Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dié ‘orrels’ van liefde moet gehoor word

Soms is dit goed dat die kerk nie net na klanke uit sy eie ruimtes luister nie, maar die ore spits en ook breër luister, skryf Cas Wepener na aanleiding van die hooggeregshof-uitspraak oor die NG Kerk en gays.

Grafika: Hanlie Malan

Die hooggeregshof het verlede week uitspraak ten gunste van die 2015-sinodebesluit van die NG Kerk gelewer dat kerke self kan besluit of hulle gay verhoudings wil erken, gay paartjies wil trou en gay predikante wil aanstel.

Die kerk het die saak met koste verloor en regter Joseph Raulinga het namens ’n volbank regters uitspraak gelewer dat die NG Kerk nie by sy eie reëls gehou het toe hy die 2015-sinodebesluit in 2016 herroep het nie. Dié uitspraak bied NG gemeentes weer die moontlikheid om self oor dié sake te besluit.

Sommige mense verwelkom hierdie uitspraak, maar andere is weer minder gelukkig daaroor.

Daar is rofweg een van twee redes vir die ongelukkigheid: óf mense is teen die 2015-standpunt as sodanig gekant óf hulle is daarteen dat howe inmeng by kerklike sake. Sommige mense kombineer natuurlik hierdie en nog ander redes wat tot een groot afkeurende frons versmelt.

Dit is inderdaad ’n komplekse teologiese aangeleentheid.

Daar is soveel sake op sinodale agendas waaroor kerke self intern (meestal) goeie besluite neem. Soms is daar egter komplekse sake waar die veles by sinodes meen dat hulle ’n goeie perspektief op ’n saak het, maar dan soms net té naby, so ’n aks te na aan die lig is. Daarom is dit goed dat die kerk gereeld nie net na klanke wat uit sy eie ruimtes opklink luister nie, maar die ore spits en ook breër luister, op soek na meerdere insette wat kan help met onderskeiding in veranderende tye.

Indien die klem op liefde vir God én liefde vir die naaste ernstig geneem word, dan het Johannes Kerkorrel as gereformeerde kerkorrel se klanke goed gedoen met betrekking tot ’n doelbewuste klem op naasteliefde én kontekstuele betrokkenheid.

Kerkorrels en Ralph Rabie

Neem in hierdie verband byvoorbeeld die klank van kerkorrels ter illustrasie, want ek vermoed ons kan terugkyk na ons geskiedenis met kerkorrels en iets daaruit vir ons huidige situasie leer.

Baie Afrikaanse mense wat die 1980’s en 1990’s in Suid-Afrika beleef het, is in daardie jare aan twee kerkorrels blootgestel. Die een soort kerkorrel was die musiekinstrument wat destyds nog in die meeste kerkruimtes binne die gereformeerde tradisie te vinde was. Die ander kerkorrel was Johannes Kerkorrel en Die Gereformeerde Blues Band.

Terwyl die kerklike kerkorrels lidmate in stampvol kerkgeboue begelei het met liedere soos “Wat ’n vriend het ons in Jesus”, het Johannes Kerkorrel gehore saam met hom “Wat ’n vriend het ons in PW/ Vlok en Heunis en Malan” laat dreunsing.

Gegewe die konteks was albei klanke belangrik, en dalk was Ralph Rabie se musiek gegewe die tydgleuf meer gereformeerd as wat hy ooit sou kon vermoed.

Die geskiedenis het ons geleer om nie oorhaastig te wees om die een kerkorrel as gereformeerd te beskou, en daarom ’n klank waarna geluister moet word, en die ander kerkorrel afskiet as ongereformeerd en dus sonder ’n boodskap vir die NG Kerk nie.

Dalk was méér kerkorrels in ons geskiedenis inderdaad gereformeerd as wat vermoed word.

Wat bedoel ek? Wel, kerkorrels hoort by die erediens, en teoloë soos Dirkie Smit en Elsie McKee wys daarop dat ’n werklik gereformeerde erediens nie in die eerste instansie ’n gebeurtenis is waar die wet of votum of geloofsbelydenis noodwendig voorkom nie, maar dat dit veel eerder ’n gebeurtenis is waartydens die boodskap van die Bybel noukeurig en met onderskeiding in ’n baie spesifieke konteks tot uitdrukking kom. In ’n gereformeerde erediens is daar dus ’n voortgaande gesprek tussen die veranderende leefwêreld en die boodskap van die Bybel.

Ek glo nie howe het orrels nie, maar miskien is die onlangse uitspraak ’n klank waarna met die nodige waardering geluister kan word.

