Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die ouderdom het darem sy voordele
Prof. Hennie van Coller

Ai, die ouderdom het darem voordele: M. gee pensioenarisse op Dinsdag ’n flinke afslag; by L. kan hulle ’n goedkoper ontbyt aanskaf; flieke kos 20% minder en oorsee kan jy alle museums besoek met ’n kwaai korting.

Só ongeveer verloop ’n gesprek tussen afgetredenes gewoonlik voordat die klagtes uitgeryg en die name van medisyne uitgeruil word.

My aweregse en uitgesproke ousus sit onlangs by ’n leeskring waar die dames – almal ewe bejaard – die lof van die ouderdom besing. ’n Mens verkry wysheid met die grysheid; jou geduld raak met rasse skrede beter en jy vergewe selfs misstappe wat jou vroeër sou ontstel het.

Eintlik leef jy in vrede met jouself én die wêreld – “nirvana!”, is die een se ekstatiese kommentaar.

Dis toe dat my ousus lostrek: “Man, dis nou sommer tjol. Ek begryp net so min van die wêreld en al sy knoeiers as toe ek jonk was, ek raak steeds ongeduldig met swak diens en korruptes wat nooit voor stok gekry word nie en vergeef g’n misstappe nie – as ek hulle ten minste kan onthou. Want ‘vergeet’ is die groot sonde met ouer word: van motorsleutels tot name. En wie van julle se pille kos nie al meer as jou skoonheidsmiddele nie?”

Daarmee verander die deuntjie plotseling, vertel sy.

Byna so vinnig soos die ou s’n wat luidkeels langs sy vrou se graf uitgeskreeu het “Neem my saam” en toe sonder komplimente die graf infoeter.

Die Nirvana-een sit die jeremiades in met haar klagtes oor haar smaak wat verander en verswak het.

Die Nirvana-een sit die jeremiades in met haar klagtes oor haar smaak wat verander en verswak het.

Die ander kla weer oor haar stywe nek.

Nóg een oor die artritis in haar hande wat haar verhinder om haar 2 karaat-diamantring te dra . . .

Maar die beste, volgens my suster, was die vertelling van ’n ouma wat haar kleinkind na ’n kindervertoning by Aardklop geneem het. In die gehoor was byna net soveel grootouers as kinders. Pouse moes die seuntjie dringend ’n draai gaan loop en te oordeel na sy nat broek was hy nie betyds nie. Op Ouma se versigtige navraag sê hy: “Maar Ouma, ek kon nie ’n beurt kry nie. Die helfte van die ooms kon nie begin nie en die ander helfte kon nie klaarkry nie!”

In sy stuk oor die ouderdom, “De senectute”, skryf die Romeinse wysgeer Cicero oor die ouderdom. Hoewel hy sy gedagtes in die mond van ’n ander lê, is dit eintlik sy eie sienings wat hy weergee.

Hoewel jou liggaam swakker word, vergoed die groeiende wysheid daarvoor, betoog hy. Boonop is dit strooi dat die geheue swakker word: Watter mens vergeet waar jy ’n skat begrawe het?

Kom ons eindig met Cicero se opbeurende spreuk: “Daar is geen mens wat só oud is dat hy dink dat hy nie nog ’n jaar sal leef nie!”

Meer oor:  Hennie Van Coller  |  Voordele  |  Klagtes  |  Bejaardes  |  Menings  |  Ouderdom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.