Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die openbare dagboeke van ‘awesome’ wees

Die omstredenheid rondom die biografie André P. Brink en die spel van liefde deur Leon de Kock vestig die aandag op bekendes se dagboeke wat in hul leeftyd of nadoods verskyn en waarin die grense tussen die private en die openbare ruimtes vervaag en verdwyn. En dan letterkunde word.

Dit is in teenstelling met die blykbaar uitgediende gedagte dat ’n dagboek net vir eie oë bedoel is – soos dit in Martie Preller se jeugverhaal Nicola B: Streng Privaat voorgestel word.

Wilhelm Jordaan

En wat herinner hoe sommige vroue in die Victoriaanse tyd hul dagboeke met ’n goue sleuteltjie toegesluit het!

Die biografie oor Brink is gegrond op 52 jaar se dagboeke wat dié bekroonde skrywer in sy handskrif geskryf het en wat ’n intieme blik op sy katelkaperjolle gee. Met detail wat min mense tot openbare besit sou wou laat kom.

Wat is dan die bedoeling van ’n dagboek terwyl ’n mens weet daar is steeds mense wat dagboek hou en dit as privaat beskou, terwyl vele ander hul dagboek as ’n blog aanbied. En nog ander mense wat op die sosiale media se “alle stemme en penne is welkom-uitnodiging” reageer en dit dan as ’n openbare dagboek gebruik.

Dagboeke word dikwels omgewerk tot biografieë en outobiografieë – volgens opvattings wat reeds in antieke Griekeland bestaan het dat biografieë belangrik is; ’n soort literêre chirurgie waarin ’n werklik beroemde mens sy/haar belewenisse en insigte aanbied om byvoorbeeld lesers se begrip van ’n tydvak in die geskiedenis van ’n volk te verdiep.

Dit geld byvoorbeeld Anne Frank se bekende Het Achterhuis, waarin sy as 14-jarige haar belewenisse van die Duitse besetting van Nederland in die Tweede Wêreldoorlog aangeteken het.

Maar nou is daar ook ’n sensasiesoekende ontboesemingskultus wat gereeld by veral glansmense voorkom.

Hul dagboeke is vuil wasgoed skitterwit gewas met Sunlight van skouspelagtig bieg én bietjies bygelieg.

Hul dagboeke (werklik of versin) word fyntjies omgewerk tot memoires waarin hulle gemaklik afdaal in die dieptes van hul vergrype, en dan keer hulle ekstaties en gereinig terug na die hoogtes – vuil wasgoed skitterwit gewas met die Sunlight van skouspelagtig bieg én bietjies bygelieg. En alles is netjies verpak as beleë lewensdidaktiek en spyse vir die siel.

Dít werk aansteeklik vir die minder glansryke nabootsers, die gewone mense wat op die sosiale media ’n “stem” en ’n “plek” gekry het waar hulle ook “awesome” kan wees.

Wat opval, is die episodiese aard daarvan – flentertjies ervarings en triviale insidente wat aanmekaar gevleg word met dunnerige moraliserings en uitsprake oor alles en nog wat.

Sulke “dagboeke” word dan die onweerstaanbare narkotikum van bekendmaking. Om jou diepste geheime, of die onbenullige kom en gaan van jou lewe elektronies te boekstaaf, en jouself gereeld te “re-invent”.

Om as’ t ware te sê: “In die webruimte wentel ek saam met duisende soortgelyke ander. Daarom is ek ook ’n ster.”

Meer oor:  Grense  |  Gedagtes  |  Publike  |  Dagboeke  |  Private  |  Omstredenheid  |  Biografie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.