Rol van die liefde

Verder is die verhouding tussen die gebod rakende die liefde vir God en die liefde vir die naaste in ’n gereformeerde erediens ook van groot belang. Hierin geniet die liefde vir God voorrang, maar dit word deur die naasteliefde getoets, aldus McKee in navolging van Johannes Calvyn.

Indien die klem op liefde vir God én liefde vir die naaste ernstig geneem word, dan het Johannes Kerkorrel as gereformeerde kerkorrel se klanke goed gedoen met betrekking tot ’n doelbewuste klem op naasteliefde én kontekstuele betrokkenheid.

Verder is ’n ontleding van die lirieke in die Psalm- en Gesangebundel van ’n paar dekades gelede nie nodig om aan te toon dat daardie lirieke wat deur kerkorrels begelei is inderdaad op Bybelse tekste en teologie gegrond was nie, maar of dit inderdaad destyds altyd gereformeerd was soos Smit daarna verwys, is natuurlik ’n heel ander vraag.

Gee jou hart vir Hillbrow

Hierdie analise kan lank aanhou, maar my vermoede is dat albei K(k)erkorrels se klanke belangrik was om na te luister in die apartheidsjare in die soeke na onderskeiding. Johannes Kerkorrel wou nie lirieke sing wat op die Bybel gegrond was nie, en tog, tóg was dit hy wat gesê het ons moet ons harte en sente en rande vir Hillbrow gee; dit was hy wat ons aangemoedig het om ons televisies waarop ’n lang vinger in die lug vir ons voorgesê het, af te sit; dit was hy wat vir ons daarop gewys het dat ons in ’n donker, donker land woon.

Baie van Kerkorrel se lirieke was in pas met die liefde vir die naaste, gerig op geregtigheid en eintlik ’n (Bybels) profetiese stem gerig op ’n baie spesifieke Suid-Afrikaanse konteks.

Ek glo nie howe het orrels nie, maar miskien is die onlangse uitspraak ’n klank waarna met die nodige waardering geluister kan word. Bykans soos die Psalmdigter wat God se openbaring in sowel die Skrif as die natuur sien, kan daar orrelklanke binne én buite die kerk wees waarna geluister moet word.

Howe se uitsprake het vir seker nie die laaste sê in kerke en in die teologie nie, maar dit is dalk gerade om daardie klanke nie alte maklik as van geen belang vir die gereformeerde teologie af te maak nie.

Koos Kombuis

Orrelmusiek uit die 1980’s het menige kerkganger diep ontroer, maar daardie kerkorrels was nie die enigstes om dit reg te kry nie.

Johannes Kerkorrel se optredes beskryf Koos Kombuis in godsdienstige taal: “Nadat jy ’n Kerkorrel-show gesien het, wil jy opstaan en getel word. Jy voel die gety van hoop nader stu, jy kan jouself verbeel die nuwe Suid-Afrika wat besig is om gebore te word, is onafwendbaar.”

Vir ’n kerk om apartheid te groet, was inderdaad ’n bekeringsoomblik, so was oortuigings rakende besnydenis, die eet van varkvleis, slawerny en die vrou in die amp waarvan daar afgesien is, insgelyks bekeringsoomblikke. Tydens talle van hierdie bekeringsoomblikke was dit nie net die klanke van kerkorrels binne erediensruimtes wat die bekerings gedien het nie, daar was telkens meerdere Kerkorrels wat ’n betekenisvolle bydrae gelewer het.

Om weer vir Kombuis oor Johannes Kerkorrel aan te haal: “Hy verkondig die waarheid hard en duidelik, hy verkondig die evangelie waarna die jeug smagtend op soek was tot nou toe.”

Klanke van waarheid

Dit is drie dekades later, en steeds smag mense na die waarheid en soek hulle leiding, hoewel dit nuwe waarhede is vir nuwe tye.

En die klanke wat help om onderskeidend met die waarheid om te gaan, kom van binne die kerk se ruimtes, maar nie net van daar nie.

Howe se uitsprake het vir seker nie die laaste sê in kerke en in die teologie nie, maar dit is dalk gerade om daardie klanke nie alte maklik as van geen belang vir die gereformeerde teologie af te maak nie.

In die gees van die belangrike gay-debat, en met waardering vir ál die “kerkorrels” in ons land, mag die orrels Sondag lidmate begelei sodat almal hul selfoon se liggies sal aanskakel, hul arms in die lug steek, en wiegend saam kan sing:

En gee, gee, gee. Gee, gee, gee

Jou sente jou drome, jou toekoms vol gate

Gee jou hart vir Hillbrow

Ja, gee jou hart vir Hillbrow

Komaan, gee jou hart vir Hillbrow.

  • Wepener is ’n skrywer en akademikus.
Meer oor:  Ng Kerk  |  Cas Wepener  |  Menings  |  Godsdiens  |  Gays  |  Kerk  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.