Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dié ooms het nooit oor die oorlog gepraat

Jare gelede toe ons op Grootfontein in die ou Suidwes gewoon het, was oom Jors en tannie Johanna Ströh van my ouers se beste vriende.

Dana Snyman

Maar hulle was anders as ons, oom Jors en tannie Johanna. Hulle was nie Natte nie. Hulle was Sappe.

Ek was ses of sewe jaar oud, maar ’n kind kom sulke dinge gou agter. Oom Jors, ’n stillerige eenkant-oom, het met ’n Chev Fleetline-bakkie gery, so ’n bleek gele, terwyl die meeste ander boere Ford F100’s gehad het. Hy het wel in die kerkraad gedien, maar sou nooit hoofouderling kon word nie, in die skoolkomitee dien of gevra word om by die Rapportryers of die Broederbond aan te sluit nie.

Tannie Johanna het aan die plaaslike tak van die Rooi Kruis behoort, terwyl die meeste ander vroue eerder lid van die gemeente se Vrouediens was.

Dalk was dit tannie Johanna se manier om daarvoor dankie te sê.

Nou, ná al die jare, wonder ek of tannie Johanna nie by die Rooi Kruis was omdat oom Jors in die Tweede Wêreldoorlog geveg het nie. Die Rooi Kruis was op elke slagveld teenwoordig. Dalk was dit tannie Johanna se manier om daarvoor dankie te sê.

Ons het geweet oom Jors was in die oorlog, maar nêrens in Omsons Wes, hul plaas, se opstal het ’n militêre sertifikaat of ’n medalje of ’n foto van oom Jors in ’n uniform gehang nie. Daar was nie eens ’n foto van genl. Jan Smuts nie, want, ja, as jy ’n Sap was, was jy lief vir Jannie Smuts. As jy ’n Nat was, was dr. D.F. Malan jou man.

Wanneer ons op Omsoms Wes gekuier het, het Pa soms sy .303 gevat en die veld in gestap om ’n koedoe te gaan soek. Oom Jors is nooit saam nie. Oom Jors hou nie van skiet nie, het Pa gesê.

Een aand het ons by die lang tafel in Omsons Wes se eetkamer gekuier. Die grootmense het gepraat oor honde. Oom Jors het opgestaan, in die kamer gaan krap en teruggekom met ’n swart-en-wit kiekie van ’n paar soldate wat met ’n bont brakkie op ’n pantserkar sit. Een van daardie soldate was hy. Dié hondjie, het hy gesê, was saam met hulle in Italië, by Monte Cassino. Nog voor hulle die Duitse bomwerpers kon hoor of sien, dan begin die hondjie tjank, dan weet hulle.

Dit was al keer wat ons oom Jors iets oor die oorlog hoor sê het. Omtrent 55 000 Geallieerde soldate het in die slag van Monte Cassino gesneuwel.

Oor die jare heen het ek van ander sulke ooms gehoor wat in ’39 se oorlog was, maar nooit daaroor gepraat het nie. Ooms wat Sappe was, stillerige ooms wat eenkant toe gestoot is deur die Natte wat oral in die land geheers en begin oorheers het.

Tannie Johanna is Maandag op Grootfontein by haar dogter, Dilene, oorlede. Sy word vandag by oom Jors in die dorp se begraafplaas begrawe. Sy was 91 jaar oud. Rus sag, Tannie.

So vyf jaar gelede toe ek haar die laaste keer gesien het, het sy gesê oom Jors het op sy sterfbed eers oor die oorlog begin praat. Maar sy het nie gesê wát hy gesê het nie.

Meer oor:  Van Alle Kante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.