Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die ou garde gaan probeer vasklou in 2019

Verskeie verkiesings vind in 2019 in Afrika plaas, maar dit lyk asof die ouergeslag-leiers vasbeslote is om aan hul mag te probeer vasklou.

Minstens 11 presidentsverkiesings gaan in 2019 in Afrika plaasvind. Dit sluit in verkiesings in Afrika se swaargewiglande Nigerië, Algerië en natuurlik Suid-Afrika.

Liesl Louw-Vaudran

Saam met Egipte en Marokko is dit die vasteland se sterkste ekonomieë.

Tog is dit allesbehalwe bemoedigend om te sien dat leiers in verskeie Afrikalande beplan om aan mag vas te klou, al is hulle oud en sieklik. ’n Mens wonder wat motiveer hulle.

In Nigerië mik die 75-jarige Muhammadu Buhari na ’n tweede termyn van vier jaar as leier. Dít nadat hy reeds in die 1980’s as militêre leier aan die bewind was. Buhari is ooglopend siek en bring elke jaar etlike maande in Londen deur vir mediese behandeling.

Onlangs het ’n video selfs die ronde gedoen waarin vertel word dat hy dood is en deur ’n Soedanse dubbelganger vervang is.

Hy het dit ontken en het in November teruggekeer na Nigerië om sy veldtog vir die verkiesing op 16 Februarie van stapel te stuur.

’n Mens kan die Nigeriërs nie juis daarvoor verwyt dat hulle sulke vreemde stories glo nie. In 2009 het oudpres. Umaru Yar’Adua skielik siek geword en gesterf nadat hy maande lank in groot geheimhouding in Saoedi-Arabië was.

In Algerië is die situasie nog erger. Pres. Abdelaziz Bouteflika (81) is al die afgelope 19 jaar aan die bewind, maar is reeds sedert 2005 in en uit die hos­pitaal, meestal in Frankryk. Sedert die begin van 2016 is hy in ’n rolstoel en verskyn omtrent nooit in die openbaar nie.

’n Mens het simpatie met die leiers wat midde-in hul termyne ook teen siekte moet stry. Die vraag is net: Waarom erken hulle nie hul beperkings en gee iemand anders ’n kans nie?

Hy word nou deur sy party en binnekring ondersteun as kandidaat vir ’n vyfde termyn in die verkiesing in April.

’n Mens het simpatie met die leiers wat midde-in hul termyne ook teen siekte moet stry. Die vraag is net: Waarom erken hulle nie hul beperkings en gee iemand anders ’n kans nie?

Buhari kom te staan teen Atiku Abubakar, ’n voormalige visepresident. Daar is ook 76 ander kandidate.

As volgende jaar se verkiesing in Nigerië regverdig verloop en die speelveld is gelyk, kan Buhari dalk wel uitgestem word. Die afgelope twee dekades het Nigerië, ondanks sy redelik chaotiese instellings en gebrek aan dienslewering, dit wel reggekry om relatief demokratiese verkiesings te hou. Met byna 200 miljoen inwoners is dit ’n prestasie wat nie te versmaai is nie.

Algerië, die vasteland se ander groot olieprodusent, kan ’n mens nie werklik as ’n demokrasie beskryf nie, aangesien die weermag in ’n groot mate die septer swaai en Bouteflika aan die bewind hou.

Buhari en Bouteflika is nie uitsonderings wanneer dit kom by die vasklou aan mag ondanks siekte en ouderdom nie.

Die gemene deler onder hierdie Afrikaleiers is dat hul siekte altyd in groot geheimhouding gehul word.

Op die oomblik is pres. Ali Bongo van Gaboen byvoorbeeld al weke lank in Marokko aan die aansterk nadat hy glo einde Oktober ook ’n beroerte gehad het.

Groot geheimsinnigheid omhul Bongo se siekte en selfs die Afrika-Unie het kommer uitgespreek oor die leiersva­kuum in Gaboen.

Hoe kan Afrika-regerings die lewensgehalte van hul inwoners verbeter as diegene aan die bewind aan die stuur bly selfs al lê hulle in die siekeboeg? ’n Hele nuwe geslag jong Afrikane staan reg om oor te neem as hulle net die kans gegun word.

  • Louw-Vaudran is ’n konsultant van die Instituut vir Sekerheidstudies.
Meer oor:  Afrika  |  2019  |  Verkiesings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.