontspanning, het Donderdag gehelp om ’n winkelsentrum in Daveyton aan Johannesburg se Oos-Rand op te ruim. Foto: Gallo Images

6. Stroombrekers

Net soos epidemies, is onluste heel dinamiese verskynsels. Die Franse navorsers Laurent Bonnasse-Gahot en Henri Berestycki toon dat fisieke nabyheid steeds ’n belangrike rol speel in die verspreiding van idees of gedrag tydens onluste.

Daarbenewens is sterk interpersoonlike bande belangrik om mense in te trek tot optrede wat die sosiale orde uitdaag. Hierdie twee faktore is belangrik, sowel om oproermakers te probeer verswak as om burgerlike groepe te mobiliseer vir buurtbeveiliging.

Navorsers van aansteeklike onluste onderskei tussen vatbare mense, besmette mense en mense wat herstel het. Iemand wat vatbaar is, is ’n potensiële oproermaker, ’n besmette individu is ’n aktiewe oproermaker en ’n “herstelde persoon” is iemand wat opgehou het om skade aan te rig. Vir nou het die potensieel miljoene “vatbare” mense die “besmette” oproeriges ver oortref.

Konsentrasies van die armes, goed georganiseerde bendes en die ANC se faksiegevegte bestaan egter in die meeste provinsies. Hulle kan die vorming van groepe aanvuur wat groot genoeg raak om te bereken dat hulle kan wegkom met plundering, brandstigting en sabotasie-aanvalle. Interne verskuiwings tussen die oproermakers of eksterne gebeure en skokke kan steeds lei tot minder of meer onrus.

Sal die owerhede en gemeenskapstrukture in ander provinsies stroombrekers kan skep, of ten minste hul kernbates teen onluste kan verdedig? Sal hulle in staat wees om steun te kry van die baie arm burgers en verbruikers wat meer sukkel weens die onluste en die impak daarvan?

7. Hibriede regime

Cele het onlangs gesê dat mense “nie toegelaat sal word om ’n bespotting van ons demokratiese staat te maak nie”.

Het die politieke moorde en intimidasie binne die ANC, wat die bedanking van ’n ANC-LP soos Makhosi Khoza en vrees onder provinsiale ANC- en opposisiepolitici veroorsaak het, nou ook opgehou? Is die wêreldklas-waardeverwoesting van die ekonomie en selfverryking deur ANC-kaders in die kabinet, die staatsdiens en staatsbedrywe nou verby?

Sal die lof of die stilswyende erkenning deur die ANC van die gewelddadige veldtogte deur middelklasstudente vir verskillende politieke en kulturele sake op universiteitskampusse herroep word? Sal die onvermoë van die gepolitiseerde wetstoepassers om duisende verkragtings, rooftogte en 175 000 moorde die afgelope dekade of so af te skrik of te straf, reggestel word?

Natuurlik nie.

Daar is net nege maaltye tussen die mensdom en anargie.
Henry Lewis

Ek het sedert 2014 in verskillende verslae aangevoer dat die Suid-Afrikaanse politieke orde onder Zuma ’n hibriede regime geword het. Die lokus van die politiek het verskuif na ’n nuwe politieke arena waar nie-demokratiese en demokratiese kragte, prosesse en spelreëls oorheers.

Henning Melber en Jason Sumich van die Duitse Instituut vir Globale en Internasionale Aangeleenthede het tot soortgelyke gevolgtrekkings gekom. Demokratiese dinamika kon meestal nie die belangrikste politieke gebeure van die afgelope dekade verklaar of die negatiewe uitkomste voorspel nie.

Die onluste en onrus, soos die Covid-19-pandemie, sal die sekurokrate se invloed en toegang tot eie hulpbronne in die eenparty-dominante staat verstewig.

Weens die verskillende sosiopolitieke en ekonomiese uitdagings sal variasies van die hibriede regime onder pres. Cyril Ramaphosa of sy opvolger van krag bly. Soos die Afrika-kundiges Patrick Chabal en Jean-Pascal Daloz in Africa Works: Disorder as Political Instruments verklaar, gebruik Afrika-regerings misdaad en geweld wat hulle nie kan beheer nie om hul teenstanders te verswak en die politieke omgewing te herorden.

Die onluste is slegs een voorbeeld hoe intimidasie en dreigemente van geweld ’n belangrike deel van politieke debatte en praktyke vorm.

Tydens die munisipale verkiesing in 2016 is sluipmoorde op meer as 20 politieke kandidate gepleeg. Georganiseerde intimidasie en politieke sluipmoorde sal waarskynlik ook nie by die komende munisipale verkiesing afwesig wees nie. Maar tot so onlangs as 21 Junie 2021 het Ramaphosa steeds verklaar dat die ANC sy kop in skaamte hang as gevolg van die politieke moorde in sy geledere.

Nuwe normaal?

Dr. Heinrich Matthee

Die sewe merkers gee ’n blik op die politieke toekoms vir die sakewêreld en gemeenskappe.

Suid-Afrika se bevolking het met byna 50% toegeneem sedert 1994. Die ANC-faksies sal in die toekoms nog minder in staat wees om druk en eise te hanteer.

Soos Henry Lewis in 1906 gesê het: “Daar is net nege maaltye tussen die mensdom en anargie.” In die geval van Suid-Afrika sou hy vandag miskien ook iets oor skaars water en belastingbronne wou sê.

ANC-politici sal voortgaan met groot uitsprake oor demokrasie, herstel en transformasie. Faksiestryde, geweldsmisdaad en onluste-epidemies is egter hier om te bly. Rolspelers uit die private sektor en gemeenskappe beter dink aan gebeurlikheidsplanne: om hul eie veiligheidstelsels te verbeter, maar ook om te kyk hoe diplomasie hul plaaslike verhoudings kan verstewig.

Op mediumtermyn sal baie van hulle moet oorweeg waar hulle kan konsentreer om veiliger sones te vestig.

Die onluste is ’n wekroep dat hulle in ’n multipolêre Suid-Afrika leef.

  • Dr. Matthee woon in Nederland en is ’n politieke ontleder vir bedrywe in die Midde-Ooste.
Meer oor:  Gauteng  |  Kwazulu-Natal  |  Geweld  |  Zuma-Geweld  |  Plundery En Geweld  |  Plundery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.